RISE IN RED STEL LANGVERWAGTE DEBUUT-ALBUM VRY!

0
74

RISE IN RED het bekendheid verwerf vir hulle inspirerende lirieke en ongelooflike verhoogpersoonlikheid. Vroeër vanjaar, het dié Bloemfonteinse alternatiewe rockgroep aanhangers opnuut beïndruk met die vrystelling van hulle nuutste enkelsnit, In Between The Lines, wat baie goed ontvang is en reeds speeltyd kry op verskeie radiostasies regoor die land.

As gevolg van die lied se kragtige boodskap, is IN BETWEEN THE LINES ook gekies as die titel van die groep se langverwagte album wat pas vrygestel is en beloof om by gehore van alle ouderdomme aanklank te vind.

Net soos die liedjie, fokus die album ook daarop om hoop te bring ten spyte van die chaos wat tans in Suid-Afrika en die wêreld heers. Dit bied nie net ’n moderne benadering tot rockmusiek nie, maar ook ’n versameling van aangrypende klanke, deernisvolle lirieke en hope emosie wat direk met die siel sal praat.

Alhoewel die groep reeds sedert 2017 aan die CD werk, voel hulle dat dit die wag werd was.

Ons het onmiddellik aanklank gevind by ons vervaardiger Stef Myburgh, omdat hy volkome verstaan het watter styl en klank ons vir die album wou hê. Met tye was dit ’n uitdaging om die energievlakke hoog te hou en vir dae aaneen opnames te doen, maar ons het die meeste van elke oomblik gemaak,” meen Reynolds.

 

Die CD spog met elf oorspronklike snitte uit die groep se eie pen. Alhoewel daar ’n groot verskeidenheid ritmes en genres of die album verskyn, werk die liedjiekeuses goed saam om RISE IN RED se musikale veelsydigheid doeltreffend ten toon te stel.

Wanneer jy hulle vra om ’n gunsteling-snit te kies, erken die groep dat daar ’n paar is. “Progression is amper vir ons soos ’n stigtersliedjie en vertel meer oor ons reis, want om dié album ’n realiteit te maak was beslis nie maklik nie,” sê Reynolds. “Ons is ook mal oor IN BETWEEN THE LINES, omdat dit ons moderne styl beklemtoon en ’n lekkerluisterwysie het. Rise Up is egter steeds ons gunsteling-liedjie om lewendig op te voer, omdat dit ’n baie intense energie het. Om Alright se musiekvideo op te neem was hope pret, so dis regtig moeilik vir ons om net een snit uit te sonder,” erken Jayson.

Die groep hoop dat luisteraars die album sal geniet en dat dit vir hulle hoop sal bring. “Lewenservaringe en –vrae word in ons musiek aangespreek, maar die boodskap is ook dat daar altyd ’n oplossing is vir die toekoms,” sê Reynolds.

Die titelsnit, wat geskryf is deur voorsanger Dustin McCrindle, is basies ’n gesprek oor die lewe. “Die lewe het sy groeipyne, seer en ervaringe. Maar daarmee saam, is daar ook hoop en dit is wat ons met hierdie liedjie wil tuisbring. Ten spyte van die lewe se kinkels en pyn, is daar altyd hoop vir die dag van môre. Saam kan ons deur enigiets kom,” verduidelik die hoofkitaarspeler, Jayson Reynolds, oor die boodskap agter hulle nuutste vrystelling.

“Die liedjie verteenwoordig ook waaroor ons, as groep, gaan. Ons wil ’n boodskap van hoop versprei en dit is ook hoekom ons hierdie lied as die titelsnit van ons nuwe album gekies het. Jy moet tussen die lyne lees om regtig te hoor wat ons wil sê,” voeg hy by.

Omdat die enkelsnit ’n moderne energieke wysie en universele boodskap het, val dit lekker op die oor en is dit beslis iets waarby oud en jonk sal aanklank vind.

Die groep het ook onlangs ’n musiekvideo opgeneem en vrygestel, vir In Between The Lines, wat aansluit by die boodskap dat die lewe se struikelblokke met die hulp van vriende oorkom kan word. “Die video begin waar ons saam stap. Soos wat die lewe maar gaan, breek ons soms weg van mekaar af om ons eie pad te volg, maar ons ontmoet weer aan die einde. Die boodskap is dat ons saam die hindernisse van die lewe kan kafdraf.”

Jayson verduidelik verder waar dié konsep vandaan kom en wat dit uniek maak: “Ons kom gereeld bymekaar om beplanning te doen en die idee vir die video is tydens ’n dinkskrumsessie gebore. Ons het elkeen ’n stukkie van die storie geskep en, in samewerking met die videograaf Llewellyn Lloyd van Reblex Photography, na unieke maniere gesoek om die boodskap te benadruk wat ons graag wou oordra. Verder is daar ook van baie interessante skote en hoeke gebruik gemaak om die finale produk ’n regte rolprentgevoel te gee en perfek af te rond.”

Kyk die video hier:  https://www.youtube.com/watch?v=_wjCVw4YLlw

 

Advertisement