Eetbare blomme raak al hoe gewilder in moderne kombuise en dis maklik om te verstaan hoekom. Hierdie kleurvolle blomme versier nie net jou bord kos nie, maar bied ook verskeie gesondheidsvoordele.
Van viooltjies en rose tot nasturtiums (kappertjies) en laventel – eetbare blomme kan op verrassend baie maniere deel vorm van jou alledaagse dieet. Net soos in die ou dae, kan ons eetbare plante om ons beter benut om weer iets besonders van die gewone tafel te maak.
Baie eetbare blomme bevat antioksidante, vitamiene en natuurlike plantverbindings wat die liggaam ondersteun. Hibiskus is byvoorbeeld ryk aan vitamien C en word dikwels gebruik in tee om immuniteit te ondersteun. Kamille en laventel is bekend vir hul kalmerende eienskappe en kan help met ontspanning en verbeterde slaap. Kappertjies bevat weer vitamien A en C en het ’n ligte peperige smaak wat perfek werk in vars slaaie.
Een van die maklikste maniere om eetbare blomme te gebruik, is in slaaie. Strooi ’n hand vol viooltjies, goudsblomblare of kappertjies oor groen blare vir ekstra kleur en geur. Dit maak selfs ’n eenvoudige slaai spesiaal.
Eetbare blomme werk ook goed in ontbytgeregte soos hawermout, jogurt, smoothie bowls of ’n chia-nagereg.
Blomtee is nog ’n gewilde opsie. Kamille-, hibiskus- en laventeltee is heerlik warm óf koud en bied ’n natuurlike alternatief vir soet drankies.
Gedroogde blomme kan ook in bakwerk gebruik word. Laventel gee koekies en muffins ’n sagte geur, terwyl roosblare ’n romantiese element aan nageregte gee.
Gesiggies in jou pastadeeg vir daai ietsie extra?! Vir iets meer kreatief kan jy kleiner blomme in ysblokkies vries vir jou gaste se water, mocktails of somerdrankies. Jy kan selfs blom-heuning maak deur laventel of roosblare in heuning en suiker te laat trek. Dit smaak heerlik oor jogurt, roosterbrood of pap.
Dit is egter belangrik om te onthou dat nie alle blomme veilig is om te eet nie. Gebruik net blomme wat spesifiek as eetbaar gekweek word en vermy enige blomme wat met chemikalieë gespuit is. Blomme van bloemiste of langs paaie moet nooit geëet word nie.
Eetbare blomme wys dat gesonde kos ook mooi en kreatief kan wees. Met net ’n paar blomblare kan jy jou daaglikse etes tot ’n nuwe vlak verhef en terselfdertyd jou liggaam met natuurlike voeding ondersteun.
Text and photograph by Mariza Eberson

