Liani Reynolds dra lig met haar sielvolle musiek

0
583

Liani Reynolds se strelende stem en sagte geaardheid het ons geboei met ons ontmoeting. Leer ken dié pragtige mamma, musikant en boervrou.

Liani het grootgeword op ‘n plaas naby ‘n klein dorpie met die naam Piet Plessis, in Noordwes. Sy het ‘n droomplaaslewe gehad as die jongste van drie kinders, en onthou goed die ure se vermaak wat haar pa en oupa se boere-orkes vir haar en die gemeenskap gebied het. Haar ma het ook saam trekklavier gespeel. “Ek en my broers het van kleintyd af so tussen musiek grootgeword.” Daarom dat Liani vandag musiek maak, en daaruit lééf.

Na skool het sy arbeidsterapie aan die UV studeer. Dis ook waar sy haar man ontmoet het. Hulle kom albei van klein dorpies af, en het onmiddellik gekliek. Hulle is in 2004 getroud.
Vandag het Liani en haar man vyf seuns (ja, VYF!) tussen die ouderdomme 13 en 5. Hulle is Percy, Wihann, Izak, Kalla-Dabar en Miga. Hoewel musiek nog altyd deel was van haar, het haar professionele sangloopbaan eers ná die koms van haar vyf kinders behoorlik vlamgevat. Musiekagent, Ronel Brink, en kunstenaar, Joshua na die Reën, het baie daarmee te doen. “Ek het by ‘n geestelike kamp gesing en Ronel Brink het my na die tyd geroep en my aangespoor om my musiek op te neem. Dit was spesiaal vir my om so aangemoedig te word en sy het geleenthede gereël om in aanraking te kom met mense wat my kop in ‘n rigting kon stuur oor wat ek wil hê as ek ‘n loopbaan in die musiekbedryf
nastreef.

“In hierdie proses het ek vir Jacques de Villiers (Joshua na die Reën) geskakel vir raad met ‘n lied wat ek moes skryf. Dit was die begin van ‘n baie kosbare vriendskap. Jacques het al my musiek verwerk en leiding geneem met die produksie daarvan. Ek dink as ek moet
noem wat Jacques de Villiers alles vir my beteken het, sal ons ‘n aparte onderhoud net daavoor kan reël. Ek is regtig so dankbaar teenoor hom.”

Liani se musiek kan beskryf word as kontemporêr, maar persoonlik beskryf sy dit as ‘n voertuig van stories. “Elke lied het ‘n spesifi eke storie, wat gebore is uit ware gebeure of daardeur geïnspireer is. Ek dink ons het elkeen ‘n storie. Ek sou hoop dat die stories en eenvoud daarvan mense inspireer om bietjie die ‘soom’ oop te maak van hulle eie stories en ‘n tipe lig daarin te vind.” Vandaar die titel van haar album, Ligsoom.

Wanneer Liani nie musiek maak nie, kan jy haar en haar gesin buite vind. Hulle bly op ‘n plaas by Trompsburg, omdat die plaasmeisie in haar vir ewig wou bly voortleef. “Ek hou van enigiets wat buite gedoen kan word. Buite is waar ek die lekkerste voel en die meeste ontspan. Ek geniet dit om in die veld te draf, klavier speel is regtig vir my ontspannend en ‘n lekker glas wyn by ‘n mooi vuur is vir my soos kuns. As gesin maak ons saam musiek,
hou van stap, fliek en lekker braai op die stoep.” Sy is ook lief vir enigiets wat kreatief is – van mosaïek tot skilder.

Liani het ‘n sagte plekkie vir babas en kinders, wat grootliks spruit uit haar ervaring as arbeidsterapeut. Sy bied graag ondersteuning aan mammas wat sukkel, omdat sy self as ‘n mamma van vyf baie geleer het, en ook uit haar arbeidsterapie-studies.

Ons vra vir Liani om haar skoonheidsgeheime met ons te deel, want regtig, om só besig te wees met ‘n professionele loopbaan en vyf woelwaters onder jou dak te hê, kan ‘n mens spreekwoordelik grys hare gee! Haar antwoord is nederig. “Baie dankie vir so ‘n mooi kompliment… Ek weet nie of ek regtig sulke geheime ken nie. Miskien, as mens dit soms
regkry dat jou hart dankbaar is oor wat in jou hand lê en jou oë onthou om die mooi te soek in klein dingetjies, lyk baie dinge beter. En lag. Lag is soos heuning vir mens se siel, sou ek sê.”

So, waarna kan ons uitsien van Liani in die toekoms? “Ek gaan my heel beste probeer om net aan te hou geniet om stories te soek in die alledaagse dinge. Ek gaan probeer om nie
perspektief te verloor oor waarom ek ‘n musiekloopbaan nastreef nie… Ek gaan aanhou musiek skryf en aanhou sing en ek hoop om weer ‘n album uit te bring as die kruik met stories vol is.”

Die belangrikste les wat Liani haar kinders wil leer, is dat die mooiste ding wat jy ooit kan wees, net jouself is, en dat daar soveel krag daarin lê om eg te wees.

 

Liani se album, Ligsoom.

Teks: Lani Fouché

Advertisement