Waarna ons uitsien by vanjaar se Vrystaat Kunstefees

0
516

Die Vrystaat Kunstefees lê om die draai (1 – 7 Julie 2019), en ons is gerat vir die grootste kuns-, musiek- en kultuurfees in ons streek! Hier is ‘n paar vertonings waarna ons spesifiek uitsien. Maak ook seker jy gaan loer na die fees se volledige program hier, sodat jy weet vir watter tipe kunsontploffing jy jouself inlaat…

Vrywees

Vrywees is terug vir die vyfde jaar. Die program bevat talentvolle dansers, digters, modelle en sangers wat belowe om die feesgangers te bederf met gehalte vermaak gedurende die Vrystaats Kunstefees 2019. Hierdie inisiatief staan onder leiding van Zane Muller en sy kreatiewe span, wat al hierdie talentvolle kunstenaars uitnooi vir ope oudisies waar hulle die talentvolle kandidate identifiseer en hul werk verder ontwikkel om te verseker dat hulle die aandag van die gehoor op enige tyd, enige plek op die feesgronde vang. Vanjaar brei ons die uitnodiging uit deur skole oor die Vrystaat te betrek om ook aan hierdie program
deel te neem. Die program beloof om ‘n wonderlike 6-dae vertoonkas met feesgangers te deel met ontwikkeling as ons hoofdoel. Indien u in so vertoning gedurende die fees raak loop, deel dit met ons op enige sosiale media platvorms deur die hutsmerk #Vrywees te gebruik, en wees deel van die pret.

 

Kamphoer – die verhaal van Susan Nell

Gegrond op die ongelooflike, ware verhaal, navorsing en gelyknamige blitsverkoper wat die wêreld aangegryp het. Sandra Prinsloo ontgin hierdie tekste om die ontwykende Susan Nell tasbaar teenwoordig te maak. Gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) word Nell in die Winburg-konsentrasiekamp verkrag en vir dood gelaat. Dis egter net die begin van haar pad wat, op ’n ander kontinent in ’n later era, deur toeval weer met dié van haar verkragter kruis.

Dit is vanjaar die 120e gedenkjaar van die Anglo-Boereoorlog, wat die produksie doelbewus huldig. ‘n Verkwerking van die topverkoperdebuutroman, Kamphoer, deur Bloemfonteiner Francois Smit (benoem vir Jan Rabie- Rapportprys, ATKV-toekenning en ’n Sunday Times Literêrtoekenning). Moontlik gemaak deur KunsStig.

R140, Hoërskool Jim Fouché, 2 Jul, 19:30, 3 Jul 20:00, 4 Jul 20:30, 5 Jul 10:00, 7 Jul 10:00

 

Die voordele van eierwit

As daar nou één dag is wat susters Ans en Elna nie tyd het om in ’n hysbak vas te sit nie, dan is dit vandag. Daar is ’n duisend dinge… Mans en kinders, specials by Checkers, vraestelle om te merk, huise om te verkoop, Ans se obsessie met eierwit (verlede maand was dit Borrie), wat om vanaand gaar te maak (Dieter is mos nou ’n vegan) en Pa se woonstel wat opgepak moet word. Susters wat baie praat, praat die oppervlak so toe dat dit wat regtig pla selde bespreek word. Maar wat gebeur as alles vir ’n oomblik stop?

Marion Holm & Margit Meyer-Rödenbeck

R150, Wynand Mouton, 3 Jul, 20:30, 4 Jul 14:00 & 16:30, 6 Jul 20:00, 7 Jul 10:00

 

Katvoet

Die klassieke Pulitzerprys-drama Cat on a Hot Tin Roof kry hier nuwe lewe in ’n vars  verwerking. Nico Scheepers het die toneel verskuif na ’n wildplaas in die Limpopo-bosveld. Dis hier waar die Mouton-gesin bymekaarkom vir hul patriarg se 65ste verjaarsdag. Boela, die oudste seun, drink homself dood om die spoke agter sy oë stil te maak en Maggie, sy eensame katvoet-vrou, doen alles in haar vermoë om die liefde te oorleef. Watter familiedramas wag nog om uitgepluis te word?

Marius Weyers, Marion Holm, Tinarie Van Wyk Loots, Laudo Liebenberg, Albert Pretorius,
Martelize Kolver, Geon Nel, Mia Dippenaar, Inge Dippenaar, Nina Dippenaar

R150, Wynand Mouton, 2 Jul, 14:00, 5 Jul 15:00 & 19:00, 6 Jul 9:30, 7 Jul 19:00

 

Sê Groete vir Ma

In hierdie eenmanvertoning vertolk Hannes van Wyk die rol van Reghard Roberts van Aswegen wie se hele lewe, menswees en bestaan om die een vrou draai wat hom die lewe ingebring het. Dis ‘n tipe knop-in-die-keel, tong-in-die-kies kykie na die dinge waarmee die meeste mense hul kan vereenselwig, en uiteindelik die een ding wat ons almal bind: die blêddie getik-tok van die klok wat niemand die aardigheid van oudword spaar nie.

R150, kykNET-Scaena 4 Jul 16:30, 5 Jul 13:30, 6 Julie 20:00

 

All the way from Bloem – Al die pad van Bloem

’n Skouspel van musiek en liriek uit die pen van begaafde musikante en vervaardigers uit die hart van die Vrystaat. Die grootste gemeenskapsprojek van sy soort, reg op jou voorstoep! Sangers en musikante van regoor die sentrale Mangaung-streek gaan uithaal en
wys wat in Bloem se kunstenaars steek! Alle ouderdomme welkom.

Verskeie, met orkes: Anton Esterhuyse, Hanno Mol, Bernard Mol, John Smith, Justin Coetzee, Rudi Van Niekerk

R90, Kopanong Kovsiekerk, 2 Jul, 19:30

 

The Parlotones

The veelbekroonde, platinumstatus-verkopers, The Parlotones, word vanjaar mondig!  Sedert hul ontstaan in 1998 het hulle diep spore in SA se musiektoneel getrap. Hul nuuste album, China, is nou beskikbaar.

R150, Kopanong Kovsiekerk, 3 Jul, 20:30

 

Betwixt & Between Free State Art Collective

Ons leef in ’n “tussen-in” toestand, asof op die drumpel van iets nuuts. Beweging, of vooruitgang na ’n diskoers van diverse nadenke (met woorde soos “transdissiplinêr”, “transkultureel”, “transgender”) oorheers die analitiese landskap. Die kunstenaar begeer
om daardie “tussen-in” plek te betree – tussen die beperkings van voorskrif, wet,  gewoonte, verpligting en verwagting. Die dubbelsinnige drempel waarna antropoloog Victor Turner as die liminale verwys, is nóg die een, nóg die ander. Kunstenaars van Free State Art Collective reageer op hul liminale ervarings wat spruit van lewe in die Vrystaat – ’n dikwels verrassende en verwarrende streek wat beide topografies en metafories as nóg hier, nóg daar beskou word.

18:30, Scaena foyer. 1 – 7 Jul, 09:00 – 18:00

 

Alle kaartjies is vooraf te koop by Computicket.

Onthou:

Veilige parkering op die UV-kampus: Hekgeld: R45 per kar per dag (jy kan soveel keer in- en uitgaan as wat jy wil), R95 per kar vir die week – kan vooraf by Computicket gekoop word, of by die hek. Opbrengs vir die PIKO-projek.

Advertisement