Hierdie sop is perfek vir koue aande, en propvol geur – ‘n gesonde, vertroostende maaltyd wat maklik is om te maak en moeilik is om te weerstaan.
Voorbereidingstyd: 20 minute
Gaarmaaktyd: 35 minute
Porsies: 6–8
Bestanddele
Sop:
- 2 medium lemoenpampoentjies, sade verwyder en gestoom
- 3 koppies pampoen, geskil en in blokkies gesny
- 1 medium rooi of geel ui, in blokkies gesny
- 2 blikkies bruin lensies
- 3 koppies groente-aftreksel
- 1 E borrie (turmeric)
- 1 t kerriepoeier
- 1 t mosterdsaadjies
- 1–2 t knoffelpasta of -vlokkies
- Olyfolie om te rooster
- Sout en peper na smaak
- 400 ml blikkie klapperroom
Krakerige rys:
- 1 pakkie Simple Truth “ancient grains”
- 1 t borrie
- 1 t komyn
- Olyfolie om te rooster
Bobotie-maalvleis:
- 250 g maalvleis
- 1 t borriepoeier
- 1 t koljander
- 1 t gemaalde borrie
- 1 t medium kerriepoeier
- 1 E sojasous
- 1/4 koppie blatjang
- Sout en peper na smaak
Bolaag:
- Lourierblare
- Swart mosterdsaadjies
- Klapperroom
- Saggekookte eiers
Metode
- Voorverhit die oond tot 180°C. Plaas die pampoen op ’n bakplaat met bakpapier, sprinkel met olyfolie, 1 t borrie, 1 t kerriepoeier, 1 t mosterdsaadjies, sout en peper. Rooster vir sowat 30 minute tot goudbruin.
- Kook die lemoenpampoentjies en verwyder die vleis. Verhit olyfolie in ’n groot pot en voeg speserye by. Braai tot geurig. Voeg die ui by en braai tot goudbruin.
- Voeg nou die lensies, lemoenpampoentjievleis, geroosterde pampoen, groente-aftreksel en klapperroom by. Laat prut vir sowat 30 minute terwyl jy die rys en maalvleis voorberei.
- Versprei die rys op ’n bakplaat met bakpapier, geur met speserye en bak vir 20 minute teen 180°C tot bros.
- Versprei die maalvleis op ’n ander bakplaat met bakpapier, geur met speserye, sout, peper en blatjang. Bak vir 25–30 minute totdat dit bros is.
- Sodra die sop geurig is en die pampoen baie sag, laat dit effens afkoel. Meng dan met ’n stokmenger, of skep die helfte van die sop uit, meng dit glad en voeg weer terug by die pot.
- Bedien die sop met ’n paar eetlepels krakerige rys, bobotie-maalvleis en die eier.
- Rond af met ’n paar lourierblare en ’n bietjie klapperroom. Geniet dit!
Bron en foto: MARIZA EBERSOHN – LIFEINTHESOUTH.CO/INSTAGRAM
- Advertisement -

