Neil Nachtrein is ‘n boerseun met ‘n buitengewone liefde vir woorde en musiek

0
1364

Neil Nachtrein is ‘n boerseun met ‘n buitengewone liefde vir woorde en musiek. Wanneer hy sing, word mense aangeraak en vóél dit wat uit sy binneste kom.

Die plattelandse stilte, vlaktes en natuur was nog altyd ‘n groot bron van inspirasie vir Neil se musiek. Hy het in 2005 begin musiek skryf tydens sy verblyf op ‘n plaas in die
mooie Fouriesburg. By sy woonstel op hierdie plaas het gereeld ‘n trein verbygery en die tipe nostalgie wat dit gewek het, het gelei tot sy verhoognaam, Nachtrein. Sedertdien
het sy talente gegroei en het hy nog nie teruggekyk nie. Twee albums later inspireer Neil steeds met sy lirieke en sielvolle musiek, en groei sy repertoire geweldig. Neil het grootgeword op Odendaalsrus by sy ouers, albei onderwysers, en twee susters. Na skool is hy Engeland toe om daar te werk vir ‘n paar maande, en dit is ook daar wat hy begin tuis voel het op die verhoog. “Ek het gereeld by open mic aande opgetree, en dit is daar
waar ek my vrees vir sing voor mense oorkom het. Ek is baie gemaklik op die verhoog en geniet elke oomblik daarvan,” vertel Neil. Terug op eie bodem het Neil Geologie
by Kovsies begin studeer. Kort voor lank het hy egter voor ‘n kruispad te staan gekom waar hy moes kies tussen sy studies (en loopbaan wat sou volg), en musiek. “Die keuse was maklik. My liefde vir musiek was nog altyd groter as alles.” Hy het baie optredes
op Fouriesburg en Bethlehem gedoen, waar sy musiekstyl as’t ware volwasse geword het. Hy kan verskeie instrumente speel, insluitend kitaar, mandolien en bekfluitjie. In die tyd toe hy in Fouriesburg gebly en gereeld opgetree het, het Neil sy aandag toegespits op liedjieskryf. Hy het ook vir tien jaar lank as blokman in sy ouers se slaghuis gewerk. “Ek
is dankbaar dat ek darem nog al my vingers het, sodat ek musiek kan maak,” skerts Neil.
Sy eerste album, Gisters en Blisters, het in 2011 die lig gesien. Hiermee het hy die land alleen plat getoer, totdat hy aan die einde van 2014 die gewilde Afrikaanse sanger, Jan Blohm, ontmoet het. Neil het ‘n Jan Blohm-optrede geopen, en dié twee het kort daarna
spontaan saam begin musiekmaak. Hulle het formeel as Blomtrein begin optree en toer, en dit is ook by Jan wat Neil baie waardevolle lesse geleer het oor die bedryf. “Dit was ‘n wonderlike tyd in my musiekloopbaan. Ons musiekstyl het goed bymekaar gepas en ons het talle suksesvolle shows gehad regoor die land.” Aan die einde van 2017 kom die Blomtrein-sege tot ‘n einde, en gaan Neil weer volstoom voort met sy sololoopbaan.
In 2016 het Neil met sy sielsgenoot, Netske, getrou. Sy werk as ‘n arbeidsterapeut in Bloemfontein. Hulle geniet dit om soveel as moontlik saam te toer met sy musiek. “Sy is vir seker my grootste ondersteuner. Ons maak ‘n baie goeie span,” gesels Neil. Get It vra uit oor Neil se unieke musiekstyl, en waar sy inspirasie vandaan kom. “Dis moeilik om te
beskryf. My musiek spruit uit gevoelens van nostalgie en heimwee. Dis asof die musiek reeds daar is. Ek is slegs ‘n voertuig waardeur die musiek sy bestemming bereik. My musiek bevat stories. Ander mense s’n, maar ook my eie. Uit stille observasie kom my
woorde en note.” Afrikaans is die taal waarin sy hart praat, en waarin sy musiek uiting kry. “Ek sal nooit wegbeweeg van my moedertaal af nie. Hoe druk ‘n mens jouself en dit
wat binne-in jou hart aangaan, uit in ‘n ander taal?” Uit die aard van Neil se geaardheid en musiekstyl, hou hy veral van klein, intieme optredes, soos huiskonserte. “Ek fokus nogal sterk daarop. Vir Desember gaan ek die Kaap vol toer met hoofsaaklik huiskonserte.”
Om op die pad te wees, hou vir Neil ‘n sekere betowering in. “Dis asof my musiek groei op die pad. Jy word dinge wys deur verskeie plekke te besoek en vir uiteenlopende
gehore te sing.” Wanneer Neil homself nie met musiek besig hou nie, geniet hy en Netske gehaltetyd en die buitelewe. Hy maak ook lieflike leerprodukte vir sy pa se leerbesigheid,
JAC Handgemaakte Leerwerk. (Gaan loer gerus na hul pragtige Facebookblad). Wat die toekoms betref, wil Neil aanhou musiekmaak, oorspronklike liedjies skryf en nuwe klanke aan sy lojale én nuwe ondersteuners bied. Neil se splinternuwe album, Op plekke waar ons eens was, word op 21 November by die Naval Hill Planetarium bekendgestel. Dié CD is
by Crooked House deur Pieter Greyling en Jean Fourie vervaardig. Die album is op alle digitale platforms beskikbaar, en kan direk by Neil aangekoop word. Stuur ‘n e-pos na [email protected].

Teks: LANI FOUCHÉ

Advertisement