Boerdery haar lewensaar

0
193

Om as vrou in die landboubedryf in te stap, was vir Lizemarie Flynn (41) die taaiste pad wat sy moes stap van die eerste dag af agter die toonbank. Nou, 10 jaar later, is hierdie sakevrou mal oor haar werk en is elke dag vir haar ‘n nuwe belewenis.

Gebore op ‘n reëndag in Brandfort in die Vrystaat in 1979, kry Lizemarie haar Sotho-naam, Pulanie. Dis dan ook soos baie van Bloem Veeprodukte se klante haar ken. Die entoesiastiese Lizemarie se doelwit is om elke dag haar skoene vol te staan sodat sy kan help om mense se vrae te beantwoord en oplossings te bied wanneer dit by die behandeling van hul diere kom. Sy wil hulle help om self na hul diere om te sien omdat, volgens haar, die liewe Vader “ons op hierdie aarde geplaas het om sy skepping te versorg en na die diere wat deur Hom geskape is, te kyk”. Sy wil seker maak dat elke persoon wat iets by Bloem Veeprodukte koop, duidelik verstaan hoe om die produk te gebruik sodat daar geen skade aan Sy skepping aangerig word nie.

Lizemarie is nie net ‘n suksesvolle sakevrou nie, maar ook eggenoot en mamma van die drie en ‘n halfj arige Connor, wat ‘n groot rol speel in haar suksesverhaal. “Ek glo elke kind volg in sy of haar ouers se voetspore, en Connor weet ek is baie erg daaroor dat diere nie moet seerkry of swaarkry nie. As ek my seuntjie se liefde vir diere sien, weet ek dat ons op die regte pad is. Ek hoop hy het eendag dieselfde passie as wat ek het vir diere.”

Op die vraag hoe haar lewe verander het ná haar eerste kind, vertel sy dat álles vir haar verander het. Haar persoonlikheid, haar kliëntediens en haar raad aan mense met wie sy te doen kry. “Ek borsvoed steeds, so as ek hoor van ‘n ooi met ‘n blou uier of ‘n koei met mastitis, dink ek onmiddellik aan mammas wat borsvoed en waardeur ons lywe moet gaan. As ek dit dan op my manier aan ‘n boer verduidelik, kan ek sommer deur die glimlag op sy gesig sien hy verstaan.”

Lizemarie sê min mense weet dat sy ‘n naguil is. En dan gaan dinge soms vinnig om soggens betyds reg te wees vir werk. “Ek lê in die oggende eers by my seuntjie en gesels en dan jaag ek om klaar te maak vir werk. Soms maak ek dit net-net… of nie,” glimlag sy.

Elke dag is vir haar opwindend. Sy leer iets nuuts by haar winkel of by haar eie kind, en ontmoet elke dag nuwe mense. “Ons begin die oggend met gebed by die winkel en dan begin ons dag. Oproepe, klante help, bestellings plaas, voorraad uitpak en regpak (daar is altyd iets om reg te pak). As ons ons oë uitvee, is dit 4 uur en begin ons die dag se laaste dinge afhandel.” Sy kom teen 6 uur se kant by die huis, en dan wag daar gewoonlik vir haar ‘n heerlike bord kos waarmee haar man haar bederf, “met die mooiste glimlag wat enige mamma nodig het ná ‘n lang dag”.

Wanneer Get It by Lizemarie wil weet waarom sy Bloem Veeprodukte begin het, vertel sy dat sy iets wou doen om toe te sien na diere se welstand. ‘n One-stop shop wat voorsien aan alle klante en terselfdertyd ‘n persoonlike verhouding met hulle bou. “Bloem Veeprodukte was die perfekte plek; dis sentraal en hier is so baie mense wat mekaar ken, dit voel soms of die stad se mense, saam met die van omliggende dorpe, soos een groot familie is.”

Text by Sazly Hartzenberg

Advertisement