VALESKA MULLER SE DEBUUT-ALBUM IS NOU BESKIKBAAR!

0
150

Valeska Muller het oor die jare die kuns bemeester om met haar strelende stem, ritmiese musiekverwerkings en eerlike lirieke diep spore te trap in die harte van luisteraars regoor die land.

Daarom het dié geliefde ster aanhangers behoorlik aan die gons met die vrystelling van haar langverwagte debuut-album, ‘My simfonie’, wat nie net haar stem en talent behoorlik laat skitter nie, maar ook ’n musiekversameling bied wat aan elke smaak sal voldoen.

“Hierdie album is letterlik ‘My simfonie’. ’n Uitgebreide musikale samestelling van my lewe en, natuurlik, my groot liefde vir musiek,” verduidelik sy. “Met dié vrystelling wil ek myself voorstel, grense oorskry en my werk deel met diegene wat my al so lank ondersteun.”

Sy beskryf die genre van haar eerste CD as elektroniese pop-dans-, vermeng met ’n tikkie progressiewe huismusiek. Dit bestaan uit vyftien oorspronklike Afrikaanse snitte en drie Engelse liedjies wat hoofsaaklik deur Valeska en haar vervaardiger – BIGG-T – geskep is. Twee van die liedjies is saam met Sean Butler geskryf en die sangeres meen dat sy haar tyd gevat het om seker te maak dat alles wat opgeneem word uniek en perfek is.

Hierdie albumvrystelling volg kort op die hakke van haar derde enkelsnit, Verlange Van Jou, waarin sy ’n baie persoonlike boodskap deel en waarby gehore van alle ouderdomme aanklank vind. Hierdie treffende oorspronklike snit kan beskryf word as progressiewe huismusiek en her reeds ’n groot opskudding in die mark veroorsaak. Dit sal ook binnekort in Engels versprei word.

#valeskamuller

 

 

Advertisement