Zeldine se Sonvanger binnekort op die doek

0
387

In Bronkhorstpruit is ’n spesiale mensie volgeprop met passie en talent. Daar is net geen einde aan Zeldine Fourie se onblusbare liefde vir kuns, woorde en mense nie.

Haar kort-film Sonvanger word binnekort vrygestel. Wat dit so uniek maak is dat Zeldine net 18 jaar oud is.

Sy het vir ons bederf met so ’n klein ietsie oor die film.

“Sonvanger is ’n trotse Afrikaanse film wat afspeel in 1999 waar ’n standvastige gesin waarvan ’n Goddelike gesinsman, ma, ’n dogter wat filosofeer oor die mensdom en ’n seun wat sy diepste hartsake deel, deur verskeie uitdagings gaan in die nuwe Suid-Afrika en sodoende in ’n plakkerskamp beland. Daar word ook lank vergete verhale en stories vertel, rou en eerlik uit die mond van wie die samelewing vergeet het.”

Zeldine se hande het nie een oomblik stilgeraak terwyl sy letterlik soos ’n vulkaan uitgeborrel het oor Sonvanger nie.

Vir haar sê die film, “Moet nie moed opgee nie.”

Tussen die mure in haar droomfabriek, dis wat Zeldine haar ouerhuis noem, het sy 36 karakters geword. In hierdie fabriek het sy 138 bladsye opgedis wat sy op die ou einde na 108 toe verminder het en elke karakter in die storielyn ingeweef.

Dis moeilik om te glo dat iemand iets kan skryf as hy of sy dit nie ervaar het nie. Tog het Zeldine seerkry, lag, trane, verbrande ego’s, uitgebrande drome, hoop en liefde op elke karakter uitgespoeg en hulle lewe gegee.

“Hierdie is nie ’n jammer-kry storie nie. Ons het ons deernis en empatie verloor, tog het ons soveel meer om te bied,” het sy vertel.

“Elke karakter in hierdie film is mense wat ek en jy kon gewees het. Hierdie is mense vir wie die brokkie son die naaste is aan goud waaraan hulle sal kom, vir hulle is die sterre Godgegewe diamante waarmee hulle nie kan smous nie.”

Soos die ‘verkleurmannetjie’ wat sy is, dink Zeldine in kleure en prentjies.

“Hoe kreatief moet die Here nie wees nie. Hoe volmaak is Sy skilderdoek? Ek dink Sy skilderdoek het gaatjies in, met opset natuurlik. Want as ons na die hemel kyk sien ons sterre, maar eintlik is dit Sy lig wat daardeur skyn. Hy wys ons net ’n druppeltjie, kan jy jou indink wat ons eendag gaan sien.”

 

In Zeldine se hande is woorde wat jou teruggryp as jy gly, wat  jou optel as jy val en jou omsirkel as jy struikel. Vir dié talentvolle jong skrywer lê daar nog baie bladsye vol wat sy kan vul met woorde wat die stukkies son in elkeen van ons kan word.

*Izak Davel, Zelda Roelofs, Richard van der Westhuizen, Solomon Cupido, Johan Botha, Lida Botha, Karin van der Laag, Marno van der Merwe, Francois Viljoen en Melinda Brink vertolk van die rolle in Sonvanger.

 

Advertisement