Get It stap saam met Cedric deur 80 jaar…

0
137

Get It het met oom Cedric Welman, soos alombekend, gaan gesels by sy pragtige tuiste in Kranspoortdorp. Om stap vir stap so saam met hom die herinneringe te herleef van ‘n lewe wat voluit geleef is van een avontuur en uitdaging na ‘n volgende is voorwaar ‘n voorreg.

Oom Cedric dink terug aan sy kinderdae en skoolloopbaan wat hy op Reitz in die Vrystaat deurgebring het en hoe hulle as kinders fietspolo gespeel en die plaaslewe en natuur geniet het.

Reeds toe al het sy liefde vir die buitelewe posgevat en daarom het hy gestap, gedraf en fietsgery oor duisende kilometers in Suid Afrika en verskeie ander lande.

As stigterslid van die Cycad Voetslaanklub, wat onlangs hul 35 jarige bestaan gevier het, het hy meer as 3000km wat genoteer is, te voet afgelê.  Staproetes van die ooste na die weste, in die Drakensberge, en Cederberge, deur die Visrivier Kloof en tot op die kruin van Kilimanjaro het hy in sy stapskoene verken.  Van die hoogtepunte was beslis die stappe in die Drakensberge saam met die Noord Natal se Bergklimklub en ook saam met die kranige Malcolm Pearce wat bekend is vir sy uitnemende fotografie in die berge.  So onthou Cedric dat hulle van vieruur in die oggende gaan wag het vir die sonsopkoms want Malcolm het geglo dat – “jy slegs een oomblik kry vir daardie spesiale foto” en dan moet jy daar wees!

Ontberinge in die Drakensberge soos die keer toe hulle drie dae vasgeval het in die sneeu en tot minus sewe grade Celsius moes oorleef, dra by tot sy herinneringe.

As stigterslid van die Volksrust Marathonklub het hy begin oefen en sy eerste Comrades in 1979 voltooi, waarna nog 10 agtermekaar volg, en ‘n verdere vier om sy Groen nommer 3660 te verwerf.

Vanaf 1983 sluit hy aan by die Middelburg Marathonklub en lewer ‘n reuse bydrae om die Loskop Marathon jaarliks van krag tot krag te laat groei.  Hy was ook ses jaar lank voorsitter van die klub en is vandag slegs die tweede persoon wat erekleure van die klub ontvang het.

As mens hom vra waarom die Loskop Marathon dan so gewild is, skryf hy dit toe daaraan dat dit ‘n uitdagende en aantreklike roete is, met die vriendelike en hulpvaardige waterpunte en beamptes en puik organisasie waar die hardloper altyd die belangrikste element van die marathon is.

Dit bied ook ‘n groot inspuiting jaarliks vir die toerisme bedryf, tesame met die Foreveroorde en al die ander rolspelers in die omgewing.

Hy het sy laaste Loskop Marathon 15 jaar gelede op 65 jarige ouderdom voltooi.

Asof daar geen einde aan Cedric se avontuurlus is nie, pak hy ook gedurende sy leeftyd die 110km Nylstroom fietsrit, die Cape Argus en die Loskop Fietsren aan en voltooi dit almal suksesvol.

Hy het gestap, gehardloop en fiets gery en nooit groot teespoed ervaar nie. Hiervoor dank hy sy Hemelse Vader vir die beskerming, leiding en krag verleen, maar het ook altyd gesorg dat hy genoeg oefen vooraf, goed voorberei, oor die regte toerusting beskik en nie iets aanpak wat hy weet bo sy vuurmaakplek is nie.

As onderwyser op Volksrust het hy sy eggenote, Babs, wat toe laerskool onderwyseres was, ontmoet.

Hulle is reeds 55 jaar getroud en het twee dogters, Andor wat in verskeie lande oorsee onderwys gee, en Lanie wat in Chicago woon.

In 1979 behaal hy sy Meestergraad in Historiese Opvoedkunde en word in 1981 gesekondeer na Middelburg as waarnemende hoof van die Onderwysersentrum wat indiens opleiding aan onderwysers in die destydse Oos Transvaalse skole bied.

Op geestelike gebied sluit Cedric aan by die Gideons as lid vir 15 jaar waarna hy verder studeer en sy sertifikaat in Teologie tydens 2008 ontvang word as volle predikant in die Anglikaanse kerk te Belfast georden.

Hy glo nie dat mens ‘aftree’ nie, maar slegs ‘oorstap’ van jou beroepslewe na ‘n aktiewe tydperk van aftrede en dan na die ewige lewe.

Daagliks leef hy in gehoorsaamheid aan die Heilige Gees se opdragte en spits hom toe daarop om minder bevoorregte  en gestremde persone by te staan.  Evangelisasie lê hom na aan die hart en daarom is hy reeds die afgelope vier jaar wat hulle voltyds op Kranspoort woon, betrokke by ‘n evangelisasie- program vir die werkers aldaar.

Ook hou hy homself aktief besig in die natuur waar hy die voorloper was met die uitlê van die staproetes op Kranspoort. Hy is ook reeds twee keer aangewys as Kranspoorter van die jaar vir sy bydrae tot die dorp se vooruitgang.

Tydens twee termyne van drie jaar elk het hy as direkteur van die Kranspoort Eienaarskomitee die portefeulje van Omgewingsake wat die wild en natuur insluit, hanteer.  ‘n Spesiale stilwordplekkie is ingerig as blyk van waardering op die oewer van die Kranspoortspruit en word die ‘Cedric Welman Lookout’ genoem.

As lewensfilosofie reken Cedric daar is twee dinge om na te strewe – “Om iets te kry wat jy wil he; en dan om te geniet wat jy wel gekry het. Die mens kry egter die tweede hiervan baie selde reg”

Op 80 jarige ouderdom stel hy steeds ‘n voorbeeld met sy positiewe gesindheid, sy liefde vir die natuur en sy medemens; asook sy diepe afhanklikheid en dankbaarheid teenoor Sy Skepper vir al die goeie herinneringe waarop hy nou kan lewe.

Diep spore het hy beslis getrap in menige mense se lewens.

 

Advertisement