Ons is gek oor die liefde en hierdie lekker titels sal beslis jou hart warm laat klop

0
250

Storm vol liefde deur René van Zyl

’n Werksaanbod in Zambië wat vir Lienke Nielsen moes help om te herstel van die nagmerries ná ’n doodservaring tydens ’n sikloon, ontaard in ’n erger storm wat haar van binne af verteer. Sy was nie voorbereid op die verwoestende effek wat die televisieaanbieder, Armand Martinez, op haar hart sou hê nie.

Nie net moet sy voorgee dat sy haar ekstroverte tweelingsuster, Lika, is nie, maar sy moet haarself boonop beskerm teen die kragtige en sjarmante Orkaan Armand. Haar suster het immers die eerste opsie op hom. Lienke besef baie gou dat sy die een is wat met meer stormskade as vroeër gaan wegstap. * Storm vol Liefde is teen R240 by toonaangewende boekwinkels beskikbaar, LAPA Uitgewers. 

 

Hoogsomerliefde deur Marilé Cloete

Roelien en haar broer trek vanaf die stad na ’n Karoodorpie om oor te begin, maar ontmoet heel eerste die ongeskikte buurman, onmoontlik-aantreklike Wynand, en sy kwaai hond, Raka. Om dinge nóg te vererger hou Roelien en Wynand by dieselfde plek skool!

Roelien kan nie vir Wynand verdra nie, maar dit lyk nie of haar hart die memo gekry het nie. Wynand sukkel ook met sy toenemende gevoelens vir die blonde vrou langsaan. Hy weet hy sal dit nie kan verdra as sy uit sy lewe moet glip nie.

Toe die skoolhoof ’n ultimatum aan hom stel, besef Wynand dat hy hom moet regruk. Die vraag is: Het hy nie dalk reeds sy kanse by Roelien verspeel nie? * Hoogsomerliefde is teen R95 by toonaangewende boekwinkels beskikbaar, LAPA Uitgewers. 

 

Lank, donker en dierbaar deur Madelie Human

Suster Jessica Vermaak is gelukkig … Wel, dinge kan seker beter wees. Haar kêrel is ietwat van ’n chauvinis, haar werk kan op die spel wees en haar hart klop darem té vinnig wanneer haar nuwe pasiënt – die verleidelike wildveearts, Herman Schoeman – na haar kyk. Herman word aangeval deur ’n groep moorddadige renosterstropers wat hom steeds jag, en die trauma van die aanval het skade gelos wat hy nie aan enigiemand, veral Jessica, wil erken nie. Hoe kan sy selfs droom om langs ’n man te slaap wie se nagmerries haar in gevaar kan stel? Wanneer Herman haar ’n werk aanbied as sy assistent besef sy gou dat om in die nabyheid van hierdie aantreklike vreemdeling te werk sy eie gevare inhou. As dokter Herman Schoeman haar hart breek sal nie hy óf sy dié tipe besering kan genees nie. *Lank, donker en dierbaar is teen R95 by toonaangewende boekwinkels beskikbaar, LAPA Uitgewers. 

 

Die verkeerde man deur Alexa Steyn

’n Aantreklike vreemdeling red vir Tersia wanneer sy vasgevang is in ’n donderstorm. Daar is dadelik elektrisiteit tussen haar en aantreklike, suksesvolle Braam.

Braam stel duidelik belang in Tersia, maar die mooie, blonde Michelle stel in hóm belang; dit blyk of haar kloue reeds gehaak het. En wat van Len? Haar eks, “die een”, die “regte man”? Hy is ook op vakansie, saam met sy nuwe vrou!

Tersia vlug na Bakenbaai. As Braam regtig vir haar lief is, sal hy mos vir haar kom soek. Maar waar is hy? *Die Verkeerde Man is teen R95 by toonaangewende boekwinkels beskikbaar, LAPA Uitgewers. 

 

Reënboogliefde deur Magda Schmidt

Christi gaan kuier vir haar ouma waar dié op ʼn klein dorpie bly, daar ontmoet sy die besonder aantreklike dorpspredikant, Philip. Hy laat só ’n indruk op haar na ’n paar terloopse kuiers dat sy besef dat sy eintlik baie meer van hom hou as van haar kêrel (en moontlike verloofde). Dus besluit sy sommer om hals-oor-kop ’n onderwyspos op die dorp te aanvaar en daarheen te trek.

Dáár aangekom, besef Christi dat iets nie pluis is nie en dat Philip dalk nie dieselfde voel oor haar as wat sy oor hom voel nie, want selfs ná sy egskeiding bly hy nog steeds weg en kom sien haar nie soos wat sy gehoop het nie. Mettertyd begin dinge regloop vir Christi en Philip, maar ʼn venynige opmerking dreig om hulle weer uitmekaar te skeur.

Christi kan maar net hoop dat ná al die reëndae in hulle verhouding, die son weer sal skyn en die reënboog (soos belowe) sal uitkom, juis omdat Philip die tipe man is wat sal veg vir die vrou wat hy met sy hele hart liefhet. *Reënboogliefde is teen R95 by toonaangewende boekwinkels beskikbaar, LAPA Uitgewers. 

Advertisement