As jy ooit ’n potjie met passie geproe het, was dit dalk Machiel Bekker s’n – die man agter Safari-Chef, wie se reis met kos begin het lank voordat hy ooit ’n kampvuur aangesteek het of ’n wildsfilet in die pan gesit het.
Machiel se liefde vir kos is nie net toevallig nie – dis iets wat hy as kind opgetel het in die geurige gangetjies van sy ma, Alta, se bekende eetplek in Bredasdorp: Paddatjie-se-huis.
In die 1980s was dit meer as net ’n restaurant – dit was ’n warm kombuis vol stories, lag, en die klanke van huislike kookkuns. En vir klein Machiel, was dit sy speelgrond én sy leerplek.
“Ek het op ’n jong ouderdom geleer dat kos mense bymekaar bring. Ek het daardie gevoel van saamwees en die magie van ’n potjie wat borrel en ’n tafel wat lag – nog nooit verloor nie,” sê hy met ’n glimlag.
Alta het hom geleer oor geur, geduld, en die belangrikheid van elke bestanddeel – maar ook oor mense. Dit was haar kombuis waar hy besef het dat kos ’n taal is wat verder strek as woorde. Vandag dra hy daardie lesse met hom soos ’n geheime spesery.
Safari-Chef: ’n droom wat vlam vat
Met 18 jaar se ervaring in verskeie fasette van die gasvryheidsbedryf het Machiel uiteindelik sy ware roeping gevind, wildsvleis, voorberei op die tradisionele Suid-Afrikaanse manier, maar met ’n moderne, fynproewers-invalshoek.
So is Safari-Chef gebore – ’n mobiele kulinêre ervaring waar Machiel toeriste en jagkliënte op ’n geurige reis neem deur Suid-Afrika se unieke bosveldkombuis.
“Dis nie net oor wildsvleis nie. Dis oor verbondenheid, oor kultuur, oor die wild en die wonderlike gees van Suid-Afrika op ’n bord.”
Van kudu- en roosterkoekburgers wat oor ’n oop vuur gaargemaak word in die jagveld, tot fynproewersgeregte soos gepekelde springbokrolletjies, spog Machiel met smake wat diep gewortel is in Suid-Afrikaanse grond, maar opgetel is uit sy ma se potte.
Machiel se Oolsov-lamskenkelpotjie: liefde in lae

Een van sy gunstelinggeregte en beslis een wat gereeld versoek word, is sy bekende Oolsov-lamskenkelpotjie met songedroogde tamaties. Dis ’n gereg wat nie net vullend is nie, maar vol herinneringe en hartskos.
Bestanddele
(Vol geur, kleur en liefde – net soos Ma dit sou doen)
- Knoffel, fyngekap
- Uie, grof gesny
- Groenrissie
- Vars tiemie
- Olyfolie
- Lamskenskels
- Witwyn
- Songedroogde tamaties
- Beenmurg
- Klein pampoentjies
- Sampioene
- Vars spinasie
- Room
Metode
Braai die uie, knoffel, groenrissie en tiemie in olyfolie tot goudbruin. Voeg die lamskenskels by en seël dit mooi saam met die groente. Gooi die witwyn in, en laat dit deur die kombuis sing. Voeg die songedroogde tamaties by, en laat die pot vir sowat twee uur prut.
Gooi dan die beenmurg, pampoentjies, sampioene en spinasie by. ’n Skeut room maak alles mooi vol en romerig. Laat die potjie nog 25 minute stadig borrel en dan, eet jy met jou hart.
Saamgesteel duer Sazly Moses

