CORNE LOUW SE EERSTE ALBUM BEÏNDRUK MET ’N VARS MODERNE COUNTRY-POP-AANSLAG

0
99

Corne Louw is nie iemand wat musiek op die gewone manier aanpak nie. Sy eerste enkelsnit en ook die titelsnit van sy splinternuwe album, Date night, het vir weke lank in die nommer 1 posisie op trefferparades landswyd gepryk.

Date night, is ’n vars en moderne Country-Popsnit wat lekker is om na te luister en laat mense van regoor die land se voete onwillekeurig jeuk om op die dansvloer uit te kom. Die liedjie, wat deur Corne, Hugo Ludik en Vaughan Gardiner geskryf is, vind aanklank by enigiemand wat in ’n verhouding is en herinner paartjies daaraan om vir mekaar tyd te maak in vandag se gejaagde lewe.

Date night, is ook die titel van sy debuut-album en hy het juis die naam so gekies omdat dit ’n konsep is wat gereeld gebruik word. Die album spog met dertien lekker-luister kuierliedjies in sy kenmerkende moderne Country-Popstyl. Volgens hom, is die album geïnspireer deur sy vrou en kinders en wou hy oor alledaagse gebeurtenisse skryf en ’n storie vertel: “Ek weet dat mense die ‘bokkie-sokkie’ tipe musiek geniet en daar is niks daarmee verkeerd nie. Dis net nie ek nie. Ek wou iets uitbring wat inspireer en wat betekenis het.” Alhoewel die meeste liedjies opgewekte ritmes het, is daar baie emosie in elke snit teenwoordig omdat baie daarvan staaltjies uit sy eie lewe vertel. “Ek hoop dat elkeen wat na die album luister sal kan vereenselwig met die lirieke en dat dit weer vir hulle hoop en moed sal gee vir die toekoms,” sê hy.

Die album kan nou bestel word by www.cornelouw.co.za en sal vanaf 30 Oktober op alle digitale platforms beskikbaar wees.

Kyk die video hier:  https://www.youtube.com/watch?v=4DsxQGPv7Tg

 

Advertisement