Maritsa en Maradine Whitehorn kook vir ‘n vale in hul nuwe restaurant

0
410

Maritsa en Maradine Whitehorn kook saam, lag saam en lééf saam. Dié dinamiese paar het onlangs ‘n enig-in-sy-soort restaurant, wat oorloop van vreugde en heerlike kos, oopgemaak.

‘n Kuier in die Whitehorns se kombuis is besig, lawaaierig en pret. Daar word pasta gemaak, koffi e gedrink en geklets. Maritsa en Maradine was een van die gunstelingpare op die M-Net realiteitsreeks My Kitchen Rules in 2017. Hulle is al vir vyf jaar getroud en kook saam vandat hulle mekaar ken.

Hul kosse is ‘n mengsel van oudtydse boerekos (Maritsa se gunsteling) en kontemporêre, unieke smake en teksture (Maradine se afdeling). “Ons sal byvoorbeeld ‘n skaapboud maak soos van ouds, maar dit dan voorsit met ‘n verrassing-sous en die elemente uniek rangskik. ‘n Mens eet met jou oë voordat jy dit proe,” sê Maradine.

Saam-saam kook Maritsa en Maradine al vir jare lank, sommer so by die huis, en ook amptelik onder #MSquareCooking. Hulle het gereeld spyseniering vir privaat partytjies gedoen – sommiges by hul eie huis en ander kere by die kliënt se huis. Maar wat byna beter is as die heerlike kos wat hulle bedien, is om dié twee duifies in aksie in die kombuis te beleef. Hulle gesels, proe, lag, stry en lag nog ‘n bietjie. Dit is hierdie bestanddele wat die kos ekstra lekker laat proe.

Met hulle uiteenlopende kookstyle, vul hulle mekaar perfek aan. “Maritsa het die wêreld se geduld as dit kom by kos. Sy hou daarvan om vleis vir ure lank te kook totdat dit sag en perfek is,” sê Maradine. Maritsa voeg by: “En Maradine bring die teatrale element na die tafel. Die ‘wow factor’. Sy volg trends en probeer konstant nuwe idees om smake te kombineer en die kos voor te sit.”

Hul nuwe restaurant, wat in Dan Pienaar in die plek van die ou Marmelade restaurant
en Tony Peng se ZAR lab is, is vars en nuut in Bloemfontein. Die naam, Seisoen, is gebaseer op die idee dat hulle seisoenaal kook, met vars bestanddele wat in seisoen is. Hul spyskaart gaan elke drie maande verander om by hierdie gier in te pas. Dit dui ook op die nuwe seisoen in hul lewe, waaroor hulle opgewonde is. Maritsa het kort voor die opening van die restaurant haar werk as bedryfsbestuurder by die iStore bedank. Hulle gaan saam-saam die restaurant bedryf en self alle disse konsepsualiseer en maak. Elke druppel verf,
teël, muurbehangsel en koppie is ook noukeurig deur hulle uitgesoek om aan die restaurant ‘n kontemporêre, dog huislike gevoel te gee. “Dit gaan lang ure en harde werk wees, en ons gaan soms hare op ons tande moet hê. Maar ons het nog altyd vir mekaar gesê: die oomblik wanneer kosmaak nie meer vir ons lekker is nie, moet ons dit los. Dis in ons wese, in ons harte… dis wie ons is. Dit voel nie of mens werk as jy elke dag doen waarvoor jy lief is nie,” sê Maradine.

Dit moet voel asof hulle by hul familie kom kuier as hulle by ons kom eet! Ons hóú van gesels.

Hulle beplan om elke dag ‘n spesiale dis in die restaurant te bedien, waarop hulle op die betrokke dag besluit. “As dit byvoorbeeld reën en ons is lus om beesstert te maak, gaan ons dit teen die muur skryf sodat ons gaste weet wat is die dis van die dag.” Uit die aard van hulle persoonlikhede, gaan dié twee ook vir seker nie agter toe kombuisdeure wees nie. “Ons is lief vir mense, en ons wil graag hulle terugvoer hê oor ons kos. Ons kan net daarop verbeter. En dit moet voel asof hulle by hul familie kom kuier as hulle by ons kom eet! Ons hóú van gesels,” sê Maradine.

‘n Ry plante, groente en kruie aan die voorkant van die restaurant is ook daar om gebruik te word in die kombuis. “Ons glo in volhoubaarheid en ‘top to tail cooking’, wat beteken dat ons niks wil mors nie. Alles moet gebruik word,” verduidelik Maritsa.

Maritsa en Maradine is albei plaasmeisies. Maritsa het op ‘n plaas by Dordrecht in die Oos-Kaap grootgeword, en Maradine net buite Bloemfontein. Daar het hulle ‘n liefde vir kosmaak ontwikkel, en ook ‘n groot begrip van die boerderyproses. “Ons wil ou gunstelinge met ‘n nuwe aanslag na Bloemfontein bring. Ons kos val onder geen genre nie – ons maak waarvan ons hou en hoop ander sal ook daarvan hou,” sê Maradine.

Besoek Seisoen se Facebook-blad vir opdaterings en inlingting.

Advertisement