Geliefde SA Country-Sangeres, Chereé, se nuwe album is hier!

0
315

Nadat sy vir amper tien jaar tjoepstil was, is Suid-Afrika se goue Country-ster, Chereé, uiteindelik terug met haar langverwagte album, WILDE WATERS, wat nie net die wag werd was nie, maar ook beloof om haar vorige suksesse te oortref.

Die album het pas die rak getref en die eerste enkelsnit, Praat, kan reeds op talle radiostasies landswyd gehoor word. Alhoewel WILDE WATER hoofsaaklik ’n Country-aanslag het, is daar verskeie popliedjies ingesluit om iets vir elke oor en smaak in te bied. Die album bestaan uit 13 snitte (Chereé is darem nie bygelowig nie en meen dat dertien haar gelukkige nommer is), wat deur die kunstenaar self, asook ander gesoute liedjieskrywers soos Rudi Claase, Vaughan Gardiner, Hugo Ludik, Michael Lindt, Tony Ridgway en Roux Cloete, geskep is.

Chereé en haar span het hulle tyd gevat om die finale produk aanmekaar te sit. “Ons het vyf van die liedjies laas jaar opgeneem, maar besluit om vir die regte snitte te wag om die album te voltooi, eerder as om dit af te jaag. As gevolg hiervan, het alles perfek in plek geval,” verklap sy.

Alhoewel Chereé se gunsteling-liedjie Praat is, meen sy dat twee ander snitte haar ook na aan die hart lê – Gypsies van die Kaap, wat deur haar beste vriend geskryf is, en Uit die Blou, wat deur Vaughan en Nerine Gardiner en Hugo Ludik geskep is.

Die album sluit verder ook ’n duet met haar man, Wynand Strydom, in. Die paartjie is in 2010 getroud. “‘Hierdie Hart van My’ is deur ’n goeie vriend, Tony Ridgway, geskryf. Dit beskryf presies hoe ons oor mekaar voel, want my hart sal altyd Wynand s’n wees. Ek dink ons aanhangers gaan mal wees daaroor.”

Omdat dit ’n rukkie is sedert sy laas ’n album uitgebring het, is die sukses van hierdie een vir Chereé baie belangrik. “Ek het groot geword. Ek weet wat ek wil hê en ek wil hê dat my musiek dit moet weergee. So, ek het besluit dat ek self moes aanklank vind by elke liedjie op die album, want ek glo dat dit die enigste manier is om luisteraars se harte te wen.”

Oor die lang tydperk tussen hierdie album en die vorige een, sê Chereé: “Ek het tien jaar laas ’n album uitgebring. Ek wou eers my kinders grootmaak voordat ek verder op my loopbaan kon fokus. Die tyd is nou reg vir my om weer my hart en musiek met mense te begin deel.”

Die titelsnit word saam met die album as enkelsnit vrygestel en is die perfekte lokaas om aanhangers van dié talentvolle ster mee in te katrol. Wilde Waters is ’n pragtige kommersiële popliedjie, uit die pen van die bekende liedjieskrywer Rudi Claase, met ’n melodie wat strelend is op die oor.

Dit gaan oor mense se daaglikse worsteling om geluk binne ’n verhouding te vind, want partykeer wil iets net nie werk nie al baklei jy hoe hard daarvoor. “Hierdie liedjie is definitief nie ’n weerspieëling van my en Wynand se verhouding nie. Ek besef egter dat nie almal so gelukkig is nie en dat hierdie amper perfekte verhouding nie vir almal beskore is nie. Elkeen van ons is tog maar op soek na daardie spesiale persoon wat ons op alle vlakke kan aanvul,” vertel Chereé. “Die liedjie vertel juis van hierdie struweling tussen wat die hart wil hê en dit wat in realiteit moontlik is. Dit is ’n terugblik op mooi herinneringe wat twee mense gedeel het met die hoop dat dinge sal uitwerk, maar dan skop die besef in dat liefde sy eie gang gaan.”

Volgens die sangeres was sy mal oor die liedjie vandat sy dit die eerste keer gehoor het en meen sy dat die publiek dit baie goed sal ontvang, omdat hulle lekker daarmee sal kan saamsing en aanklank sal vind by die tema. “In ’n kommersiële musiekwêreld is daar sekere liedjies wat goed val op die oor van die publiek en ek dink net sekere liedjieskrywers het die vermoë om hierdie tipe treffers te skryf. Rudi Claase is beslis een van hulle,” sê sy oor dié snit wat haar stem soos ’n handskoen pas.  Die musiekvideo vir hierdie liedjie word ook eersdaags uitgereik.

Die eerste enkelsnit wat sy vrygestel het vanaf die nuwe album, Praat, herinner luisteraars daaraan hoe belangrik dit is om met mekaar te praat en dit is ongelooflik goed ontvang. Dis deur Vaughan Gardiner en Hugo Ludik vervaardig en spog met ’n opgewekte pop-klank, wat jou uitnooi om dit oor-en-oor te luister.

Die snit is deur ’n baie persoonlike gebeurtenis geïnspireer. “’n Vriendin het eenkeer vir my ’n brief getik oor alles wat ek verkeerd doen in ons verhouding. Sy het langs my gesit terwyl ek dit lees en, alhoewel ek dankbaar was oor haar eerlikheid, was ek kwaad omdat sy nooit met my oor hierdie probleme gepraat het nie. Op pad huistoe, het die idee vir die liedjie ontstaan en teen die tyd wat ek by die huis gekom het, was die lirieke byna klaar geskryf.”

Omdat dit die eerste Afrikaanse liedjie is wat Chereé vrygestel het, is sy oneindig trots daarop dat dit reeds op die treffersparades van verskeie radiostasies pronk. “In ‘Praat’ deel ek ’n stuk van my hart en ek dink dit is ook iets wat baie ander mense voel,” verduidelik sy. “Alhoewel die onderwerp universeel is, sal dit iets anders beteken vir elke luisteraar en dis wat ek wil hê – dat dit mense moet laat dink en voel.”

WILDE WATER is die perfekte versamelstuk vir enige musiekliefhebber se versameling en is ’n bewys van hoe baie dié veelsydige kunstenaar oor die jare gegroei het. ’n Mens kan nie anders as om uit te sien na dit waarmee sy aanhangers volgende gaan verras nie.

Advertisement