Moet-lees boeke vir die maand van Februarie

0
300

Corali (#3 van die Vywervrou-trilogie) deur Chanette Paul

As jong, uiters begaafde kunstenaar sou Corali feitlik enigiets doen om haar kunstenaarskap voluit te kon uitleef. Daarom sou die kinders wat haar geliefde so graag wou hê hoegenaamd nie in haar lewe ingepas het nie. Haar ambisie en smagting na erkenning laat Corali uiteindelik tot die ondenkbare instem, al kos dit haar die man wat sy liefhet.
Vyf jaar later besef Corali eers hoe duur sy daardie erkenning gekoop het en hoe tydelik en vervlietend roem is. Ná jare in Frankryk en Engeland keer sy terug na Vywerbaai waar sy as kind vakansies deurgebring het. Die eensaamheid knel. Die verbod wat aan haar gestel is, versmoor haar. ’n Swaard hang oor haar kop. Haar familie het haar afgeskryf. Alles wat vir haar betekenisvol was, het sy verloor.
Geleidelik begin die mense uit haar Suid-Afrikaanse verlede egter weer ’n rol in haar lewe speel. Boeta Naude wat vir haar soos ʼn kleinboet is. Leon, die verinneweerde, afgetrede dokter met sy eie stryd en pyn. Mirre vir wie sy jare gelede onder haar vlerk geneem het, maar met wie sy kontak verloor het.
Corali is die derde deel van die Vywervrou-trilogie wat gaan oor vroue en mans wat hulle lewenslesse op die moeilike manier leer, maar nie moed opgee nie. Kry jou kopie by jou naaste plaaslike boekwinkel teen R340, *LAPA Uitgewers.

 

Soete sonde Saamgestel deur Lizz Meiring

Die mensdom se emosionele verhouding met sjokolade is legendaries. Van suikersoet tot bittersoet, van donker tot melk – dié lekkerny bied ons oor al die eeue heen troos, terapie, hedonisme en loutere plesier. Sjokolade was nog altyd ’n simbool van belofte, versugting, verlange en sensualiteit.
In Soete sonde ondersoek bekende skrywers en nuwe stemme die tekstuur van sjokolade in al sy heerlike vorme – van lewensredder tot moordwapen. Daar is komedie, satire, sensasie, tragedie, die absurde en fantasie. Sommige stories daag jou uit, ander verskuif grense en baie laat jou tot in jou kiewe lekkerkry.
Indien enige een nog twyfel of dié stukkie sonde dalk ’n goeie geskenk sal maak, sou die lys van outeurs dalk net die nodige oortuiging bied: Clari Niemand, Miles Griffiths, Mafunyane Rossouw, Johann Smith, Ryno Eksteen, Cecilia du Toit, B Clarke, Brechje Visagie, Belinda Nel, Lizette Murray, MC Botha, Tilla Diederichs, Chrissie Naude, Henque Heymans, Clarissa Benade, Gielie Hoffmann, Johann du Toit, Monja Beyers, Paula Pereira, Willem van der Walt, Johann Smith en Jak de Priester. Kry jou kopie by jou naaste plaaslike boekwinkel teen R230, *LAPA Uitgewers.

 

 

Advertisement