Wanneer eensaamheid jou enigste vriend is

0
410
Girl sitting curled up on the floor

Die konsep van eensaamheid raak vining ‘n ernstige kwessie in ons moderne samelewing, en word selfs na verwys as die plaag van die 21ste eeu. Dit word ook dikwels in vergelyking gestel met ander wêreldwye sosiale pandemies, soos vetsug, dwelmmisbruik en rook. Maar wat is eensaamheid werklik, en hoe slaan ‘n mens dit hok?

Tot onlangs is eensaamheid slegs as a ‘n simptoom van ander sielkundige kwessies, soos depressie en angs, bestudeer. Maar, danksy ontluikende navorsing moedig kenners aan dat eensaamheid eerder as ‘n konsep op sy eie bestudeer moet word, eerder as bloot ‘n simptoom van ‘n spesifieke patologie. Hierdie navorsing dui aan dat eensaamheid ‘n ernstige kwessie met unieke gevolge is, sowel as dat alle mense eensaamheid in ‘n stadium
van hul lewens ervaar.

Die wetenskap agter eensaamheid lê in die feit dat die mens ‘n sosiale wesen is wat ‘n evolusionêre behoefte ervaar om sosiaal ingesluit te voel en aan ‘n groep te behoort. Daarom word eensaamheid ervaar wanneer tekortkominge in hierdie sosiale verhoudings ontstaan. Aangesien die gemiddelde persoon ongeveer 80% van hul tyd in die geselskap van ander spandeer, is dit dus geen verrassing nie dat wanneer iets kortkom binne
hierdie geselskap, mense sosiale pyn in die vorm van eensaamheid ervaar.

Tog is dit is belangrik om nie eensaamheid met alleenwees te verwar nie. Inteendeel, ‘n individu kan selfs tussen mense eensaamheid beleef, omdat eensaamheid nie afhanklik is van die grootte van die sosiale groep nie, maar eerder die subjektiewe persepsie van alleen voel. Die gevoel van eensaamheid gaan dus gepaard met gevoelens van verwerping,
hopeloosheid, melankolie en self-isolasie wanneer sosiale verhoudings nie ‘n individu se subjektiewe sosiale behoeftes vervul nie.

Die gevolge van eensaamheid op mense van alle ouderdomme is ook rede vir kommer. Navorsing toon byvoorbeeld dat individue wat eensaam is oor die algemeen meer geneig is om hul geld roekeloos spandeer en betrokke te raak in self-vernietigende sosiale gedrag, soos dwelmmisbruik en misdaad. In jonger individue is eensaamheid dikwels een van die redes vir laer akademiese prestasies en hoër uitsaksyfers in skole en universiteite.
Eensaamheid hou ook verband met fikiese kwale, soos hoë bloeddruk, kardiovaskulêre risikofaktore, en selfs die bevordering van Alzheimer se siekte.

Maar daar is ‘n lig aan die einde van ‘n eensame tonnel. Sluit aan by ‘n gemeenskap waar jy ander help – jy sal sodoende voel jy dien ‘n goeie doel, en sal ook nuwe mense ontmoet. Kry ‘n stokperdje waaroor jy passievol is en spring pens en pootjies daarin. Begin ‘n dankbaarheids-joernaal en skryf elke dag iets daarin waarvoor jy dankbaar is – studies het al bewys dat mense wat meer ingestel is op dankbaarheid, ook dikwels minder eensaam voel. En, wanneer die eensaamheid te veel raak, praat met iemand wat nie net na
die woorde uit jou mond sal luister nie, maar ook die waarhede in jou hart.

Text: Izelle van Tonder

Advertisement