“Van ’n kunstenaar tot ’n staatsaanklaer, het ek as verkoopsman van ekonomiese behuising met een huisie as bouer heel onder begin en so my voet in die deur gekry van residensiële ontwikkeling en besef dat dit my nering en toekoms sou wees,” sê Buks Westraad.
Hy is tans op die raad en direkteurskap van verskeie operasionele asook eiendomsmaatskappye maar sy betrokkenheid is hoofsaaklik in Bloemfontein en op die Emoya-landgoed. “Ek is tans ook mede-ontwikkelaar van twee nuwe residensiële ontwikkelings buite die landgoed.”
Volgens Buks is die beste motivering en inspirasie as ontwikkelaar om soos ‘n kunstenaar op ’n skoon skilderdoek ’n ontwikkeling te visualiseer en die bevrediging van die ontwikkeling van ’n oop stuk grond tot ’n volledige prent te sien verrys.
“Ek en Ria-Lize, my vennoot – en toevallig ook my vrou – is ook betrokke by die bekroonde Emoya Spa en die Basotho Village Hotel. Dit was gedurende die Covid-19-pandemie ’n uitdaging om met toe deure die wa deur die drif te trek. Ons sê egter ‘die geld kan opraak maar nie ons planne nie’ en ons onderneming het deur die Genade weer kop opgetel en ons het geen personeel verloor nie.”
Buks sê indien hy sy loopbaan oor kon begin met die ondervinding wat hy nou het, sou hy dalk nie te veel daaraan verander nie, behalwe sy siening oor geld. Hy sou sy siening van ‘geld is nie alles nie, dit is maar 99%’ verander na ‘die belangrikste dinge in die lewe kan geld nie koop nie’.
Van al die ontwikkelings wat Buks oor die afgelope 30 jaar onderneem het, is hy die trotste op die Emoya Landgoed. “Ons spog met oor die 26 wildspesies, die lodge en spa en die mediese dorp wat nou ontwikkel word. Dit is seker een van die mees unieke ontwikkelings in Suid-Afrika en is ongeveer 270 hektaar in die middel van ‘n stad. Hopelik het dit ’n trotse baken vir Bloemfontein geword.”
Sy wenk aan aspirant-sakemanne en –vroue: “daar is slegs drie tipe mense – die wat dinge laat gebeur – die wat dinge sien gebeur en die wat vra ‘wat het gebeur? Onthou jy gaan val, maar dit gaan oor hoe jy weer opstaan en uit jou ondervinding leer. Dit is hoekom ’n motorkar twee klein spieëltjies het wat agtertoe wys en ’n groot ruit het waardeur jy vorentoe kyk,” sê Buks.
Wanneer hy nie besigheid doen nie is hy mal oor skets, diepseehengel, kitaar speel en rondrits. “Daar is so baie plekke in ons land en die wêreld om nog te sien en te ervaar. Die lewe is kort.”
Get in touch:
051 436 8471
Text: JUSTINE FORTUIN

