kykNET se 2019 Kokkedoor wenner Wilhelmina, deel haar kooktalent

0
1596

Bloem se eie Wilhelmina is onlangs saam met Pasch du Plooy van Heilbron aangewys as die wenners van 2019 se kykNET se Kokkedoor-werklikheidsprogram. En is ons nie trots op die nuwe Kokkedoor-kroon wat sy losgeslaan het met haar wonderlike kooktalent nie!

 

Wilhelmina Thirion Garçäo is ‘n sprankelende, passievolle siel met ‘n groot liefde vir kos, wat sy voluit uitleef in haar kookkuns. Sy vertel aan Get It hoedat sy in 2009 haar eie koffiewinkel oopgemaak het in Kimberley met die naam Wilhelmina’s. “In 2012 begin ek my man, wat in die korporatiewe omgewing gewerk het, help. Wat ‘n verskriklik vervelige tyd
was dit nie, ek kon nie my kreatiwiteit uitleef nie.” Wilhelmina hou daarvan om die
tradisionele kenmerke van Suid- Afrikaanse kosse in haar spyskaart te behou, veral as dit by nagereg kom. Dié Kokkedoor het as kind baie tyd in die kombuis deurgebring en onthou
met heimwee hoedat hulle “van die veld af gelewe het”. Na skool het sy ingeskryf vir ‘n paar ontwerpkursusse, maar voordat sy ‘n loopbaan daarvan kon maak, het haar ma haar aangemoedig om vir ‘n kookkompetisie in te skryf wat deur Sarie-tydskrif aangebied is. “Ek
het deelgeneem, maar nie die kursus voltooi nie. Gelukkig kon ek mettertyd myself leer.”
Wilhelmina kry haar inspirasie van internasionale kookprogramme op televisie en Netflix. “Ek en my sussies het altyd die kookkompetisies saam gekyk en kommentaar gelewer. Ons
het ook lekker saam gehuil wanneer ons gunsteling uitval,” vertel sy glimlaggend. Op die vraag wat vir haar belangrik is in ‘n kompetisie, antwoord sy, “Almal het op die ou einde hul
eie kookstyl en hul eie manier van inspirasie vind. Jy kan dus nie dieselfde as ‘n ander kok wees nie. Wat belangrik is, is dat jy jou egtheid behou in alles wat jy doen. Jy kan altyd dinge aanleer, maar jy moet nooit ophou eksperimenteer nie. Wees wie jy is.” Wilhelmina vertel hoedat sy dit altyd oorweeg het om eendag vir Kokkedoor in te skryf. “Ek wou dit nog altyd doen, en toe ek uiteindelik inkom en ons almal by die meet and greet kom, besef ek, O, Griet”, al die mense is só professioneel.” Sy het gedink sy het ‘n goeie idee van wat agter die skerms aangaan, maar min het sy besef wat alles gebeur toe sy op die eerste dag
van skiet daar instap. “My grootste worry was dat ek nie sou kon doen wat van my verwag word nie, want ek is ‘n prentjiemens en my kop kan nogal met my weghardloop.”

Die kookspanne op Kokkedoor bestaan uit twee kokke, wat dit baie makliker maak vir die
deelnemers. Sy vertel hoe lekker dit was om saam met almal te kon werk en hul stories te kon deel tydens die skiet van die program. Die deelnemers kon deurentyd ook gesellig saamkuier en mekaar better leer ken. Wilhelmina praat met groot lof van Pasch, haar
mede-Kokkedoor wat saam met haar die kompetisie gewen het. Wilhelmina verduidelik hoedat verskillende temas aan die kokke gegee is. “My gunstelingtema was die
‘Familie-ete’. Ek het soveel van ons land geleer, ook oor die verskillende bestanddele wat uit ons land kom en wat ander deelnemers in hul kosse gebruik het.” Een van die dinge wat
sy sal onthou, is hoe sy dit geniet het om tussen mense wat dieselfde passie deel, te kon wees. “Kosmaak is harde werk, so ‘n mens moet ‘n groot passie daarvoor hê. Ons het ‘n familie geword.” Met die tweede laaste episode kan Wilhelmina se nagereg beskryf word
as een uit die Kokkedoor-boek.

Vir haar was dit die hoogtepunt van die hele kompetisie, veral toe sy hoor dat Kokkedoor nog lank oor dié nagereg gaan praat en dit beslis sal onthou. “Die belangrikste wat ek uit die reeks geleer het, is dat ek baie van myself geleer het. Ek is so dankbaar om as een van die wenners uit soveel ander uitmuntende kokke aangewys te kon word. Dis meer as wat ek ooit verwag het.” Sy kon boonop haar veertigste verjaardag tydens die Kokkedoorprogram vier, wat dit ekstra spesiaal vir haar gemaak het. “Ek kan steeds nie glo ek het gewen nie, maar ek kan nie wag vir die toekoms nie. Ek het ‘n paar planne in die mou.”

Teks: SUANNE ENGELBRECHT. fotos: kykNET Kokkedoor

Advertisement