Beatus Genuine Leather is werklik ‘n sak vol seëninge

0
1038

‘n Sak vol seëninge

Om met leer, naald en gare te werk, is terapie vir onderwysstudent Nadia Gouws. Haar besigheid, Beatus Genuine Leather, is werklik geseënd.

Leerhandsakke het ’n geskiedenis om van generasie tot generasie deel te wees van ‘n vrou se uitrusting. Jou ouma het een gehad, jou ma het een, en nou sal jy ook jou eie handgemaakte Beatus-leerhandsak kan aanskaf. Nadia was nog baie jonk toe sy vir die eerste keer kennis gemaak het met ‘n leerhandsak. Haar ouer broer, wat nou in die Kaap woon, het eendag vir haar ‘n klein handsakkie gekoop. Toe sy ouer word, wou sy graag in ‘n groter handsak belê, maar wat vir haar mooi was, was onbekostigbaar, en wat bekostigbaar was, was nie vir haar mooi nie. Nadia besluit toe om haar ma se hulp in te roep om ‘n handsak te maak. Die twee gaan koop toe ‘n vel leer en ontwerp ‘n handsak vir elkeen van hulle. Die foto van die handsakke, wat haar ma toe op Facebook geplaas het,
het dadelik kommentaar ontlok van mense wat navraag gedoen het oor dié unieke handsakke. En so het die besgheid, Beatus, ontstaan. Nadia vertel dat die naam, Beatus, in Italiaans geseënd beteken. Sy glo vas dat God die besigheid van die begin af geseën het en wil baie graag hê dat elke person wat ‘n Beatus-produk koop, ook werklik geseënd sal wees. As onderwysstudent wat sielkunde en gebaretaal as ekstra vakke neem, het Nadia
‘n groot passie om met gestremde mense te werk. Die Engelse beskrywing, “they are not disabled, they are differently abled”, is vir haar waaroor dit gaan. Nadia se liefde vir gestremdes het ontwikkel in die tyd wat sy met haar oupa op die plaas deurgebring het. Hy was weens ‘n beroerte nie in staat om te praat nie. Volgens Nadia was die “gesprekke” en tyd saam met haar oupa die beste wat sy ooit met hom gehad het. Sy is van mening dat Beatus so geseënd is omdat sy gebruik maak van gestremde mense om die leersakke aanmekaar te sit. Sy glo daar is heeltemal te min werksgeleenthede vir gestremdes,
daarom bied sy dié wonderlike geleentheid vir hulle aan.

Beatus het twee gestremde mense permanent in diens. Elke handsak wat ontwerp word, kry sy eie unieke identiteitsnommer om dit ekstra spesiaal te maak. Daar is ‘n groot verskeidenheid Beatus-ontwerpe waaruit gekies kan word, maar jy het ook die geleentheid om jou eie Beatushandsak te ontwerp aangesien jy die styl, kleur en binnelyn kan kies om by jou smaak te pas. Nadia se ideaal is om nog werksgeleenthede deur Beatus te skep, spesifiek vir gestremdes. Sy wil aan die samelewing wys dat gestremdes nie minderwaardig is nie, maar beskik oor baie potensiaal en talent wat wag om ontsluit te word. Sy sou ook graag haar handsakke werêldwyd wou uitvoer en gereeld nuwe produkte beskikbaar stel. Vir dié energieke jong dame wink ‘n suksesvolle toekoms. Haar wens is om in die volgende paar jaar ‘n sukses van Beatus maak en die besigheid tot sy volle potensiaal te groei. Vir haar is die wete dat Beatus nie moontlik kon wees sonder God se seën nie, die grootste aansporing.

Advertisement