Bloem sussies bring ‘n joga-ontploffing na Bloem – welkom Buti Yoga!

0
2684

Bloem-susters, Cindy en Wendy, bring ‘n splinternuwe, opwindende, polsende soort joga na Bloemfontein, wat ook ‘n eerste is vir Suid-Afrika. Welkom, Buti Yoga!

Cindy Greyling en Wendy van der Westhuizen is twee bondeltjies energie. Dié pragtige brunet sussies van Bloemfontein is albei mammas met ‘n passie vir adrenalien, beweging en die buitelewe. Albei het in die Rosestad grootgeword en woon tans hier met hul mans en kinders. Cindy het ‘n seuntjie (5) en dogtertjie (1), en werk by ‘n prokureursfirma. Wendy werk as ‘n verhuringskonsultant by die Nienkemper-groep, en is ‘n mamma van twee
seuntjies, ouderdomme 7 en 9.

Wendy van der Westhuizen en Cindy Greyling

Dié dinamiese sussies bring ‘n nuwigheid na Bloemfontein waaroor ons bitter opgewonde is: Buti Yoga. Cindy het tydens haar jaarverblyf in Frankryk in 2012 hiermee kennis gemaak en is sedertdien verslaaf aan dié unieke vorm van oefen. Buti Yoga bring ‘n verskeidenheid bewegings saam, insluitende vinyasa-styl joga en dinamiese joga-oefeninge, stam-geïnspireerde dans- en plyometriese oefeninge. Cindy verduidelik: “Buti is bekend vir sy kardio-intensiewe uitbarstings, oerbeweging en kondisionering. Alle formate bevat elemente van skud en virbrasie om gestoorde trauma in jou liggaam vry te laat en sellulêre reorganisasie te stimuleer. Skudding en vibrasie is die liggaam se natuurlike ‘go-to’ meganismes om gestoorde trauma vry te laat.”

“In die Buti Yoga-klasse lei musiek die klas soos ‘n interne GPS en elke klas is anders. Jy kan tussen 600 tot 900 kalorieë verbrand en dit gee jou ‘n slanke en gespierde lyf, sonder
gewigte.” Dis ‘n kragtige samevloei van verskeie bewegings met jogategnieke as die grondslag, ‘n alles-in-een kardiovaskulêre, prettige ontploffing!

Buti Yoga vier ook vroulikheid in elke vorm en beweeg liggaamsdele waarvan baie vroue vergeet het. Wendy voeg by: “Ons het vergeet hoe om voordeel te trek uit die vroulike energie en dis waarmee Buti help. Buti gee jou bemagtiging om jouself te wees en help vroue om hul emosionele, fisieke en energieke ervaring te integreer.”

Cindy se liefde vir oefening en fiksheid spruit uit haar skooljare. Sy was as ‘n tiener baie oorgewig en het besluit om ‘n gesonde leefstyl aan te neem. In 2013 het sy ook haar Persoonlike Afrigtersertifikaat deur ISSA voltooi. Vir Wendy beteken ‘n aktiewe en gesonde leefstyl dat sy oor die algemeen ‘n positiewer uitkyk op die lewe het en baie meer energie vir allerdaagse take het. Buti Yoga is nog nie in Suid-Afrika nie, en dié sussies is dus die eerste Buti Yoga-instrukteurs in die land nadat hulle in Junie vanjaar hul sertifisering gekry
het van die MVMNT Studio in New York. “Ons is só opgewonde om dit met Bloemfontein te kom deel. Met Buti Yoga voel jy vry en die harde musiek laat jou toe om jouself ten volle uit te leef in die musiek en bewegings. Dit help veral na ‘n rowwe dag en is ideaal om ontslae te raak van enige negatiewe gevoelens. En die beste: Buti Yoga gee vir jou spiere waarvan jy nie geweet het nie!” sê Wendy.

Volgens Cindy en Wendy het Bloemfonteinse vroue ‘n pad om te stap wat selfaanvaarding en selfliefde betref. “Vroue moet leer om meer tyd aan hulself te spandeer, om dit te doen waarvan hulle hou en wat hulle laat goed voel, om hulself lief te hê en te aanvaar, hul sensuele selfbeeld te verbeter en hulself te bemagtig as vrou.”

As werkende mammas kén Cindy en Wendy die dol leefstyl van ma-wees, vrouwees en loopbaangedrewe wees. Dit is juis nodig dat ons onsself soms eerste stel en bo alles na ons eie welstand omsien, meen Cindy. “Maak ‘n verbintenis met jouself dat jy na jouself gaan kyk en gee dit alles! Probeer altyd op ‘n Maandag met jou oefening begin en swaai  negatiewe denkwyses soos verskonings om na positiewe gedagtes. Maak ‘n bewustelike besluit om beter voedselkeuses te maak en oefen ‘n halfuur per dag, of minstens drie keer per week. Bederf dan jouself een keer per week.”

Wie kan daarmee begin?

“Ons fokus is nou uitsluitlik op vroue. Ons wil vroue inspireer, help en motiveer, maar dis ongelukkig nie vir swanger vroue nie. Alhoewel dit baie uitdagend is, is dit vir alle vlakke.
Jy kom soos jy is, begin waar jy is en doen wat jy kan! Jy hoef nie fiks te wees of ervaring te hê in dans nie. Dit leer jou om jouself uit jou geriefsone te stoot en te groei! Is dit intens? Ja. Is dit moeilik? Ja. Maar is dit nie die punt nie? Om uitgedaag te word? As daar
geen uitdaging is nie, is daar geen verandering nie.”

Wendy en Cindy hou ‘n Buti Yogabekendstelling op 3 Augustus saam met sielkundige Madeleen Steenkamp by die Be Human Family Market. Hulle begin ook in Augustus met klasse by hul nuwe Pop-up Buti Yoga Studio by Mimosa Mall (oorkant Brandwag se
parkering).

Meer inligting op Facebook: Buti Yoga SA. E-pos: [email protected]. 076-096-0821.

 

Fotograaf: Pierce van Heerden

Advertisement