Ken jou kind en omhels hulle met baie liefde

0
316
Dr. Riekert Swart

Een ding is verseker, kinders word nie met handleidings gebore nie. Dan is daar ook die persepsie dat kinders geen bekommernisse het nie, hulle slaap, eet en slaap net. Wanneer meeste volwassenes hoor dat kinders in die laerskool kan lei aan ‘n geestesgesondheid probleem, gaan meeste noem dat hulle nie dit kan indink nie.

Ons het by dr. Riekert Swart gaan inloer wat besig is met sy meestersgraad in neuro ontwikkeling om kers op te steek oor die onderwerp waarvan ons as ouers tot onlangs maar min geweet het.

Daar is onlangs ’n studie in die Kaap gedoen onder kinders in skole, en die studie het getoon dat twee uit ‘n 100 kinders aan depressie ly, terwyl een uit ‘n 10 kinders aan AGHS (aandaggebrek hiperaktiwiteit sindroom) ly. Ongelukkig styg die syfers na tiener en volwasse tyd na 20 uit 100 met depressie, meestal omdat gedrag nie aangespreek was in die kinderjare nie.

“Dit is waar dat kinders ongelukkig in laerskool reeds kan sukkel met emosionele probleme. Ons sien selfs dat kleuters daarmee sukkel. Is dit omdat kinders skielik meer blootgestel is? Of word daar dalk te vinnig ‘n diagnose gemaak?” het dr. Swart die vraag laat val.

“Dink terug aan jou eie kinderdae of as jy reeds ouers is met groter kinders; daar is kinders wat nie sekere klere wou dra nie, of die skoene het te styf gesit, of wou heeltyd kanse vat deur op die hoogste klimraam te klim? Klink dit bekend? Wel vandag weet ons dat kleuters aan sensoriese integrasie probleme kan lei. Hierdie probleme is ook baie keer die oorsaak dat kinders in laerskool met AGHS gediagnoseer word. Dit beteken dat kinders se sintuie, met ander woorde sig, gehoor, smaak, tas, reuk, propriosepsie en balans, nie saam werk nie.”

Dr Swart het gesê jy kry ook die kind wat stil-stil elke jaar net deurkom en min probleme in die klas gee – is daar nie dalk ‘n onderliggende emosionele probleem nie?

“Kinders kan hulle emosies of internaliseer (na binne keer) of eksternaliseer (na buite bring). Voorbeelde hiervan is depressie en angstigheid (internalisering) terwyl AGHS en aggressiewe gedrag voorbeelde van eksternalisasie is.”

Dr. Swart wat ook twee kinders het, is eerste om te sê as hy maar net geweet het wat hy nou weet sou die lewe soveel makliker gewees het.

Dus in ’n neutedop  – ken jou kind, vou jou kind toe met hope liefde en as jy twyfel gaan spreek jou huisdokter of kinderarts vir verwysing na ‘n arbeidsterapeut of ‘n neuro-ontwikkelings kinderarts. Nie alle praktisyne is gekwalifiseer of het die kennis van ontwikkelings of gedragsprobleme nie.

Op die einde is dit baie belangrik om hierdie probleme aan te spreek in die kleuter en kinderjare, want indien dit gelos word of onopgelos is, kan dit tot erger geestesgesondheid probleme in die tiener en veral in die volwasse stadium van die lewe ly.

 

 

 

Advertisement