Nul-vermorsing Wikus Botha se passie

0
102

Wikus Botha van Osem Shop, die zero waste-winkel by CoffeeTalks Café in Rayton, Bloemfontein, is passievol oor nul-afval. Hier praat hy met Get It oor sy hartsprojek…  

CoffeeTalks is ’n mengelmoes van… verskeie kreatiewe insette, harde werk en ’n organiese uitbreidingsproses wat getrou is aan ’n persoonlike leefstylfilosofie en visie. CoffeeTalks Café het begin as ’n koffiewinkel en het mettertyd uitgebrei tot ’n Mediterreense restaurant, bakkery en deli.

Osem Shop is ’n… zero waste-winkel wat ongeprosesseerde kosse, grane, bone en rys, asook vars vrugte en groente, speserye, organiese skoonmaakmiddels, plaaslike produkte en meer verkoop. Die idee van die winkel is dat jy as ’n klant jou eie houers en verpakking bring en dan per gewig betaal vir die produk wat jy wil koop. Sodoende spaar jy op onnodige enkelgebruik-plastiek en -verpakking, maar jy kan ook soveel of so min as wat jy wil koop.

Osem het begin as… deel van CoffeeTalks. By CoffeeTalks het ons verskeie eco ethics aanvaar as deel van ons leefstylfilosofie, waarvan een ‘regverdige handel en zero waste’ is. Dus het ons bewus geraak van die afval wat ons genereer met die aankope vir die restaurant en het ons toe begin grootmaat koop, asook direk van verskaffers, om met minder enkelgebruik-verpakkings te sit en om persoonlike verhoudings te bou met al ons verskaffers om produk- en handelsintegriteit te verseker. Ek het toe besluit om van die produkte in kleiner maat sonder verpakking te verkoop om te verseker dat die produkte vars bly deur dit vinniger te verkoop. Net na die eerste grendeltyd toe handelswinkels kon oopmaak, het ons besluit om die winkel ook oop te maak. In Desember verlede jaar het ek besluit om die winkel ’n afsonderlike identiteit te gee, en so het Osem Shop ontstaan. Ek het Osem Shop begin vir ander wat ook ’n passie het om meer omgewingsvriendelik en verantwoordelik te koop.

Die woord ‘osem’ is… ’n Hebreeuse woord met verskeie betekenisse, waarvan een ‘sterkte’ is. Ek het dié woord gekies gebaseer op ’n ander word, ‘asam’, wat dieselfde wortel deel en wat ‘stoorkamer’ beteken. Ek het ‘osem’ ook gekies, want dit klink soos awesome en dit sê lekker! Vir ons beteken dit dus: Daar is ‘sterkte’ of krag in gemeenskap, wanneer ons saam werk aan ’n gemeenskaplike doel, en in dié geval om ons impak op die planeet te verlig.

Die ooraanbod van geprosesseerde kos het daartoe gelei dat… ons nie meer ingestel is om seisoenale kos te eet nie omdat ons te alle tye basies alles kan kry. Ons het lui geraak om te dink oor wat ons eet, en dit is gerieflik om net ons mae vol te maak sonder om twee keer daaroor te dink. Ons het gewoond geraak om te kry wat ons wil hê, en dus ook voedselsekuriteit as vanselfsprekend begin aanvaar.

My toekomsplanne sluit in… om Osem verder uit te brei en te verfyn om soveel klante moontlik te help om ook hul strewe na ’n meer omgewingsvriendelike en verantwoordelike manier van aankoop moontlik te maak. Verder wil ek dit deel maak van die permakultuur-stelsel wat ons ook so stuk-stuk begin implementeer het by CoffeeTalks.

Die vraag na ’n gesonder leefstyl in Bloemfontein groei… want die gesprekke nou in vergelyking met toe ons CoffeeTalks oopgemaak het, is meer gefokus op gesondheid en welstand. Al meer mense vra waar die produkte wat hulle koop, vandaan kom en hoe dit behandel word, wat in die kos is, asook hoe om ’n gesonder leefstyl te handhaaf.

Ek het nog altyd ’n belangstelling in gesonde kos gehad… maar in alle eerlikheid nie veel daaraan gedoen nie, want ek het nog altyd gesond gevoel, ongeag hoe ek geëet het. So ek het nooit gedink dit is nodig om te verander nie. In my universiteitsdae het ek die verband begin raaksien tussen my leefstyl, energievlakke en kognitiewe vermoë. Maar dit het eers regtig by my ingesink nadat ek my eerste permakultuur-kursus gedoen het omdat ek gesien het hoe alles in die natuur in samehorigheid werk om lewe te onderhou. Ek het toe besef dat om gesond te eet nie net gaan oor my persoonlike gesondheid nie, maar ook oor die omgewing.

Besoek die Osem Zero Waste Shop by CoffeeTalks Cafe at Ray Champion-straat 6, Rayton, Bloemfontein, of besoek hulle webtuiste by www.osemshop.co.za Vind hulle ook op Facebook en Instagram.

Advertisement