21 vir altyd! Trek jou partytjieskoene aan en staan reg want Sharoney se splinternuwe treffer gaan jou voete laat jeuk.

0
237

Ons het groot nuus vir aanhangers van Sharoney. Die talentvolle ster, met haar borrelende verhoogpersoonliheid en onblusbare energie is terug met die eerste enkelsnit en musiekvideo vanaf haar komende album. En jy kan maar ons woord daarvoor vat, dis iets vir die oog en oor.

Die liedje, 21 Vir Ewig spog met ’n splinternuwe volwasse klank en is ’n unieke Pop-nommertjie, wat hemelsbreed verskil van dít waaraan aanhangers gewoond is.

“Hierdie snit val lekker op die oor en is ’n saamsingtreffer, wat jou voete sal laat jeuk om te dans. Dit is daardie tipe liedjie wat jy orals sal wil luister – in jou motor, by partytjies, om die braaivleisvuur en selfs by die gym en dit gaan verseker maak dat jy vir ewig 21 gaan wil bly,” gesels sy oor dié langverwagte vrystelling.

Dié liedjie, uit die pen van Douvoordag se Jattie de Beer, het ’n baie positiewe boodskap en gaan daaroor dat die menslike gees nooit werklik verouder nie. Dat jy spontaan moet leef en die beste moet maak van elke oomblik, want op die ou einde van die dag is jy net so oud soos wat jy voel.

“Ek onthou my een-en-twintigste so goed soos gister, want ek bestempel dit as die ouderdom waarop jy regtig ’n volwassene word. Dan is jy jonk genoeg om dié tyd van jou lewe te geniet, maar oud genoeg om die herinneringe vir altyd te koester. Soms wens ek dat ek net vir ’n dag die horlosie kon terugdraai om weer so te voel. Toe ek 21 VIR EWIG vir die eerste keer hoor, het ek net geweet dit moet deel wees van my volgende album, want die tema is van toepassing op elkeen van ons… jonk en oud,” deel Sharoney wat baie opgewonde is om haar nuwe musiek met die wêreld te deel.

Fathom Media, saam met wie sy al ’n hele paar projekte aangepak het, was die kreatiewe brein agter die musiekvideo. Die video spog met ’n vars, moderne aanslag en wys vir kykers ’n hele nuwe kant van die sangeres. “Sharoney was nog altyd gewillig om nuwe dinge te probeer en ek glo dat hierdie ’n groot tree vorentoe gaan wees vir haar en haar loopbaan. Hierdie is net die begin,” sê Fathom Media se Jay Loots.

Volgens Sharoney was die doelwit van hierdie video om iets in Afrikaans te doen wat nog nie voorheen gesien is nie. Daarom het hulle besluit op ’n dansmusiekvideo wat voldoen aan internasionale standaarde. “Ons sien nie gereeld Afrikaanse musiekvideos wat maande se oefening, doelgemaakte kledingstukke en choreografie met ander dansers insluit nie, wat hierdie een dus baie uniek maak,” sê Jay.

Sharoney het beslis geen bekendstelling nodig in die Afrikaanse musiekbedryf nie. Oor die afgelope vyf jaar, het sy nie net diep in die harte van musiekliefhebbers kom kruip nie, maar ook twee Ghoema- en Huisgenoot Tempo-benoemde albums en sewe groot radiotreffers uitgereik.

21 Vir Ewig volg op haar vorige gewilde vrystelling, Crush, wat baie goed deur die publiek ontvang is en steeds gereeld oor die radio gehoor kan word. Die musiekvideo het reeds meer as 40 000 trefslae op YouTube gehad en is baie gewild onder die jongklomp.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy baie betrokke by liefdadigheidswerk. Verder is sy ’n gereeld gesig by funksies en feeste regoor die land. Tans is sy hard aan die werk met die opname van haar nuwe album, wat in 2020 vrygestel word, en is sy dankbaar vir elke geleentheid en hoogtepunt in hierdie hoofstuk van haar loopbaan.

Kyk hier na die musiekvideo

Vir meer oor Sharoney volg haar op Facebook, Twitter en Instagram  of besoek haar webtuiste www.sharoney.co.za.

Advertisement