Bloem-mamma skryf: ‘n Nuwe tuiste in Aussieland

0
1126

Leoni le Roux, ‘n oud-Bloemfonteiner, het ná haar jare in die Kaap besluit om saam met haar man en twee seuntjies die groot stap te neem na ‘n splinternuwe lewe in Aussieland. Sy neem ons saam op haar reis.

Die idee het oorspronklik by ‘n gesellige familiebraai ontstaan. Die gesprek het gegaan oor die toestand van ons land en ook die toekoms van die kinders. Behalwe vir die goeie statistieke van Australië en weer, het ons geen ander verwysing gehad nie. Ons het eintlik heel blind in dit ingegaan, niemand van ons was al ooit voorheen hier nie. My suster en haar gesin het in 2017 met hul planne begin om Australië toe te emigreer. Ons het gesien hoe uitvoerbaar die proses eintlik kan wees. Moeilik, maar moontlik. Ons het in Junie 2017 met die proses begin. Die visumaansoek-proses was die heel moeilikste ding wat ek nog ooit moes deurmaak. Dis duur, baie duur, en die risiko’s wat mens neem is soos dié van iemand wat geen verantwoordelikhede het nie. Dis senutergend.

Ons is al vir die afgelope paar maande in Lismore, New South Wales. Die visum waarmee ons hier mag wees, stipuleer dat ons permanent kan bly, maar vir eers vir twee jaar in ‘n sekere staat. Ons het New South Wales gekry op grond van my man se werk en vaardigheidskode. Hy werk nou as a ouditeur vir een van Australië se groot Rekeningkunde en Finansiële maatskappye. Lismore is ongelooflik mooi en groen oral waar jy kyk. Hier staan ‘n massiewe mangoboom in my agtertuin – vrugtebome is volop hier. Hier is ook baie reënwoude en natuurroetes om te volg.

Die lewe in Australië is rustig. Baie baie rustiger as waaraan ons gewoond was in Suid-Afrika. In Suid-Afrika moes ek en my man albei voltyds werk om die pot aan die kook te hou. In Australië kom ons uit op net my man se salaris. Ek is tans by die huis saam my seuns totdat ek hulle binnekort weer in ‘n skooltjie kan plaas. Alles hier gaan oor kwaliteit. Hier spandeer mense geld op vakansies, kampeer, lekker kos… buitelewe-gesentreerd, en nie op karre en huise nie. Ons is bitter gelukkig hier.

Ek mis biltong die heel meeste. Ek moes baie meer daarvan geëet het in Suid-Afrika, dis eintlik so goedkoop daar! Ek mis ook die kassiere by ‘n supermark wat jou sakkies pak. In Australië doen jy dit self, en dis nogal ‘n kuns om alles weer gou genoeg in jou trollie te kry want die persoon agter die kasregister is ongelooflik vinnig. Jy scan en betaal ook alles self by die winkels hier. My eerste paar besoeke aan ‘n winkel was nogal stresvol!

Klein kindertjies pas eintlik baie vinnig aan. Ek dink ‘n mens moenie te hard wees op hulle nie – veral oor die kwessie van ‘n skielike taalverandering. Dis belangrik dat hulle eers in hul moedertaal gevestig is voordat hulle ‘n tweede taal aanleer. Dan kom dit sommer vinnig. Vir eers praat ons nog Afrikaans met ons kinders (ouderdomme drie en vier), maar stel hulle wel bloot aan Engelse woorde en kort frases.

Ons het al vriende gemaak – Suid-Afrikaners is oral! Hier is so baie, ‘n mens sal nooit eensaam kan voel tussen hulle en  jou nuwe Aussie-vriende nie. Ek vind die Australiërs baie vriendelik en maklik om mee te praat; hulle is mense sonder enige aansitterigheid. As jy oop is om nuwe mense te leer ken, sal jy vriende maak by jou werk, die kinders se skole, en winkels.

Dit was soms moeilik om positief te bly tydens die emigrasieproses. Bid, bid, en nogmaals bid. En dan nóg ‘n bietjie bid. In my opinie is dit geloof wat jou deurkry, want mens val plat met tye. Wanneer ek negatief geraak het, het ek nuus gekyk en myself daaraan herinner aan waarom ons dit doen. Ons het ook baie YouTube-video’s gekyk oor alles wat Australië bied – die mooi en lekker dinge waarna mens kan uitsien en waarmee jy jou droom kan vashou.

Mammas, wees geduldig met jouself, jou man en jou kinders. Dis vir julle almal moeilik – vir elkeen op sy eie manier. Probeer om deur alles steeds die lekker raak te sien. Moenie so behep raak met die reuseproses dat die lewe vir jou te donker word nie. Hou jou oog op die prys, altyd.

My gunstelingdinge in Aus:

  • Die parke. Die openbare parke is ongelooflik. Dis groot, die grasperke is netjies, daar is tafels en stoele, gasbraaiers en ongelooflike speelrame vir kinders.
  • Aldi se weeklikse “Special buys”. Ek kan nie genoeg kry nie. Ek is elke Woensdag daar as die nuwe spesiale aanbiedinge uit is. Dis ‘n baie lekker supermark, bekostigbaar, met winskope van enigiets, van onderklere to ski-gear.
  • Die booms voordat jy by die mall inry. Dit gee geen kaartjie nie. Dis alles elektronies. Die boks skandeer jou nommerplaat en as jy weer uitry, bereken dit jou fooi en dan tap jy jou bankkaart net daar teen die boks. Jy klim glad nie uit nie, en daar is geen kaartjies of betaalpunte nie.
Advertisement