Nicquille bak met Hart en Siel

0
158

Nicquille van Graan is net 23 jaar oud, maar dié jong kok sal jou ’n ding of twee agter die kospotte kan wys.

Ons het op ’n stil Sondagoggend saam met Nicquille gaan bak en brou. Om die jong en ywerieg mensie agter die stoof te sien, is omtrent ’n belewenis. So vinnig soos sy eiers klits en meel sif so aanhoudend gesels sy.

In ’n japtrap het sy vir ons die heerlikste Suurlemoen Meringue tert opgetower.

Tussen die gebak en brou het sy vertel dat sy in Middelburg gebore en getoë is.

“Ek het na matriek nie ’n idee gehad wat ek wou doen nie. Al my vriende is universiteit toe en ek kon net nie besluit wat ek vir die res van my lewe wil doen nie.”

Nicquille het toe by ’n plaaslike natuurreservaat gaan werk, maar het gou verveeld geraak met die roetine.

Iemand moes geweet het sy gaan eendag naam maak in die kosbedryf en sy is summier kombuis toe gestuur.

“Ek het niks geweet van kosmaak nie. Ek het nie eers gasvryheidstudies as ’n skoolvak gehad nie. My eerste herinnering van kosmaak was toe ek agt teelepels bakpoeier in my oatskoekie resep gegooi het, in plaas van ’n agtste. Die koekies het oral uitgeborrel. Ek was in die begin maar skepties oor my vaardigheid in die kombuis.”

Maar namate die tyd aangestap het, het Nicquille begin eksperimenteer.

“Ek het na elke probeerslag na die sjef toe gegaan en daar moes geproe word. Op ’n dag is ek ingeroep en daar is vir my gesê ek hoef nooit weer te vra of dit reg is nie, my passie laat my disse werk.”

Na drie jaar het die jong aspirant sjef die rustigheid van Middelburg verruil vir die stadsliggies en by die Chefs Training and Innovation Academy in Pretoria gaan studeer.

Vandag dra sy met trots haar pienk sjefsbaadjie en bak en kook storms los.

Nicquille droom ook baie groot. Sy het gesê sy wil eendag ’n padstal iewers op pad Kaap toe besit waarheen mense van heinde en verre sal stroom om haar gebak te kom koop.

Intussen bak en brou sy tuis.

Ons het haar gevra wat sal sy voorstel vir die perfekte piekniekmandjie, aangesien lente nou in volle swang is.

Hier is haar wenke: Vrugte-sosaties, ’n heerlike slaaitjie wat deur ’n vleisbord gekomplimenteer word, ’n verskeidenheid olywe en kase en natuurlik ’n Mojito of twee.

En toe ons haar vra wat sal sy maak as die lewe ’n paar suurlemoene na haar kant toe gooi, was haar eerste reaksie “Waar is die tequila?”

As jy lus is vir ’n soetigheidjie of twee, skakel Nicquille by 083 659 6792 of besoek haar Facebookblad Hart en Siel Bakkery.

Advertisement