Anphia borduur liefde en omgee vir vrouens en kinders

0
144

Die vroue landbou-unie is nie tannies met styfgekrulde hare, voorskote om die lyf besig
om voor die stoof konfyt te kook nie. Inteendeel dié organisasie se vrouens bestaan uit ’n groep dinamiese vrouens wat waarlik ’n verskil in hul gemeenskap maak – nie net plaaslik, maar ook internasionaal.
Ons het by Anphia Grobler gaan inloer. Anphia is onlangs gekies as die area presidente van die Suidelike Area van die Wereldbond van Plattelandse Vroue.

Die Wereldbond van Plattelandse Vroue (WBPV) is ’n internasionale organisasie met ’n ryke geskiedenis van 90 jaar. Een-en-vyftig organisasies in Suid-Afrika, waaronder ook die VLU, is by hierdie wereldorganisasie geaffilieer. Die organisasies is vanuit 87 verskillende lande saamgestel. Hul lidmaatskap staan tans op 10 miljoen en hul doelstelling behels die opheffing van vrouens en kinders en dit vind plaas deur projekte, wat deur donasies deur lede en weldoeners aan die organisasie, gefinansieer word.

Elke drie jaar word ’n wereldkongres gehou waar verskeie sake rakende vroue, gesinne en die omgewing aangespreek word. Die WBPV het ook inspraak by die Verenigde Nasies, en tans is die WBPV besig met internasionale navorsing oor die omstandighede waarin die vrou op die platteland leef.

Dis lekker om te weet dat die leisels van die Suid-Afrikaanse been deur so ’n sterk vrou vasgehou word. Anphia se lys van prestasies in die Vroue Landbou-unie is legio. Sy was voorsitter van die Middelburgstreek van die Transvaalse Vroue Landbou-unie, toe presidente van die VLU Mpumalanga, daarna presidente van die Suid-Afrikaanse Vroue Landbou-unie en het ook gedien op die bestuur van die Wereldbond van Plattelandse Vroue.

Anphia het ons vertel wat sy beoog, “Graag wil ek in Suidelike-Afrika-area die WBPV bemark. Die WBPV is ’n organisasie wat die opheffing van vroue ten doel het, soos ons eie organisasies. Tog is liefdadigheid ’n groot deel van die werk van die WBPV.”

Anphia is baie bekend in Middelburg as ’n dieetkundige. Dan het sy ook ’n groot liefde vir borduurwerk en gee gereeld borduurklasse.

“Ek het op ’n plaas in hierdie omgewing grootgeword en was geseend om universiteit toe te gaan. Daar het ek huishoudkunde studeer en later ’n diploma in dieetkunde gedoen. Na ’n paar jaar in die stad het die rustigheid van die platteland my teruggeroep, en is ek terug na my geboortedorp.”

Anphia is met dr. Andre Grobler getroud en hulle het vier kinders en ook nege kleinkinders. Middelburg en sy omgeemense is onteenseglik in Anphia se kunswerk van die lewe ingeborduur. Deur haar liefde vir mense is sy besig om ’n verskil in duisende vrouens se lewens te maak. Dis haar deernis vir haar medemens wat haar so geliefd maak en ander inspireer om ’n verskil te maak.

Advertisement