HomeLeisureReviewsMoordlustige leesstof vir Maart

Moordlustige leesstof vir Maart

Liewe Mamma deur Esther Verhoef

Een knal en haar geordende lewe is nooit weer dieselfde nie … Helen geniet haar werk as opgeleide teatersuster. Sy woon in ’n pragtige huis. Haar man maak verskriklik baie geld. Die drie kinders doen goed vir hulself. Op ’n Vrydagaand gaan sy altyd gimnasium toe, want haar lewe het ’n vaste ritme. Sy kom by die huis en betrap ’n inbreker. Uit selfverweer skiet sy hom dood. Wat nou? Meld hulle dit by die polisie aan, sal haar man se ondernemings daaronder lei. ’n Entjie verder sit Ralf en wag vir sy vriend wat vinnig-vinnig geld gaan steel by ’n ryk sakeman. Hy hoor skote klap en besef uiteindelik dat hy sy vriend nooit weer sal sien nie. Na die polisie kan hy nie gaan nie, want dan stel hy homself bloot. Dié boek ondersoek die nadraai van daardie noodlottige aand. Helen en Ralf spook albei met hulle eie demone en skuldgevoelens.
Liewe Mamma is ’n angswekkende roman oor ’n vrou se skynbaar perfekte lewe wat kruis met dié van ’n jong gewoontemisdadiger; selfs in verre Nederland is die werklikheid nie altyd so rooskleurig soos die skyn nie. Liewe Mamma is die eerste van haar boeke wat in Afrikaans vertaal word. * Liewe Mamma is teen R315 beskikbaarm LAPA Uitgewers.

- Advertisement -

As jy van moord droom deur Deborah Steinmair

Wat maak ʼn ma as haar sesjarige kind ontvoer word en 20 jaar later weer verskyn? Erin se dogter wat op ses verdwyn het, klop 20 jaar later aan haar deur. Maryna praat beter Chinees as Afrikaans, sy is grotesk, het ’n daggagewoonte en sê amper nooit enigiets nie. Erin is nie ’n emosionele mens nie, haar greep op die werklikheid is glibberig en sy praat self moeilik oor haar gevoelens. Erin is obsessief oor die man wat haar verlaat het en die jeugvriend wat steeds na haar hunker. Hoe gemaak met die kuiken wat onder haar vlerk uit gesteel is, wat deur vreemdelinge hanteer is sodat sy haar reuk nie meer eien nie, wat grootgeword en tuisgekom het om te broei?
Wie lê op loer na haar kind? As jy van moord droom, voel dit dikwels asof jy in ’n parallelle werklikheid gemoor het uit woede; jy word met ’n knaende skuldgevoel wakker en wonder waartoe jy regtig in staat is. Erin het haarself beskou as iemand aan wie moederinstink ontbreek, maar toe haar kind verdwyn, het haar lewe alle betekenis verloor. Nou is Maryna terug. Hoe dring Erin tot hierdie woedende vreemdeling deur? En hoe hanteer Erin haar eie woede oor wat ander aan haar kind gedoen het?
Die storie van Gert van Rooyen en Joey Haarhoff was die sneller vir die roman. Daar is heelwat boeke oor kinders wat verdwyn, maar min oor ’n beskadigde kind wat terugkom. *As jy van moord droom is teen R300 beskikbaar, LAPA Uitgewers.

Ter wille van jou deur Magdaleen Walters

Geboei aan die verlede? Christoff de Lange is ’n lid van die polisie se taakmageenheid. Hy word valslik van dwelmhandel aangekla en kry drie jaar tronkstraf. Hy spandeer elke sent wat hy het op regshulp om sy onskuld te probeer bewys, maar as hy uiteindelik ’n kwytskelding kry, is hy steeds nie nader aan die waarheid as die dag waarop hy gearresteer is nie. Hy is sinies, bitter en werkloos. Met die hulp van oom Bertie, ’n afgetrede sersant en sy vriend, vind hy ’n werk en ’n plek om te woon in Stoffel Myburgh se houtwerkfabriek op ’n kleinhoewe buite Johannesburg. Juanita, Stoffel se dogter wat ook daar werk, is minder entoesiasties oor haar pa se besluit. Daar is absoluut geen plek in haar lewe vir ’n tronkvoël nie. Buitendien dra sy swaar aan haar eie bagasie. *Ter wille van jou is teen R250 beskikbaar, LAPA Uitgewers.

Bloedfamilie deur Elsa Hamersma

Een moord in die familie is erg genoeg, maar twee in een week raak bisar. Soos Kain en Abel het Bart en Jakes Brink nie liefde vir mekaar nie. Bart is talentvol, aantreklik, sportief en populêr, maar ook inherent sleg en ʼn opperste skelm met geen genade vir sy medemens nie. Jakes is onaantreklik, vol skete en kwale en sonder uitstaande talente, behalwe dat hy ’n finansiële sukses van sy lewe gemaak het. Jakes is nie verbaas wanneer Bart een aand brutaal vermoor word nie, want hy het baie vyande gehad. Tog is die familie geskok om te hoor dat die speurders vermoed die moordenaar is een van hulle. Die tweede moord enkele dae later skep selfs meer vrae. Is die moordgeen in die familielede se DNS? Of lê die motief vir die moorde in ʼn familiegeheim? Die moorde is oënskynlik impulsief en sonder voorbedagte rade gepleeg. Die speurders sit met min leidrade. Hoe vind hulle die moordenaar tussen die drie sibbe en vier kleinkinders? *Bloedfamilie is teen R300 beskikbaar, LAPA UItgewers.

Afspraak met moord deur Jana Marx

“Daar was bloedspatsels oor die koffietafel, die banke en die banke se kussings. Peter en Joan was oortrek van steekwonde in hul rûe, nekke en agterkoppe. Nicholas het sy pa en ma gesigte na onder in ’n bloedbad op die mat in die sitkamer gekry. Hulle het hul hek en huis vir hul moordenaars oopgemaak, want hulle het ’n afspraak gehad.” Elf wrede moorde oor ’n tydperk van vier jaar ruk die gemeenskap van Krugersdorp en haal landswyd nuusopskrifte. Eindelik word al hierdie moorde verbind met Cecilia Steyn en haar kultusgroep, Electus per Deus (uitverkies deur God). Lede van die groep aanbid die grond waarop Cecilia loop en sal selfs vir haar moord pleeg. Die moordenaars is slim, gewone mense – ’n onderwyseres, ’n finansiële makelaar, ’n kind wat tussen die moorde deur steeds ses onderskeidings in matriek behaal en boonop keuring kry om medies te gaan studeer. Hul slagoffers het bloot ’n sakeafspraak nagekom, min wetend dat dít ’n afspraak met die dood was. Wie is Cecilia Steyn? Hoe kan een mens vyf ander manipuleer om moord te pleeg en namens haar in die hof te lieg? Watter rol het Satanisme gespeel? Hoe ontduik onervare misdadigers die polisie vir so lank? Jana Marx beantwoord dié en ander vrae wat gespruit het uit een van die opspraakwekkendste moordsake in die land se geskiedenis. Danksy onderhoude met diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor ’n tydperk van vier jaar, poog Marx om die publiek se vrae te beantwoord en ’n blik te gee op die binnewerkinge van só ’n kultus. *Afspraak met moord is teen R295 beskikbaar, LAPA Uitgewers.

- Advertisement -

Must Read