Lani Skryf: Die pleidooi van die plooi

0
402
Insomnia girl. Vector. Cartoon. Isolated art on white background Flat

Dit begin nou gebeur. ‘n Grys haar word bespeur. ‘n Plooi word op ‘n foto raakgesien. Pigmentasie (onder die oë, van alle plekke) neem toe. Knieë maak snaakse klak-klakgeluide. Verkoues vat langer om gesond te word. My man se baard word grys. Ek sluk bedaarmiddels en luister na Seal.

My maggies, man. Ek is mos nog bloedjonk?? Ek het mos eergister nog in ‘n klaskamer op Kovsiekampus gesit en uilknip terwyl die dosent galbraak oor ons swak semestertoetspunte? Ek was mos verlede week nog op matriekvakansie, besig met wie-weet-wat?? (Ek weet wat, maar sal dit nooit weer herhaal nie) Ek het mos nou die dag nog saam met my ouers by die see gaan kamp, waar my pa baklei het oor tentpale en die kampvuur elke aand aan die boomtakke geraak het?

En toe vee ek my oë uit.

Toe word ek een oggend wakker in ‘n queensize bed, met grys winterlakens wat ek met my eie geld by Volpes gekoop het. Ek vee snotneusies af en spuit pligsgetrou natuurlike neussproei (tuisgemaak, soos my ma my geleer het – maar ek moet dit nou self doen) om die knaende allergie-sinus weg te hou. Ek smeer saans teenverouderingsroom rondom my oë en giggel oor die dae wat ek met donker grimering in die bed uitgepaas het na ‘n wilde aand uit. Ek spandeer nie meer my geld op duur rooiwyn, Forever New rokkies en Prime Circle kaartjies nie, maar op skopfietsies, klapperolie en doktersrekeninge. Ek stel ‘n alarm op my foon om my kat elke oggend en aand te voer, omdat daar nie ‘n backup-voerder in die huis is as ek dalk sou vergeet nie. Want ek is nou die grootmens, en dit stop by my.

Ék is die volwassene. Ek moet myself gereeld hieraan herinner, en vind vertroosting in die feit dat soveel van my vriende dieselfde erken. Ék moet my belasting self terugeis. Ék moet sorg dat daar altyd brood, melk, vrugte en groente in die huis is. (En ek moet self die groente gaarmaak én eet). Ek moet self my kar se lisensie betaal, met my mediese fonds arm druk oor reuse uitbetalings en skermutselings tussen my seuns uitklaar. Ék moet pakslae uitdeel, dreig, mooipraat, reëls neerlê en self by hierdie reëls hou. Ék moet self die besluit neem om minder swiets te eet en daagliks te maak asof ek van broccoli en pampoen hou.

Ek besef: Ék is nou die volwassene. Ék moet sorg dat daar altyd brood, melk, vrugte en groente in die huis is. (En ek moet self die groente gaarmaak én eet).

Maar in my hart wonder ek steeds watter hoesmedisyne werk die beste. Ek vergeet my eFiling se wagwoord ELKE LIEWE JAAR, en ek vergeet om my kinders se vitamines te gee. Ek probeer elke maand ‘n ander oogroom om die paniek binne-in my hart rondom oudword te blus. Ek hardloop dwarsdeur my knieë se klak-klak en bid dat dit vanself sal beter word. Ek forseer groentee in plaas van koffie in my keel af in ‘n halfhartige poging tot welstand, en drink meer water as wat ek eintlik kan hanteer.

Iewers in hierdie warboel van grootword- en oudworddinge sit ek vir ‘n minuut stil en besef dat grootmensdinge eintlik saam met soveel seën en voorspoed kom – al voel dit nie so nie. Ja, ek sit 7uur op ‘n Saterdagaand in ‘n snoesige pienk kamerjas voor die TV met ‘n glas rooiwyn in die hand, en gesels met my man oor lewenspolisse, immigrasie, slaghuise en my kind se skoolkonsert. En ek besef dat dit my eintlik dolgelukkig maak.

Want sien, my jongste plooi langs my oog is weens meer uit-die-maag lagsessies saam met my lawwe seuns en man, as wat ek ooit sou kon ervaar in my alleen-partytjie-dae. Die grys haar dui op wysheid (ek het in die jare self geleer hoe belasting werk, hoera), en my man se grys baard is ‘n herinnering dat ons al jare lank saam in hierdie malle gejaag is. My pienk kamerjas op die bank langs manlief weerspieël my tuiskoms. My gewrigte en knieë raak maklik seer, maar ek kan steeds hardloop wanneer ek wil, my seuns in die lug gooi en soggens pap roer vir my mense om te eet.

Elke plooi vertel ‘n storie. Elke traan wat gestort is bied insig tot my groei en elke pienk kamerjas is ‘n baken. My tuiste, my toekoms, my veilige hawe.

 

Tot ons weer gesels,

Lani

Advertisement