Ons eie Jêm Queens

0
216
Strawberry jam bottle and whole wheat bread are stacked on a black background. Concept of breakfast and healthy food.

Ons het dié maand by vier van ons eie Jêm Queens gaan kuier. Tussen gesels en resepte ruil, lekker proe en met ’n botteltjie konfyt huis toe is waardevolle vriendskappe gesluit en beloftes van nog baie sulke lekker resepte deel gemaak.

Ria se appelkooskonfyt

Ria van Rooyen se appelkooskonfyt is altyd ’n wenner. Sy begin reeds die vorige aand en spoel die appelkose af. Die vrugte word dan oopgebreek en ontpit. Ria weeg dan die vrugte en plaas dit in ’n swaarboomkastrol .

Neem nou gelyke dele vrugte en suiker (2.5kg vrugte en 2.5kg suiker) en gooi een en ’n halwe teelepel sout by.

Geen water word bygevoeg nie. Sit die deksel op en laat staan tot die volgende oggend.

Die volgende oggend sit jy net die stoofplaat aan. Onthou alle suiker moet gesmelt wees voor die konfyt gekook word.

Sodra die suiker gesmelt is kook die mengsel vinnig vir 45 minute en roer kort-kort sodat dit nie aanbrand nie. Pasop vir oorkook.

Toets of die konfyt dik genoeg is deur ’n eetlepel vol in die vrieskas te sit tot dit koud is. As dit koud is kan die dikte maklik bepaal word.

As die borrel bo-op maklik breek, is dit gewoonlik genoeg gekook.

Skep dié heerlike konfyt in warm bottels en verseël.

Dié piesangkonfyt is ’n moet

Elize Prinsloo se piesangkonfyt is net die beste onder die son.

Elize skil ryp, maar steeds ferm piesangs, sny dit in skyfies op en weeg die hoeveelheid skyfies af.

Sy gebruik 500g wit suiker, 100ml suurlemoensap en 1ml sout vir elke 1kg piesangskyfies.

Plaas die piesangskyfies en suiker in ’n dikboomkastrol en sprinkel die suurlemoensap en sout oor elke laag. Laat die mengsel ongeveer ’n uur lank op ’n warm plek staan om stroop te vorm.

Verhit die mengsel stadig tot kookpunt en roer dit aan die begin totdat al die suiker opgelos is. Kook dit matig vinnig tot dik, roer dit af en toe liggies.

Skuim die konfyt af indien nodig.

Bottel dit warm en verseël dadelik.

Vyekonfyt het nog nooit so lekker gesmaak nie

Nesia de Beer se spens kreun onder die ingelegde lekkernye. Sy deel haar fyn ryp vyekonfytresep met ons.

Was en skil die ryp vye dun af en weeg dit. Gebruik 375g suiker vir elke 500g vrugte en 125ml water vir elke 500g suiker.

Sit die vye en suiker in lae in ’n kastrol en voeg water by. Verhit dit stadig en roer net af en toe tot al die suiker opgelos is. Die mengsel moet nie kook voor al die suiker opgelos is nie.

Voeg ’n stuk gekneusde gemmerwortel en 12.5ml suurlemoensap vir elke 500g vrugte by. Kook sonder deksel matig vinnig nadat die suiker opgelos is vir so ongeveer een uur. Bottel die konfyt warm in gesteriliseerde flesse.

Aarbeie is nie net vir nagereg nie

Heleen Ehlers se aarbeikonfyt kan enige tyd met die bestes in die wêreld kompeteer.

Heleen het die resep uit Lekker Resepte vir die Jonger Geslag gemaak en so daarvan gehou dat dit gou ’n gunsteling geword het.

So maak sy dié aarbeikonfyt.

Heleen was en spoel die aarbeie af en sny ook die blaartjies af. Neem dan ’n derde en verpulp saam met een Granny Smit appel. Druk die ander met ’n lepel dat hulle net gekneus is. Weeg en sit vir elke 1.5kg vrugte 1.1kg wit suiker opsy.

Kook alles vir 15min saam met ’n knippie sout, ’n kaneelsokkie en ’n stuk van so 2cm gemmer. Die kaneel en gemmer is opsioneel.

Haal die mengsel van die stoof af. Haal die gemmer en kaneel uit. Meng suiker in en roer tot suiker heeltemal  opgelos is. Voeg dan sap van een middelslag suurlemoen by en sny twee suurlemoen in skywe ook in mengsel. Kook die konfyt ongeveer 20 min lank oor matige hitte sonder ’n deksel en skep skuim af. Roer dit af en toe met ’n houtlepel net op die boom van die kastrol met ‘n syfer agt beweging om te verhoed dat dit aanbrand.

Toets of die konfyt reg is deur ’n bietjie van dit op ’n yskoue piering te skep, as dit met die vinger  gestoot word, moet dit rimpels op die oppervlak vorm. Haal konfyt van plaat af en laat afkoel vir 10min. Bottel en verseël.

Advertisement