HomePeoplePersonalitiesHet jy al Liani Reynolds se nuwe musiekvideo gesien?

Het jy al Liani Reynolds se nuwe musiekvideo gesien?

Sedert die vrystelling van haar debuut-album, Ligsoom, in 2019 het Liani Reynolds vinnig in die harte van musiekliefhebbers gekruip.
Haar liedjies vertel stories en haar stem en styl boei luisteraars totdat die laaste noot wegsterf.

Luisteraars was gaande oor haar eerste enkelsnit, Mossie, en nou kan aanhangers ook ‘n kykie na die musiekvideo kry.

Mossie gaan oor iemand wat op die agtergrond of op ’n ongesiende plekkie leef ter wille van iemand anders, sodat hulle die beste deel kan hê en wees wie hulle moet wees. Dit is ’n verhaal oor opoffering en naasteliefde,” som die talentvolle sangeres die liedjie op.

- Advertisement -

“Ek het grootgeword saam met ’n gestremde kind, Mossie. Sy was my Ouma Botha se jongste kind van vier. My ouma het besluit om haar self te versorg en het dit vir nege-en-veertig-jaar gedoen. Dit was nie altyd maklik nie en het baie opoffering geverg. Ouma Botha het ’n mossiekarossie, ’n onsienlike manteltjie, aangetrek ter wille van haar dogter. As ons voëls kyk soek ons die troupante en die arende, maar ’n mossie is mos maar ’n voëltjie wat ongesiens verbygaan. My ouma het so ’n mossie geword ter wille van haar geliefde Mossie. Die liedjie is ’n jaar nadat Mossie oorlede is geskryf en twee dae daarna is my ouma ook onverwags oorlede,” vertel Liani.

Nou kry dié pragtige kontemporêre snit ook lewe op die skerm, in die vorm van ’n aangrypende musiekvideo wat by Leeukop in die Kaap verfilm is. Nico en Almero Welgemoed was die kreatiewe breine agter die kamera en het die mooiste natuurtonele vir dié projek vasgevang.

“Ons het probeer om die mooiheid in die eenvoud weer te gee. Die veld en die klein blommetjies wat ek sommer spontaan in my hare gedruk het. Die rokkie wat ek aanhet, het my laat dink aan die rokkies wat Mossie gedra het,” verduidelik Liani.

Mossie lê my na aan die hart en is die beste herinnering wanneer ek nodig het om te onthou watter dinge regtig belangrik is. Die ‘boek’ van die belangrike dinge in die lewe, het ek begin ‘skryf’ toe ek nog klein was en van langs Mossie se rolstoel dopgehou het hoe liefde lyk.”

Kyk die video hier:

Mossie is beskikbaar op haar album, Ligsoom, wat agt van haar eie oorspronklike Afrikaanse werke, ’n duet saam met Joshua na die Reën (Vlieërs), asook skeppings deur Amanda Strydom (Pelgrimsgebed) en Bittereinder se Jaco van der Merwe (Gewoond) bevat.

Liani, ’n plaasmeisie van Piet Plessis, is nou al vir drie jaar professioneel doenig met musiek en is na ’n lofprysingsgeleentheid deur Ronel Brink aangemoedig om haar musiektalent te ontgin. So het haar paadjie met Joshua na die Reën gekruis, by wie sy dadelik aanklank gevind het en saam met wie sy nog gereeld werk. Die sangeres is ook betrokke by die Musiek Soos Grond-musiekprojek saam met hom en ander talentvolle kunstenaars.

Liani se album is, Ligsoom, op Spotify, Deezer en itunes beskikbaar.

Vir meer oor Liani en haar musiek volg haar op Facebook en Instagram.

- Advertisement -

Must Read