Avonturier Kobus Robbertze se ongelooflike lugreis al om SA se kus vir liefdadigheid

‘n Plaaslike avonturier, Kobus Robbertze, het die tog van sy lewe aangedurf – in die lugruim al om Suid-Afrika se kuslyn.

0
427

‘n Plaaslike avonturier, Kobus Robbertze, het die tog van sy lewe aangedurf – in die lugruim
al om Suid-Afrika se kuslyn.

Daar is min avonture wat buite bereik is vir iemand so waaghalsig en groothartig soos Kobus (46). Alles wat hy aanpak vir liefdadigheid is gevaarlik, buitengewoon en net eenvoudig vreesaanjaend. ‘n Paar jaar gelede het hy stoksielalleen met sy rugsak en tent op sy rug ‘n fietstoer rondom Lesotho aangedurf ter fondsinsameling en bewusmaking van Kindersorg.

Hierdie keer het Kobus besluit om vir sowat 2 500 km langs die land se kuslyn te vlieg met ‘n paramotor. ‘n Paramotor is amper soos ‘n paraglider, net met ‘n petrolaangedrewe motor. Sy tog van Alexanderbaai tot by Kosibaai het ‘n maand geduur. Hy het dit saam met ‘n goeie vriend, Joe Pelser, aangepak. “Vlieg is iets wat ek nog altyd wou doen. Ek het onmiddellik na my Lesotho-fietstoer geweet dat ek volgende ‘n vliegavontuur gaan aanpak.”

Kobus het ‘n kursus voltooi om sy paramotor-vlieglisensie te bekom. Met bittermin ervaring en vliegtyd agter die blad, het Kobus en Joe die avontuur van ‘n leeftyd aangepak. “Die grootste uitdaging van ‘n vliegtog soos hierdie, is dat jy geheel en al uitgelewer is aan die elemente. Daar is só baie goed waaroor jy nie beheer het nie, soos sterk wind, reën, motorprobleme… Jy kan hoog in die lug vlieg bo-oor ‘n gebied waar jy nie kan land nie en ‘n ‘motor-out’ beleef. Wat maak jy dan? Waar land jy?” En so wrintie – dit het tweemaal met Kobus gebeur. Sy motor het bo in die lug gestol, en hy moes noodlandings uitvoer. Gelukkig was dit op gebiede waar hy kon land, maar die wete in sy agterkop dat hy konstant uitgelewer was aan genade, het soms aan sy senuwees geknaag.

Om met ‘n paramotor op jou rug op te styg, is geen maklike taak nie. “Jy moet voluit hardloop en die motor met jou hand aan ‘n beheerpunt beheer. Wanneer jy genoeg weerstand onder die valskerm het, kan jy opstyg. Dis nie grappies om so vinnig met ‘n 30 kg-motor op jou rug te hardloop nie…”

“Die grootste uitdaging van ‘n vliegtog soos hierdie, is dat jy geheel en al
uitgelewer is aan die elemente.”

Die skoonheid wat Kobus vanuit die lug ervaar het, is vir hom moeilik om in woorde om te sit. “’n Mens het ‘n 270° onbelemmerde uitsig vanuit die lug. Die gevoel is onbeskryflik. ‘n Mens voel vry, gelukkig en vol vrede bo in die lug.” Een van die mooiste vlugte wat Kobus
beleef het, was toe hy oor Knysna en Muisbosskerm aan die Weskus kon afkyk en die skoonheid van die natuur ervaar. Oral waar hulle geland het, het hulle eet en slaapplek gesoek – en gekry. “Dit is seker iets wat my die meeste verbaas het…mense se absolute vriendelikheid en gasvryheid. In die Weskus is ons veral met ope arms en harte ontvang. Ons het by vreemde mense in hul huise oornag en blywende vriendskappe gesmee.”

Kobus en sy vliegvennoot, Joe

Om ‘n toer van hierdie aard te voltooi, was vir Kobus baie meer geestelik uitputtend as sy Lesotho-fietstoer. “Dit was minder hard op my liggaam, maar my kop moes sterk wees. ‘n Mens vrees mos maklik dat iets kan skeefloop – daar is tye wat jy weet as jy hier val, gaan jy dit nie maak nie.” Na aanleiding van Fly for a Dream het Kobus saam met vliegvriende die Bloemfontein Paramotor Club gestig, waar daar gereeld gevlieg en gekuier word.

Fly for a Dream kan steeds ondersteun word om sodoende fondse in te samel vir die Reach for a Dream-stigting. Hierdie organisasie maak kinders met lewensbedreigende siektes se drome waar, maar hulle het jou hulp nodig.

Vir meer besonderhede, besoek reachforadream.org.za.

Hieronder is beeldmateriaal van Kobus se vlug tussen Umkomaas en Karridene.

Advertisement