HomeLifestyle & TravelLifestyleVergeet my Nie film laat die fliekgangers tou staan. Ons gesels met...

Vergeet my Nie film laat die fliekgangers tou staan. Ons gesels met die regisseur André Velts

As jy nog nie jou kaartjies vir die splinternuwe Afrikaanse film Vergeet My Nie bespreek het, sal jy moet gou spring. Fliekgangers staan behoorlik tou om dit te sien en dis die perfekte voel-goed film vir jou en jou lief… ja mens kan jou liefie elke dag bederf.

Die film, gegrond op die ware liefdesverhaal van Hugo en Mardaleen Derks van Namibië, vertel die storie van Mardaleen (Marguerite van Eeeden), ’n gekultiveerde student, vasgekeer in die klein dorpie Potchefstroom, smag na die liggies en kultuur van Londen. Na die aaklige verbrokkeling van haar verhouding, pak sy haar tasse en vertrek na haar droomstad saam met haar beste vriendin, Lara (Kenley Swart). Hulle bly in Huis Konettie, saam met vyf ander Suid-Afrikaners wat in Londen werk. ’n Onverwagse romanse ontstaan tussen Mardaleen en haar Namibies-gebore huismaat, Hugo (Sean-Marco Vorster). Dit voel te goed om waar te wees en die oomblik wanneer dinge te ernstig raak en nie heeltemal verloop soos sy beplan nie, laat sy haar onsekerhede en vrese oorspoel in haar verhouding in.
Sy hardloop weg en gaan huis toe. Hulle romanse vlam weer op wanneer hulle twee jaar later ontmoet, gevolg deur ’n uitnodiging van Hugo aan Mardaleen om vir hom in Namibië te gaan kuier. Haar naweek in Namibië ontaard in ’n nagmerrie. Afgesien hiervan, vra Hugo haar om te bly en om ’n nuwe lewe saam te bou, maar sy het ander planne en is hardkoppig. Mardaleen wil kultuur, die stad en liggies hê – die plaas is nie ’n plek vir ’n meisie soos sy nie.

Die rolverdeling sluit onder andere Marguerite Van Eeden, Sean-Marco Vorster, Kenley Swart, Amalia Uys, Pietie Beyers, Elani Dekker, Rick Strauss, Leché Joubert, Fiona Ramsey, Arno Greeff en vele meer in. Die regie is deur André Velts behartig en Marius De Nysschen is die kinematograaf.

- Advertisement -

Om bietjie meer oor die film te wete te kom het ons met regisseur André Velts gaan gesels.

Wat behels die werk van ‘n regisseur?
‘n Film regisseur word aangestel om die draaiboek te visualiseer en dit op ‘n kunstige en dramatiese manier uit te beeld. Hy is ook daarvoor verantwoordelik om die filmspan en akteurs bymekaar te sit om daardie visie op die groot skerm uit te beeld.

Watter vaardighede is nodig om ‘n goeie regisseur te wees?
Daar is drie komponente. Eerstens moet jy tegniese vaardighede hê. Jy moet weet wat elke kamera en lens kan doen en weet watter toerusting op jou stel is om te kan gebruik om jou storie die beste te vertel. Dan, het jy visualiseringsvaardighede nodig. Jy moet weet presies wat jy wil doen en hoe dit moet lyk as die eindproduk klaar is. Sonder dit probeer jy maar net goed en is jy nie werklik seker of dit gaan werk nie. As jy ‘n baie sterk visuele beeld in jou kop het gaan jou storie altyd sterk vertel word. En dan laastens moet jy ook goed in menseverhoudings wees. Jy moet weet hoe om met jou akteurs en filmspan te kan praat. Hulle is die belangrikste mense op stel en moet jou help om jou storie te vertel.

Jy is bekend as akteur maar ook vir jou werk agter die kamera. Wanneer het jy die eerste keer geweet dat jy as regisseur wil werk?
Toe ek as drama student in my vierde jaar was het ek klein filmpies (tussen drie tot vier minute elk) as deel van klas projekte begin maak. Ek het begin agter kom ek hou van die tegniese komponente en om met die akteurs te werk. Naderhand het ek dit so baie begin doen dat dit amper nie meer vir my lekker was om voor die kamera te wees nie. En omdat ek dan ook weet wat dit vat om ‘n akteur te wees, weet ek ook hoe om die akteurs te lei om die beste moontlik boodskap op film oor te dra.

Hoe sal jy die film in jou eie woorde beskryf?
Dit is ‘n ware verhaal gebasser op Mardaleen en Hugo Derks se liefdesverhaal en dis ‘n film wat uitbeeld hoe toeval, liefde en vriendskap bymekaar kom en ‘n goeie resep vir romanse is.

Het jy kontak met die werklike Mardaleen en Hugo Derks gehad en hoe stem hulle met die karakters ooreen?
Die minuut wat ek die film gekry het, het ek met hulle kontak gemaak. Hulle bly natuurlik in Namibië so die manier van kommunikasie was ‘n bietjie moeilik. Ons het geWhatsApp en geskype. Ons het gepraat oor daardie era en wat hulle gedoen het in Londen en ek het ongelooflik baie foto’s van hulle af gekry wat ek kon gebruik het – ek het probeer om die plekke waar ons verfilm het so na as moontlik te kon kry aan hoe dit vir hulle gelyk het op daardie tyd. Daar is ook natuurlik dramatiese elemente by hulle storie gesit om seker te maak dat hulle storie internessante genoeg kan wees vir die grootskerm. Die akteurs het hulle ook natuurlik ontmoet.

Waar is die film orals verfilm?
Ons het in Johannesburg begin, Potch toe gegaan, Kaapstad toe gegaan, Londen toe gegaan en toe is ons Namibië toe. Die moeilikste plek om te verfilm was natuurlik Londen; hulle het ander reëls as ons. Ons het in die Londen Underground, by the Teems rivier en by Tower Bridge geskiet. Dit is publieke areas so ons kon nie die die areas afbaken nie. Ons moes kreatief raak en seker maak die agtergrond is skoon voor ons begin wat beteken dat ons soms ure vir ‘n skoot moes wag. In die Underground trein moes ons soms heen en weer ry om seker te maak die mense in die agtergrond het almal 90’s mode aan. Almal het deesdae ‘n selfoon of het oorfone in en alles lyk modies.

Wat is die boodskap wat jy wil hê kykers uit die film moet kry?
Een van die boodskappe wat veral aan die begin van die film deurkom is dat jy iemand kan ontmoet maar nooit sal weet of dit dalk die liefde van jou lewe kan wees nie. Hanteer elkeen met respek en liefde en jy mag dalk die liefde van jou lewe ontmoet.

Vertel ons van die akteurs. Het julle spesifieke akteurs vir die rolle ingedagte gehad?
Ek het na foto’s van Hugo en Mardaleen gekyk en gekyk of ek nie akteurs kan kry wat min of meer soos hulle kan lyk nie. Ek het ook natuurlik audisies gedoen en gekyk of ek die beste kombinasies kon kry want dit is wat die film laat werk. Die film het heelwat vars gesigte wat die film ook vars met ‘n vars uitkyk maak.

Die film gaan grootliks oor die liefde. Is jy romanties?
As regisseur is ek baie gefokus op wat die eindproduk van die film moet wees. En ek dink nie jy sal dit kan maak as jy nie romanties is nie, as jy nie weet wat die trefpunte van die film is nie. So ja, ek is romanties.

Enige ander projekte vir die jaar waarvan jy ons kan vertel?
Op die oomblik is ons besig met twee nuwe projekte. Ons is besig om ‘n boek te omskryf in ‘n draaiboek in waaroor ek nog nie baie kan uitbrei nie. En ons is ook besig met ‘n nuwe TV-reeks wat hopelik einde Junie verfilm gaan word.

Kyk hier na die lokprent:

Vergeet My Nie is die jongste film uit die The Film Factory-stal, en is in samewerking met Huisgenoot en kykNET Films vervaardig en uitgereik. Bespreek nou jou kaartjies.

 

 

 

 

 

- Advertisement -

Must Read