‘n Bewaker vir die stemloses

0
276

Van slange vang, letterlik, tot meer as 300 kilometer ry om ‘n dier in nood te help, is alles in ‘n dag se werk vir Reinet Meyer, senior inspekteur van die Bloemfontein DBV. Van haar grootwordjare op Brandfort onthou Reinet veral hoe sy tyd deurgebring het in die natuur op haar oom se plaas.

Haar reis met diere het in 1990 begin toe haar vakansiewerk later in 32 jaar diens by die DBV verander het. Na hoërskool het Reinet in Pretoria Inligtingstegnologie (IT) gaan studeer, waar sy vir haarself ‘n Desember-vakansiepos by die DBV losgeslaan het. “My vakansiewerk het in my loopbaan verander. Ek dink nie IT sou vir my gewerk het nie, want ek is ‘n buitelugmens wat lief is vir interaksie met mense,” sê Reinet.

Sy is ’n laatlam met drie broers wat haar altyd “baie bederf” het. Vakansietye het Reinet en haar boeties by hul oom en tannie op die plaas gaan kuier, wat vir haar ʼn hoogtepunt was. Sy vertel hoe sy nooit die reuk van die mielielande wat pas geoes is, sal vergeet nie. “Dit was uit die boeke en ek kon vir niks beter gevra het nie.”

Haar meer as drie dekades by die DBV was nie altyd maklik nie, maar Reinet sê sy sal dit enige tyd weer doen. “Ek sal geen ander werk wil doen nie. Ek dink as jy eers ’n passie het vir diere en welsyn en as jou hart daar is, sal jy altyd lief wees daarvoor. Maar dit is nie altyd ’n maklike pad nie. Dieremishandeling is baie sleg en dit is deel van ons lewe en ons werk. Dit is egter ook bevredigend om die diere en mense te kan help. Mense speel nogal ʼn belangrike rol in ons werk. Met die regte inligting kan jy hulle wys dat jy jou dier se lewe beter kan maak en terselfdertyd jou eie lewe kan verbeter,” sê Reinet.

Reinet en haar span is bekend vir hul gemeenskapswerk en opvoeding. “As ons in nedersettings werk, word ons gegroet deur nuuskierige kinders wat bereid is om ’n ding of twee te leer.”

In haar beroep “beplan ʼn mens nooit nie”. Sy vertel hoe haar lewe heeltemal onvoorspelbaar is met onverwagte oproepe wat van haar vereis om skielik honderde kilometers te ry. “Jou familie by die huis weet glad nie waar jy is nie, wanneer jy gaan terug kom en hoe die dinge gaan werk nie,” vertel sy.

’n Mens moet dapper wees om ’n inspekteur te wees omdat jy met enige dier onder die son werk, van slange, katte en honde tot beeste. “Ons werk baie met dieremishandeling, so ons sien maar die slegste deel van alles. Ons werk die afgelope tyd baie met veldbrande en plaasdiere. Verlede jaar moes ons help op baie plase. Ons is hulle enigste hoop en ons moet daar wees vir hulle.”

“Die moeilikste deel van my werk is dikwels die publiek. Dit is maklik om die diere te help, maar agter elke dier is ‘n eienaar. In die meeste gevalle moet ons hulle opvoed of selfs hof toe vat vir dieremishandeling. Dit is nie altyd maklik nie, want ons moet op hoogte bly van die wette,” sê Reinet. Sy het 165 hofsake teen dieremishandelaars gewen en bestuur ‘n baie effektiewe DBV.

“Wat my hart bly maak, is om te sien hoe enige dier vry is. Selfs ‘n rondloperdier wat ons in ‘n gelukkige en veilige huis kan plaas, maak my hart bly. Ná ‘n maand doen ons gewoonlik ‘n ondersoek om te kyk hoe dinge vorder en as ons hulle gelukkig en gesond sien, plaas dit ‘n groot glimlag op ons gesigte!”

Wanneer sy ‘n bietjie tyd vir haarself het, geniet Reinet dit om te stap of om net op ‘n klip in die natuur te sit. “Die Here het vir ons so ‘n pragtige natuur geskep, selfs ‘n klein veldblommetjie is vir my die mooiste ding.”

Hierdie maand van liefde is die perfekte tyd om na alle diere om te sien, nie net na jou eie nie. Dit is ook ‘n tyd om meer verdraagsaam teenoor diere te wees. “As jy byvoorbeeld ‘free range’-eiers koop, beteken dit dat daar ʼn groter vraag na vrylopende hoenders is. Dis iets kleins wat ʼn groot verskil aan diere se lewe maak,” sê Reinet.

TEXT: Pierce van Heerden

Advertisement