WEN ‘n boks heerlike De Krans soetwyne (perfek vir koue wintersaande!)

0
480

Wanneer mens aan Calitzdorp en die Swartland dink, is daar nie veel wat hulle op die oog af verbind nie, behalwe dat albei landbougebiede is wat wyne van uitnemendheid produseer in soortgelyke droë en sonnige klimaatstoestande. Daar is egter min mense wat weet dat die oorsprong van die portwynbedryf in en om Calitzdorp (nou die portwynhoofstad van Suid-Afrika) te danke is aan ’n “gelukkige ongeluk” in die Swartland!

Na ’n besoek aan die Swartland in 1973 deur die Nel-familie van De Krans aan die buitewyke van Calitzdorp is besluit om shiraz-druiwe op die plaas in die Klein Karoo te plant. Dit het ’n paar jaar vir hulle gevat om te besef dat die wingerd wat aangeplant is eintlik tinta barocca bevat het! Dit was dan ook die eerste Portugese kultivar wat in hierdie wynstreek aangeplant is, en vanweë sy unieke terroir (soortgelyk aan die bekende Duoro-vallei in Portugal) het die druiwe gedy, en die wêreldklas-wyne wat hulle voortbring, is getuienis daarvan.

Net so is tinta amarela sowat 20 jaar later verkeerdelik aangeplant nadat dit aanvanklik as tinta roriz gesertifiseer is. Die portwynbedryf het dus met twee “ongelukke” afgeskop, en vandag is Calitzdorp in die Klein Karoo sinoniem met die Suid-Afrikaanse portwynbedryf. Wat ’n interessante en wonderlike draai van die noodlot, oftewel twist of fate, wat toevallig ook die naam van een van De Krans se Portugese versnitte is en hulde bring aan hierdie stukkie geskiedenis!

Ongeag die sukses van die portwyne van De Krans en Calitzdorp, sal mens nie die naam “port” op enige etiket van ’n Suid-Afrikaanse portstyl wyn sedert 2011 sien nie. Dis ingevolge ’n ooreenkoms tussen die Europese Unie en die Suid-Afrikaanse regering. Die Cape Port Producers Association (CAPPA) het reeds in die laat tagtigerjare besluit om eerder die woord “Cape” te gebruik tesame met die spesifieke styl van portwyn – byvoorbeeld Cape Ruby, Cape Vintage, Cape White, ens. – sodat die ooreenkoms met die EU nie juis ’n uitwerking op die afset van plaaslike portwyne in Suid-Afrika en in die buiteland gehad het nie.

Vir baie wynliefhebbers is die gedagte aan ’n portwyn effe skrikwekkend, miskien oor die verskillende style, die donker bottels, die hoër alkohol-inhoud of die feit dat dit iets is wat hul grootouers na ete geniet het, maar dit hoort nie so te wees nie.  Nie alleen is dit belangrik om kennis te neem van die feit dat portwyne beslis nie net vir die wintermaande beskore is nie, maar ook dat hulle nie slegs as “nagereg” geniet moet word nie.

Portwyne soos De Krans se Original Cape Pink dien ook byvoorbeeld as ’n verfrissende skemerkelkie met gemmerlim, gebreekte ys en kruisement. Selfs die De Krans Cape Tawny Limited Release en die Espresso is albei heerlik wanneer dit verkil in die warm somermaande geniet word. Besoek gerus De Krans se webstuiste vir ’n lys prettige skemerkelkieresepte, insluitende die verkilde Espresso Martini.

Bederf jouself en/of jou gaste met ’n glas van die De Krans Cape Vintage Reserve, die landgoed se vlagskip-portwyn wat ’n vyfstergradering in die gesaghebbende Platter-wyngids ontvang het. Geniet dit met goed verouderde kaas en jy sal nooit weer terugkyk nie! Of probeer die landgoed se Espresso, ’n dessertwyn met subtiele geure van gemaalde koffie op die nasmaak.

Maar moenie tot na ete wag nie! Verras jouself en/of jou gaste met ’n volledige spyskaart waar die disse gekombineer word met De Krans se verskillende portwyne. Terwyl die De Krans Cape Pink heerlik in ’n skemerkelkie is, pas dit soos ’n handskoen by sommige nageregte, insluitende ’n pannacotta met wit peperkorrels en ’n rooswater-roomys. De Krans se Cape Tawny is ideaal as ’n aptytwekker, gekombineer met uiesop of met saam met ’n nageregbord bestaande uit kaas, neute en heuning. Die landgoed se Cape Vintage is die beste maat vir enige gebakte nagereg, soos crème bruleé of sjokolade-fondant.

Hierbenewens is ’n portstyl wyn soos die De Krans Premium Cape Ruby wonderlik vir kook. Gooi sommer heelwat by die potjiekos of enige vleisgereg in ’n prutpot terwyl jy jouself bederf met ’n glasie “donker goud”. Die wyn is vrugtig en sag en sal die gereg na nuwe hoogtes vat.

Noudat jy weet dat portwyn nes enige tafelwyn behandel moet word, moet jy miskien let op die beste manier om jou eie portstyl wyne te berg. Nes ’n rooiwyn moet ’n portwyn nie langer as twee weke gehou word nadat dit oopgemaak is nie, met die uitsondering van ’n Cape Tawny (maksimum van 4 weke as gevolg van sy oksidatiewe aard). Hou dus gerus jou oë oop vir daai halfleeg bottels langs ’n yskas in jou gunsteling-restaurant, hulle mag sedert verlede verlede winter reeds daar staan!

Indien onoopgemaak kan portwyne baie langer hou. Terwyl die Tawny op sy beste is na bottelering en nie juis met veroudering verbeter nie, kan portwyne soos De Krans se Cape Vintage Reserve vir 25 jaar en selfs langer geberg word (in gunstige, koel toestande met die bottels wat lê).

En ten slotte, gooi gerus al daai klein sjerrie- en likeurglasies weg en bedien alle portstyl wyne in gewone rooiwyn- of witwynglase. Dit laat hulle toe om gewarrel en geruik te word voordat mens hulle met oorgawe geniet. Is die klein glasies oulik? Ja. Is hulle prakties en stel hulle jou in staat om die portwyn behoorlik te ervaar? Nie eintlik nie.

Nodeloos om te sê, wanneer dit kom by waar, wanneer en hoe om portwyn te drink, is daar nie eintlik ’n regte of verkeerde antwoord nie. Solank jy dit drink en geniet, daarmee eksperimenteer en die veelsydigheid van portwyne omhels, sal jy nooit teleurgesteld wees nie (in ’n groot glas, natuurlik!).

Vir meer inligting oor De Krans se reeks wêreldklas portwyne, besoek www.dekrans.co.za, of stuur ’n epos aan [email protected] indien jy enige navrae of kommentaar het.

WEN!

Twee gelukkige lesers kan elk ‘n boks met SES bottels van De Krans se portwyne wen! Vul jou besonderhede hieronder in om in aanmerking te kom.

Kompetisie sluit 30 Julie 2019.

Get It ondersteun verantwoordelike alkoholgebruik. Drink verantwoordelik. Nie te koop aan persone onder 18 nie. 

 

Advertisement