Ons twee gunsteling pastaresepte deur Maritsa en Maradine!

0
229

Die bekende kookpaar Maritsa en Maradine Whitehorn het twee smullekker pastadisse vir Get It opgetower.

Eenvoudige tangliatelle met sampioene

Tuisgemaakte pasta:
1 koppie meel, 1 eier, knippie sout, 15 ml water, plus ekstra indien nodig.

Gooi koppie meel in ‘n hopie op kombuistafel. Maak met jou vinger ‘n holte in die middel. Gooi ‘n knippie sout daarin. Kraak die eier oop en plaas in die holte van meel. Gebruik ‘n vurk om die eier liggies deur die meel te roer.

Meng verder alles met jou hande en voeg water by. Dit sal ‘n deeg vorm. As daar nog water nodig is, gooi druppel vir druppel by totdat dit ‘n stewige deeg vorm. Knie vir 5 minute. Die deeg moet elasties en ferm wees. Bedek met kleefplastiek en laat rus in yskas vir 20 min.

Deel dan die deeg in twee. Strooi ‘n bietjie meel oor die oppervlak van die tafel en rol die deeg plat met ‘n koekroller. Rol dan die deeg deur ‘n pastamasjien tot die dunste moontlike vel. Plaas op tafel en strooi meel bo-oor. Vat die tweede bol deeg en doen dieselfde.
Sny die pasta in repies deur die masjien en meng met ‘n bietjie meel sodat dit nie aan mekaar plak nie. Kook pasta in soutwater op die stoof tot gaar.

Sampioene:
400 g sampioene; 4 eetlepels botter; 15 ml olyfolie; Halwe teelepel vars tiemie;
halwe teelepel vars roosmaryn; sout en pepper.

Gooi olyfolie in pan. Braai die sampioene, roosmaryn en tiemie daarin. Gooi sout en
peper by na smaak. Roer die botter by. Voeg die gaar pasta by en meng.

 

Ravioli met roomkaas vulsel en tamatiesous

Lewer 2 tot 3 vol porsies

Volg die tuisgemaakta pastaresep hierbo. In plaas daarvan om dit in repies te sny, sny sirkels uit die pasta om Ravioli te maak. Plaas vulsel in middel van die sirkel en sit tweede sirkel bo-oor.  Druk die kante vas en smeer met ‘n bietjie water om te heg. Laat ‘n pot met water kook en gooi ‘n knippie sout in. Gooi die pasta-pakkies in totdat dit gaar is. (Dit neem nie baie lank nie).

Kruie- en roomkaasvulsel

100 g roomkaas; 1 bondeltjie vars kruie van jou keuse (basilie, pietersielie ens.); Sout en peper na smaak

Kap die kruie fyn en meng roomkaas met sout en peper. Voeg in ‘n versapper en blits tot glad.

 

 

 

Advertisement