Mooimaak is haar lewe

0
378
Karlé Potgieter

Karlé Potgieter se loopbaan in grimeerkuns het in haar skooldae afgeskop toe sy haar tydens ‘n internasionale danskompetisie bevind tussen rye dansers wat opgedollie moes word. Min het sy geweet dat dit eendag haar loopbaan sou word.

Met 11 jaar ondervinding in die skoonheidsbedryf en haar eie besigheid, Karlé Potgieter Artistry, streef hierdie skoonheidsghoeroe daarna om eendag die beste in die bedryf te wees. Karlé is ‘n internasionaal gekwalifiseerde grimeerkunstenaar, skoonheidskundige, skoonheidsblogger en -skrywer sowel as ‘n baie dinamiese sakevrou, bekend as grimeerkunstenaar vir talle internasionale modelle en TV-persoonlikhede.

Sy is al gebruik vir verskillende televisieprogramme soos Top Billing en andere op KykNet, en het verskeie kere die grimering van baie modelle en persoonlikhede vir tydskrifvoorblaaie gedoen, asook skoonheidsartikels vir plaaslike en nasionale tydskrifte geskryf. Groot name soos onder meer Karen Zoid, Caroline Grace, Ayanda Thabethe, Randy Fenoli en Diaan Daniels tel onder die groot name waarmee sy al gewerk het.

Vir Karlé is dit ‘n voorreg om haar kennis met die wêreld daar buite te deel en om meer in diepte oor haar bedryf te skryf. Sy verduidelik, “Ek streef ook daarna om die beste in my beroep te wees en om my beste werk te lewer vir elke kliënt. Ek wil graag voortgaan om unieke kunswerke, waaraan baie mense nie gewoond is nie,  te skep vir my portefeulje.”

Die sprankelende Karlé maak oral in die land naam haar unieke grimeerkonsepte. Sy probeer altyd iets nuuts en haar Facebook- en Instagram-blad loop behoorlik oor van kreatiewe foto’s en saamgestelde idees en foto’s van ander plaaslike kunstenaars.

Haar besigheid bied grimeringdienste vir geleenthede soos matriekafskeidgesellighede, verlowings, troues, swangermoeder-foto’s en allerlei spesiale geleenthede. Vir diegene wat deur die grimeergogga gebyt is, is daar selfs ook ‘n geleentheid om ‘n persoonlike grimeerles by dié professionele grimeerkunstenaar te bespreek. Sy bied onder meer ook groepsessies aan vir belangstellendes in die grimeerbedryf.

Volgens Karlé, wat baie tuis voel met ‘n grimeerkwas in haar hand, is dit moontlik om haar passie en kunstalent elke dag uit te leef. “Die beste ding van grimering doen, is om elke dag saam ander mense te spandeer en nuwe mense te leer ken. Mens leer ook elke dag iets nuuts. Nuwe gesigte, nuwe uitdagings.”

Karlé Potgieter

Op die vraag hoe sy te werk gaan wanneer sy iemand grimeer, vertel Karlé dat die aanwend van grimering ‘n proses is. Die eerste stap is om ‘n gesig te analiseer, soos byvoorbeeld die gesigvorm en oogvorm van jou kliënt. Dit is ook belangrik om die ouderdom van die persoon wat grimeer word in gedagte te hou. Dan volg ‘n goeie vogroom, wat volgens die kliënt se veltipe uitgesoek word aangesien dit baie belangrik is vir ‘n egalige grimeerapplikasie. Volgende moet die presiese kleur onderlaag gemeng word volgens die kliënt se gelaatskleur, dit verhoed dat haar onderlaag soos ‘n masker lyk. Daarop volg ‘n poeierbedekking om die onderlaag in plek te hou. Die oë is volgende met oogskadu, oogpotlood en wimpers, indien die kliënt dit verkies. Om die gesig vorm te gee, word daar nou gekontoer en blosser word aangewend. Laastens kom die lippe aan die beurt wanneer ‘n lippotlood aangewend word om klein veranderingkies aan die lippe te maak en die finale stap is dan lipstiffie, iets waarsonder geen vrou kan gaan nie.

Vir jare reeds ‘n inwoner van die Stad van Rose, hoewel sy in Port Elizabeth gebore is, het Karlé se earlike en opregte persoonlikheid haar gewild gemaak in die grimeeromgewing. Sy is nie skaam om elke dag iets nuuts te leer nie en is mal daaroor om saam met ander kreatiewes geleenthede te reël en aan te bied. Aangesien sy uit die aard van haar werk baie besig is op sosiale vlak, hou sy van haar alleentyd saam met haar man, Wynand, en hul vyf dierekinders as die kans hom voordoen. “Ek geniet lekker koffie en hou daarvan om tyd in koffiewinkels deur te bring en nuwe geure uit te probeer.”

Een van die dinge van die lewe wat sy graag geniet, is die natuur en dierelewe, daarom gaan sy graag op wildsritte of ry sy perd in haar vrye tyd. Met alles wat aangaan in haar lewe, maak Karlé steeds tyd vir haar ander passie, juwele. Sy het onlangs ‘n aanlyn-juweleonderneming wat op bruide fokus, begin. Sy vertel aan Get It dat Sparkle & Co. unieke ontwepe doen en so verseker dat daar slegs van elke ontwerp in voorraad is om dit eksklusief te hou. Haar eie juweelversameling tel al meer as 300  stukke.

Pierce van Heerden

[email protected]

Advertisement