HomeLeisureReviewsBoeke om die liefde aan te vuur

Boeke om die liefde aan te vuur

Sonvanger deur Frenette van Wyk

Narissa is ’n volbloedhippie. Sy is optimisties oor die lewe en sy het ’n wil van haar eie. Sy glo daarin dat ’n mens die lewe moet geniet en oomblikke van blydskap vir jouself moet skep. Sy gaan vir haar die son se lag vang op Springbok. Haar grootste irritasie op twee bene is Franz Lamont, meneer volg-die-regte-pyltjies, baie aantreklik, baie bitter, en hy ry ’n vintage hippie kombi met daisies op die deure soos sy nog altyd wou hê. Hy stem nie saam met haar lewensopvatting nie. Pret en plesier is net vir ’n oomblik, en van min waarde. Werk, reëls nakom en dinge reg doen, is belangriker, en die swaar tye van die lewe weeg ook swaarder. Sonvanger deur Frenette van Wyk is teen R240 by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar, LAPA Uitgewers.

Want hy praat tjoklits deur Elsa Winckler

- Advertisement -

Friede Tredoux het ’n slegte stel met ’n branderplankryer afgetrap. Hy’t nie gewerk nie en het geen toekomsvisie gehad nie. Sy ontmoet vir Matthys Combrink op Philadelphia terwyl sy en Jody by Leah kuier. Hy bak brood by die plaaslike deli. Sy is ’n arbeidsterapeut op George en begin oefen vir ’n marathon. Tot haar verbasing is Matthys een Saterdagoggend ook daar. Daar is beslis allerhande vibrasies wanneer sy naby hom is, maar sien sy kans vir ’n man wat brood bak vir ’n lewe? Want hy praat tjoklits deur Elsa Winckler is teen R95 by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar, Romanza.

 

Die onwillige strooimeisie deur Alma Carstens

Zita vra die onmoontlike van Anja. Om haar strooimeisie te wees is een ding, maar om darem in haar vriendin se afwesigheid vir Alec, Zita se verloofde, te moet help met hulle troureelings, is hopeloos te veel gevra. Want wat Zita nie weet nie, is dat Anja ook haar hart op Alec verloor het. Alec is ’n werkolis wat meeste van sy tyd op kantoor bestee, maar Zita oortuig hom om Anja te help om hulle troue te reël terwyl sy vir nege maande Londen toe gaan. Hy stem teensinnig in, maar sou nooit kon raai tot watter uiteinde hierdie besluit sou lei nie. Die onwillige strooimeisie deur Alma Carstens is teen R95 by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar, Romanza.

Wat jy gee deur Karlien Badenhorst


Mieke Küsler is terug in die Laeveld na drie jaar oorsee. Sy weet dat Migal Roos, haar oud-universiteitsvriend, ’n dokter is in die stad. Gelukkig hoef sy nie bang te wees om hom raak te loop nie. Hy het hulle vriendskap beëindig die aand voor sy op die vliegtuig geklim het met ’n vinnige en hartstogtelike soen. Sy het gehoop hy sal haar vra om by hom te bly, maar sy het nooit weer iets van hom gehoor nie. Die noodlot bring hulle bymekaar in die dokter se spreekkamer. Haar angstigheid om saam met haar kêrel Nederland toe te gaan oor ’n paar dae, raak al hoe meer ondraaglik nou dat sy terug in Suid-Afrika en in Migal se teenwoordigheid is. Wat jy gee deur Karlien Badenhorst is teen R95 by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar, Romanza.

Ter wille van Nina deur Cheryl Rogers

Olivia droom baie aande van ’n sorgsame wonderlike man met blougroen oë. Sy kan die kleur van sy oë in haar drome uitmaak, maar nooit sy gesig nie. Toe haar pad met dié van Zak Brunner kruis, lyk sy oë vir haar só bekend, nes dié in haar drome, maar sy is oortuig Zak kan onmoontlik die man wees van wie sy droom. In haar drome voel sy altyd veilig en gekoester. Sy is nie bang vir die man nie en sy vertrou hom onvoorwaardelik. Maar Zak maak haar benoud en sy vertrou hom nie so ver as wat sy hom kan sien nie. Maar Olivia het ’n sagte plekkie vir Zak se dogtertjie, Nina, en ter wille van Nina begin sy tyd saam met Zak deurdring. Haar opinie oor Zak verander mettertyd, en toe hy haar vra om met hom te trou, sodat hy voogskap oor Nina kan behou, oorweeg sy dit baie sterk. Sy wéét sy is lief vir Nina en sal amper enigiets doen om haar te beskerm, maar is dit genoeg rede om met Zak te trou? Ter wille van Nina deur Cheryl Rogers is teen R95 by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar, Romanza.

- Advertisement -

Must Read