‘STRIKDASMAN’ trek nuwe baadjie aan

0
347

Die evolusionêre reis wat ek geneem het, het my deur baie leerskole gevat en ongelooflike ondervinding laat opdoen.

Met jare se ervaring in die gasvryheidsbedryf en die beplanning van top-troues en geleenthede regoor die land, het die Bloemfonteinste strikdasdraer, Ulrich Venter, onlangs een van sy grootste besluite geneem – om op sy eie voete te staan en die gasvryheidsonderneming, Bowtie Evolution, te begin. Pierce van Heerden het met hom gesels.

Die jong entrepreneur, Ulrich Venter, is in Sasolburg gebore van waar sy ouers later na Johannesburg verhuis. Die gesin keer terug na Bloemfontein waar Ulrich van sy graad 1-jaar af grootword en sy skoolgaan. 31 jaar later woon hy steeds hier.

Ulrich is welbekend vir sy strikdas-voorkoms en sedert kinderdae was dit deel van sy uitrusting. Sy vroegste herinneringe aan hierdie passie vir ‘n strikdas is hoedat hy elke keer ‘n ander kleur strikdas wóú dra. Vir hom is daar niks anders nie en selfs vandag nog oorweeg hy nie eens ‘n ander das nie; vir hom is dit iets wat in sy kas bly hang, veral as hy terugdink hoedat so ‘n “normale das” eenkeer byna aan die brand geslaan het toe hy oor ‘n kersvlam moes buk.

Om iets te skep met jou eie hande gee soveel waardering en werktevredenheid.

Die idee van ‘n nuwe besigheid, Bowtie Evolution, is in sy hart gebore nadat hy `n leemte in die mark raakgesien het en besef het dat hy meer vir sy kliënte en ook die gemeenskap wil en kan bied. Wanneer hy dit verduidelik, sê Ulrich, “Bowtie Evolution is die evolusie van myself in die industrie en my persoonlike lewe. Die evolusionêre reis wat ek geneem het, het my deur baie leerskole gevat en ongelooflike ondervinding laat opdoen.”

Dit is dus maklik te verstane dat Bowtie Evolution geskep is om Ulrich se persoonlike reis en passie vir die geleentheidsbedryf te weerspieël. Die onderneming spesialiseer in dekor, ontwerp en styl van troues en ander geleenthede, met ‘n unieke benadering tot tendense en tydlose elegansie, ‘n unieke, oorspronklike en eiesoortige troubeplanningsdiens.

Ulrich het in 2004 die gasvryheidsbedryf betree as ‘n venue-koördineerder en hom opgewerk tot venue-bestuurder. “Ek het baie ervaring opgedoen deur gesellighede, troues, ens., van begin tot einde te reël. Van 2009 tot 2010 het ek vir FIFA gewerk en was ek deel van die plaaslike reëlingskomitee vir die 2010-FIFA-wêreldbeker. My passie vir die gasvryheidsbedryf het my weer na ‘n top-venue gelok in 2011 en ek was gelukkig om daar verskeie suksesvolle geleenthede te reël en terselfdertyd my passie vir troues en onhtlae uit te leef.”

Wanneer Ulrich ‘n blaaskans het en ‘n tydjie vir homself kan inruim in sy besige skedule, hou hy hom besig met beeldhou en pottebakkery. “Binnenshuise ontwerp is ook ‘n groot liefde en vir my persoonlik `n ideale tydverdryf. Om iets te skep met jou eie hande gee soveel waardering en werktevredenheid.”

Op Get It se vraag wat die tot standkoming van sy eie besigheid vir hom beteken, antwoord Ulrich dat dit vir hom ‘n groot mylpaal was, iets wat vir hom nuwe uitdagings gebring het, spesifiek in die grendeltydperk, toe baie mense gedwing is om nuwe uitdagings te aanvaar. Hy glimlag wanneer hy erken dat “opwindende reise” ongelukkig vir eers op die lange duur bly totdat normalitit terugkeer. Vir meer oor Ulrich Venter, kan hy gevolg word op Facebook en Instagram @Bowtie Evolution.

Teks: PIERCE VAN HEERDEN

Advertisement