HomePeopleShe Means Business 2026: Rika du Preez Webbladkoördineerder by OFM, die klank...

She Means Business 2026: Rika du Preez Webbladkoördineerder by OFM, die klank van jou lewe

Met ’n passie vir mense, probleemoplossing en digitale innovasie glo Rika du Preez dat die beste resultate nie uit perfeksie kom nie, maar uit eerlikheid, deursettingsvermoë en die bereidheid om altyd te leer.

Behulpsaam, georganiseerd en betroubaar is die drie woorde waarmee sy die besigheid beskryf. Dit is ook die waardes wat haar benadering tot werk en mense elke dag rig in ’n besigheid wat interessant, kreatief en dinamies is.

Een van die grootste draaipunte in Rika se loopbaan was toe sy na ’n nuwe departement moes skuif en skielik meer verantwoordelikheid op haar skouers moes neem. “Ek het gewonder of ek die pyp sal kan rook,” vertel sy.

Dit was ’n oomblik van onsekerheid, maar ook van groei. Sy het besluit om haar fokus te verskuif: eerder as om alles te weet, sou sy haar beste gee, eerlik wees wanneer sy nie die antwoord het nie en alles in haar vermoë doen om oplossings te vind. “Ons is almal immers feilbaar en net mens.”

- Advertisement -

Toe sy haar loopbaan begin het, was perfeksie haar grootste dryfveer. Sy wou hê alles moes 110% reg wees, wat dikwels beteken het dat sy lank oor besluite getob het. Met tyd het sy besef perfeksie is nie altyd die maatstaf van sukses nie. Vandag beteken sukses vir haar om haar werk na die beste van haar vermoë af te handel en, waar moontlik, daardie ekstra bietjie te gee wat nie noodwendig van haar verwag word nie.

In haar bedryf is daar steeds baie wanopvattings. Mense besef nie altyd hoeveel beplanning, strategie en tegniese ontwikkeling agter aanlynadvertensie en webontwikkeling skuil nie. Sy verduidelik dat toepassings en weboplossings nie bloot “gou-gou” gebou word nie. Daar lê ure se beplanning, inligtingsessies en ontwikkeling agter elke projek. Selfs met die opkoms van kunsmatige intelligensie bly mense onmisbaar. “Daar is nog steeds goed wat deur ’n persoon geskep, gelaai of hanteer moet word.”

Sy put baie inspirasie uit die mense rondom haar. ’n Voormalige kollega, Rhoda, het met haar professionaliteit en bekwaamheid ’n blywende indruk gemaak en het later een van haar beste vriendinne geword. Sy voel egter bevoorreg om deur verskeie dierbare vriende omring te word. Elkeen bring iets uniek na haar lewe en leer haar steeds waardevolle lewenslesse. “Ek waardeer elkeen se vriendskap en omgee meer as wat hulle ooit sal besef.”

Wanneer die druk hoog raak, keer sy terug na wat haar gegrond hou. Sy begin deur te bid vir kalmte en leiding, sit haar oorfone in en luister na rustige musiek om weer fokus te vind.

Buite die kantoor vind sy vreugde in die eenvoudige dinge: ’n goeie boek, staptogte in die veld, koekies bak en nuwe resepte uittoets. Ná ’n lang dag geniet sy óf ’n koppie swart, bitter koffie óf ’n glas goeie droë rooiwyn – verkieslik ’n pinotage.

As sy haar jonger self raad kon gee, sou dit wees: “Vat meer kanse, gryp meer geleenthede aan en moenie bang wees om verkeerde besluite te neem nie. Mens leer soms die waardevolste lesse uit die foute wat jy begaan.”

Teks: SAZLY MOSES Foto: GYPSEENIA LION

- Advertisement -

Must Read