HomePeoplePersonalitiesNóg 'n treffer vir Joshua na die Reën

Nóg ‘n treffer vir Joshua na die Reën

Pretoria se eie Joshua na die Reën het in 2014 begin naam maak en sedertdien is daar geen keer aan dié talentvolle en multi-bekroonde musikant nie.

Nou is hy terug met sy derde enkelsnit “Sterrenet” vanaf sy album Someraarde wat reguit met die hart praat.

Die eerste twee enkelsnitvrystellings, “Soos in Nou” en “Soos die Wind” het binne enkele dae na uitreiking radiostasies, landswyd, se trefferparades oorgeneem en vir weke aaneen daarop gepryk.

- Advertisement -

Hierdie liedjies word gereeld op radiostasies in Suid-Afrika en Namibië gehoor, so hou jou ore gespits.

“Ek en my dogtertjie, Anán, het so drie jaar terug een aand op ons huis se stoep gesit, toe sy my uit die bloute vra om na die sterre te kyk,” vertel hy.

“Toe ek my aandag daarop fokus, besef ek hoe lank terug ek laas die sterre waardeer het.

“Haar woorde het vir my amper geword soos ’n net wat my vang uit my gejaagde skedule en pas waarteen ek soms leef, en my net weer bewus maak van iets mooi en konstant soos die sterre en daaruit is die naam en idee vir die liedjie gebore.”

Die liedjie spog met ’n opgewekte, speelse ritme en die lirieke sal aanklank vind by gehore van alle ouderdomme.

“Ek weet almal sê dit altyd, maar wanneer ’n mens kinders kry, beleef jy weer baie dinge waarvan jy al vergeet het. Hopelik is die doel wat ‘Sterrenet’ bereik om iemand weer die mooi en opwindende dinge van die lewe te laat voel,” verduidelik hy oor die betekenis agter die woorde en wysie.

Joshua na die Reën het reeds drie suksesvolle albums op sy kerfstok en het – buiten vir Huisgenoot Skouspel en Gospel is Groot – al die verhoog met gesoute kunstenaars soos Elvis Blue, Jak de Priester, Amanda Strydom, Laurika Rauch, Richard van der Westhuizen en Die Heuwels Fantasties gedeel.

Hy is ook deel van die musiekbeweging Musiek Soos Grond saam met sy vriende en mede-musikante, Lizandra Winter, Len Muller, Kaleidoskoop, Leon Gropp, Liani Reynolds en Douvoordag.

“Daar was al ’n hele paar hoogtepunte in my musiekloopbaan, maar vir my bly dit ’n groot voorreg om tydens optredes musiek te kan maak saam met vriende wat regtig naby aan my hart is,” meen hy.

Die sanger, wat eersdaags ’n babaseuntjie ryker word, verklap dat hy baie opwindende planne vir die toekoms het, wat heel moontlik ’n toer na Europa (saam met sy orkes) gaan insluit.

Oor dié opwindende moontlikheid, sê hy: “Ek sien ongelooflik uit daarna om my musiek met die mense daar anderkant te deel.”

Die liedjie “Sterrenet” is beskikbaar op sy album Someraarde Vir meer oor Joshua na die Reën volg hom op FacebookTwitter of Instagram of besoek sy webtuiste www.jndr.co.za

- Advertisement -

Must Read