ʼn Bloudruk vir baanbrekerswerk

0
160

Jan en Petria Smit, Bloemfontein se bekende argitek-duo, vier vanjaar drie dekades as argitekte. Hier deel hulle hul sieninge oor argitektuur, maar ook breër. 

Eerstens, baie geluk op 30 jaar in die bedryf. Wat was van die hoogtepunte?  

Dankie, dis lank om te oorleef! Dit voel soos ’n ewigheid en tergelykertyd soos gister wat ons begin het. Daar is soveel hoogtepunte. Toekennings, reise van Malawi na Egipte na Europa, na die ou Oos-Europa, na Australië of sommer net in Namibië of Botswana: ander mense se leefpatrone en gewoontes interesseer ons baie, want die argitektuur vloei uit die leefwyses uit. Dan ook kongresaanbiedings regoor die wêreld. Ons het ses maande in Leicester, Engeland, klasgegee en elke naweek gereis na ’n ander deel van die land. Verder bly dit ʼn hoogtepunt om ’n gelukkige kliënt te hê na ’n lang ontwerp- en bouproses. Dit bly seker die hoogtepunt: om mense se lewe te verryk deur argitektuur – wat ’n positiewe beroep is dit nie!

Wat is kenmerkend van ’n Jan en Petria Smit-ontwerp?

Terreingetrou (pas aan op terrein), materiaal-eerlik met ’n besliste omgewingsklankie (Vrystaats in Vrystaat, Noord-Kaaps in die Kalahari). Met ander woorde, ons het nie ’n “signature style” nie, maar mens kan sien dis dieselfde “taal” terwyl elke gebou sy eie “stem” het.

Julle is ook betrokke by die Universiteit van die Vrystaat se Argitektuurdepartement.

Ja, ons is nog albei op kontrakbasis betrokke by die meestersgraad. Dit bly ’n groot voorreg om na 30 jaar steeds met toekomstige argitekte te werk en hulle voor te berei vir ’n baie moeilike beroep onder die huidige ekonomiese klimaat.

Julle huis teen ’n klipkoppie in Waverley spreek van julle respek vir die natuur en landskap.  

Ons het nie een boom verwyder op die koppie nie maar eerder toegelaat dat die bome en klippe ons lei om die huis tussen dit in te pas: dit het die plan help vorm. Noord was ononderhandelbaar, so alle leefdele front noord en word geskei van die nie-leefdele suid met ’n dik rooibaksteenmuur. Dit is eintlik twee blokke geskei deur ’n muur en met elk sy eie sinkdak. Die helling is steil en die gebou strek oor drie vlakke soos wat dit opstap teen Grant’s Hill.

Watter geboue in Bloemfontein en die Vrystaat bewonder julle?

Daar is goeie historiese geboue in Bloemfontein. Die Vierde Raadsaal en NALN is gunstelinge. Kontemporêr is Roodt Argitekte se stal-huisomskepping in Ray Champion-rylaan ’n pragtige werk. Dan verder in die Vrystaat: ou sandsteenhuise in die Oos-Vrystaat op plase. Die hoogtepunt is egter die graansilo’s (verkieslik die tradisioneles of die heel modernes uit vlekvrye staal). Die rede: hulle eerlikheid! Daar is nie een ding aan daardie geboue wat nie funksioneel en opreg is nie, en dit is hoe argitektuur behoort te wees: opreg en eerlik en wys wat hulle doen.

Julle het ’n wenvennootskap. Wat is julle resep?   

Om elke nuwe kliënt as uniek te sien en om nie ’n worsmasjien van ’n praktyk te probeer maak om geld te maak nie. Mense bestee baie geld om te bou, so ons bestee baie tyd aan hulle. As hulle na ons kom, werk hulle met ons – dis baie persoonlik. Ons is baie verskillend. Ons weet egter waar ons wil uitkom, al werk ons vanaf twee verskillende hoeke. Elk respekteer dus die ander een se kennis en vaardighede, wetende dat dit tot ’n beter eindproduk sal bydra. Ons glo kliënte voel ook aan dat hulle die beste van twee wêrelde in een pakket kry.

Julle sou sekerlik enige ander plek in die land kon woon. Hoekom Bloemfontein? 

Ja, die meeste van ons werk is tans buite Bloemfontein en daardie vraag kom gereeld verby. Die universiteitswerk hou ons ook hier en tans werk ons albei aan ons PhD’s. Dit behoort teen volgende jaar voltooi te wees en dan sal ons sien waarheen!

Laastens, wat sou julle graag as jul nalatenskap wou sien?

Daar is al meer as ʼn duisend studente deur ons hande en oral begin oud-studente uitstekende werk doen en presteer. Dis baie bevredigend en seker ’n nalatenskap. Wat die praktyk betref: wel, ons hoop die klompie goed wat ons gedoen het, wel eendag as goeie voorbeelde van ’n era beskou sal word. Goeie argitektuur het die gawe om mense te oorleef en steeds in die volgende generasies vreugde aan mense te bring.

Text: MARGARET LINSTRÖM. Photo: LOUIS REYNHARDT PRODUCTIONS & SUPPLIED

Advertisement