PLAASLIKE ROLPRENT, MOFFIE, PALM DRIE BIFA-BENOEMINGS IN

0
70

MOFFIE, die vierde rolprent deur die Suid-Afrikaanse regisseur Oliver Hermanus, het drie nominasies by vanjaar se British Independent Film Awards (BIFA) ingepalm, waaronder Beste Regisseur, Beste Deurbraakvervaardiger (Jack Sidey) en Beste Kinematografie (Jamie D Ramsay).

“Wat ’n lekker manier om van die vliegtuig af te klim. Dis goeie nuus om te hoor dat ons fliek deel gaan wees van die BIFA-toekennings,” meen Hermanus. “Om erkenning te kry is ’n eer en ’n ware mylpaal vir die fliek. Ons het ’n wonderlike span gehad wat hieraan gewerk het, en om op hierdie manier gevier en erken te word, is waarlik ongelooflik.”

Die British Independent Film Awards is deur Elliot Grove en Suzanne Ballantyne gestig in 1998. Hulle was ook die kreatiewe breine agter die Raindance-rolprentfees in 1993. BIFA is ’n viering van die beste, mees innoverende en kreatiewe onafhanklike rolprente en rolprentvervaardigers in die VK. Die toekenningsgeleentheid sal op Sondag, 1 Desember 2019, plaasvind en word aangebied deur die komediant, aktrise en skrywer, Aisling Bea. Besoek https://www.bifa.film/ vir meer inligting.

In September is MOFFIE, wat vervaardig is deur Portobello Productions en Penzance Films, met groot lof ontvang by die filmfees in Venesië, waar dit vir die eerste keer aan die wêreld bekendgestel is. MOFFIE is die tweede film deur Hermanus en slegs die vierde Suid-Afrikaanse film wat in ses-en-sewentig-jaar ’n amptelike uitnodiging na hierdie rolprentfees ontvang het. Dit is gevolg deur nog ’n uitverkoopte vertoning by die Londen-rolprentfees in Oktober, waar dit benoem is vir die Beste Rolprent-toekenning.

MOFFIE, wat van die begin af positief deur die media ontvang is, met Variety wat dit bestempel as ’n “Oliver Hermanus Meesterstuk”, is ook ingesluit by die Thessaloniki Filmfees in Griekeland en die Stockholm Rolprentfees in Skandinawië. Dit sal ook in Skotland, Ierland, Marokko en selfs Estonië vrygestel word, voordat dit op 13 Maart 2020 in plaaslike bioskope te sien sal wees.

“Die fliek is sielvol en emosioneel en ek hoop dat gehore daarmee sal kan vereenselwig. Sommige kykers sal heel moontlik herinner word aan hulle eie tyd in die weermag,” sê Hermanus. “Dit was tot dusver verbasend om te sien hoe die rolprent oud SAW-veterane vir die eerste keer aanmoedig om oor hierdie tydperk in hulle lewens te praat.”

Kai Luke Brummer, Hilton Pelser, Matthew Vey, Stefan Vermaak en Ryan de Villiers kwyt hulle skitterend van hulle taak in hulle onderskeie rolle in die fliek. MOFFIE is vervaardig deur Eric Abraham en Jack Sidey, met Theresa Ryan-van Graan as mede-vervaardiger.

MOFFIE sal op 13 Maart 2020 in plaaslike bioskope begin draai.

Advertisement