Boeke, boeke en nog boeke. Lekker lees!

0
405

Vegters deur Lucia Prinsloo

Kliek… en jou lewe verander. Onomkeerbaar. So sal Markus Meyer en Regardt Muller, twee avontuurlustige vriende wat ná matriek by die Britse Weermag aansluit en as lede van die gerespekteerde 3-Valskermregiment in Afghanistan diens doen, weldra leer.

Dit is egter eers wanneer stilte oor die slagveld neersif en die gevolge van konflik beredder moet word, dat die wáre vegters na vore sal tree. Daardie slagveld is nie noodwendig in ’n oorlogsgeteisterde gebied waar die droë hitte iets lewendigs is nie; soms lê dit ook tussen kamerade, gesinslede en verál midde-in die liefde; selfs ’n soen is by tye ’n landmyn wat afgetrap word.

Vegters is die merkwaardige verhaal van uitdaging, lojaliteit en deursettingsvermoë. ’n Verhaal wat die leser deur drie valleie sal neem: van die Gamtoosvallei in die Oos-Kaap na die Sanginvallei langs die Helmandrivier in Afghanistan, tot die Vallei van ’n Duisend Heuwels in KwaZulu-Natal waar die wêreldbekende Dusi-kanomarathon die twee vriende tot die uiterste sal beproef.

Wees gereed om oorbluf te word. Hierdie boek is nie ’n Sondagmiddagpiekniek nie – dis ’n ontsnappingsroete deur ’n slagplaas.

Vegters is ’n verhaal van hoop en versoening. Dis mooi. Dis bitter. Dis ’n emosionele wipplankrit. Daar is oomblikke van teerheid, maar voor jy te gemaklik raak, word jy aan die bek geruk; dié boek gaan by bly en jou uit jou gemaksone ruk, dit is gewis.

Louis Esterhuizen sê oor Vegters: “Hierdie werk is by verre een van die mees indrukwekkende tekste wat ek tot nog toe die voorreg gehad het om te hanteer.”
* Vegters is teen R295 by toonaangewende boekwinkels beskikbaar, Wenkbrou. 

 

Uit die hart van ’n vrou deur Rozaan de Wet

Claire die krat met leë drankbottels ontdek, skiet haar gemoed vol. Sy is tot sterwens toe moeg vir haar man se drinkery en verlaat hom tydelik deur te ontsnap na haar huis by die see. Aan die ander kant dra sy swaar aan haar aandeel aan Kris se probleem. Dit grief haar dat haar man so pateties afhanklik geword het van drank en dat dit veroorsaak dat selfs sy waardigheid in die slag bly. Die ergste is sy ontkenning van die probleem en dat hy halsstarrig op ’n pad van selfvernietiging is.

Daarenteen weifel Wanda by haar eie vurk in die pad. Net toe sy dink Sephus het sy ou streke laat staan, steek dit weer kop uit en moet sy uit noodweer optree om dinge stil te hou, want die dorp is klein. Sy ken haar man en sy beheer oor haar. Hy maak haar sag om haar lojaliteit te koop, maar sy is gekonfyt daarin om hom te paai en sy onbeheersde woedebuie te temper, hoewel dit nou so geëskaleer het dat dit onhoudbaar is.

Beide vriendinne sukkel om emosioneel kop bo water te hou, maar daar is troos in susterskap. * Uit die hart van ‘n vrou is teen R285 by toonaangewende boekwinkels beskikbaar, LAPA Uitgewers.

 

’n Goeie jaar vir rose deur Santie van der Merwe

Neil Viljee vlug Australië toe ná ’n tragedie, maar hy kom terug toe sy ma hom laat weet sy pa is terminaal siek: om afskeid te neem en sy ouers by te staan. Dis egter nie sy ma wat hom inwag nie. Hy tref sy pa, ’n familievriendin en sy niggie se ontwrigte tienerdogter aan, want sy ma is onverwags dood aan ’n hartaanval.

Neil besef dat hy in Australië net sy vroeëre rouproses uitgestel het, en die verlies aan sy ma dwing hom om die verwoestende gebeurtenis, wat hom landuit laat vlug het, in oënskou te neem. Karel probeer Neil help midde-in sy eie droefheid en fisieke agteruitgang. Millie skep orde terwyl sy ’n besluit probeer neem oor haar huwelik wat in gevaar is. Charlie weet dat sy nie terug kan gaan na haar bedenklike huislike omstandighede nie, en sy probeer haar agterstallige skoolwerk inhaal en ’n toekoms op haar eie karteer.

Elkeen verwerk die geliefde Lea se dood op ’n eiesoortige manier. Innerlike konflik word na die oppervlak gedwing en geheime en waarhede word ontbloot. Hulle vorm ’n unieke gesin, wat mekaar dwing tot selfondersoek, maar wat mekaar veral ondersteun en bystaan, en elkeen vind ’n mate van vrede. * ‘n Goeie jaar vir rose is teen R285 by toonaangewende boekwinkels beskikbaar, LAPA Uitgewers. 

Advertisement