Bloemfontein se binnenshuiseplant-ghoeroe

0
403

Tydens ’n lui naweekdrentel by Reizis Square, vang ’n klein winkeltjie propvol van die mooiste huisplante dadelik die oog. Binne is dit ’n groen oase van plante wat pronk in kleurvolle of ongewone houers. Die vrou agter die winkel met die parmantige naam – Bluebell – is Anin Smit. Hier praat sy oor haar liefde vir plante en gee raad oor hoe om huisplante aan die lewe te hou… 

Ek het my grootmenslewe… op ’n plaas teen die Vaalrivier as ’n boervrou deurgebring. Ná my man se dood het ek en my dogters Bloemfontein toe getrek.

Bluebell is… my happy place. Ek’t my winkel begin omdat ek gevoel het ek is op ’n plek in my lewe waar ek nou aan myself kan werk en dink. Oorspronklik was Bluebell ’n bloemiste maar ek het vinnig die geleentheid gesien om eerder te doen wat ek nou doen. Ná tien maande kan ek sê, ‘Ek is Bluebell en ons spesialiseer in binnenshuise plante, dekoratiewe potte en mandjies.’

Plante in en om die huis gee…’n sin van verantwoordelikheid en tevredenheid. As jy ’n plant aan die lewe kan hou, het jy sukses bereik en almal strewe na een of ander vorm van sukses.

Binnenshuise plante is goed vir jou… want hulle maak die lug skoon, sommige meer as ander. Om ’n plant te versorg en te sien groei is goed vir ’n mens se gemoed. Groen is ook die kleur van groei en lewe… plante is ’n bewys daarvan.

As jy ’n vertrek wil ophelder en opvrolik… maak gebruik van plante. Die onderbewussyn absorbeer die energie wat plante afgee, so dit maak happy hormones!

My belangstelling in plante het ontstaan toe… ons op die plaas gebly het. Elke plaashuis het mos maar ’n groot tuin. Hier in Bloemfontein het ek nie ’n groot tuin nie, dus het my liefde vir binnenshuise plante gegroei.

My toekomsplanne sluit in… om my eie reeks potplanthouers te maak – dit sluit in leer-, lap- en tou-houers. Persoonlik wil ek ’n goeie nalatenskap vir my dogters los; nie finansieel nie maar as ’n ma, mens en vrou.

Die belangrikste lesse wat die lewe my tot dusver geleer het, is… bly altyd nederig, moet nooit gaan lê nie en vertrou op God.

Anin se topwenke om jou binnenshuise plante gesond te hou:

  • Moenie huisplante oorwater nie – een keer per week is gewoonlik genoeg. Onthou ook om die grond net klam te hou – kurkdroog of sopnat veroorsaak probleme. Gelukkig wys meeste plante as hulle dors is – dikwels sal hulle blare hang.
  • Die meeste binnenshuise plante soek nie direkte son nie. Hulle soek wel helder lig. Sommige plante, soos die Vredeslelie en Skoonma se Tong, vaar goed in ruimtes met minder lig.
  • Plante wat goed doen in minder lig en hou van humiditeit floreer in ’n badkamer of ’n kombuis. Spuit hulle gereeld nat met ’n spuitbotteltjie.
  • Gee jou plante een keer ’n maand ’n knippie Engelse sout vir voeding.
  • As ’n plant goed doen op ’n plek, moet dit nie skuif nie.
  • Vee gereeld die blare van jou huisplante met ’n klam lappie af.

Anin se keuse van die ses beste binnenshuise plante:

  • Vredeslelie (Peace Lilly) – die huisplant vereis min lig en groei mooi in ’n badkamer
  • Skoonma se Tong (Sansevieria trifasciata Laurentii) – dit vereis baie min water en sal ook in ’n kamer met min lig groei
  • Varings –‘n badkamer is die perfekte plek vir varings; hulle groei welig in ‘n spasie met hoë humiditeit
  • ZZ-plant (Zamioculcas zamiifolia) – hulle is droogtebestand, kan in donkerder vertrekke groei, en kan ’n bietjie ‘verwaarlosing’ oorleef
  • Vioolblaarvy (Ficus lyrata of Fiddle Leaf Fig Tree) – dié gewilde plant, wat in ’n paar jaar in ’n groot huisboom kan groei, is ’n pragtige keuse. Dit het egter ’n vertrek met helder lig en gereelde water nodig. As jy voel dat jou leefkamer ’n bietjie drama nodig het, is dié boom die antwoord.
  • Anthurium – die aantreklike plant is beskikbaar is verskeie kleure. Hulle kan groei in verskillende ligtoestande, maar sal beter aard in helder, indirekte sonlig.

Vind Bluebell by Winkel 9A, Reizis Square, Raymond Mhlaba-straat, Bloemfontein en op Facebook by Bluebells.   

Advertisement