Sannie Slabbert wuif vaarwel aan FNB na 35 jaar

0
520

Met meer as 35 jaar diens in die bankwese agter die blad, wuif Sannie Slabbert nou vaarwel toe aan FNB en die wêreld van finansies en syfers.

Haar nalatenskap as kundige in Portefeuljebestuur en Verkope die afgelope 20 jaar is ‘n pot goud vir jonges in dié bedryf.

Hoewel sy hoë hoogtes in haar loopbaan behaal het en verskeie toekennings gewen het, is haar voete plat op die plattelandaarde (sy het op ‘n plaas in Bethlehem grootgeword), en sien sy nou uit na die rustigheid wat aftrede bied. “Ek het in Bethlehem by FNB (was Barclays tot 1987) begin en het die bankwese van die begin af geniet. My man is ook nou afgetree, en ons seun, Johan, het ná sy skoolloopbaan op Grey-kollege aan die NWU gaan studeer. Hy werk nou as meganiese ingenieur in Johannesburg.”

Sy was uit die staanspoor versot op die bankwese. Hoewel dit soms ‘n uitdaging was om haar huishoudelike take saam met haar beroep te hanteer en steeds genoeg aandag aan haar seun en man te kon gee, gee sy hope erkenning aan haar man se onfeilbare ondersteuning deur die jare, en sal sy haar tyd by FNB vir niks verruil nie. “My passie is om mense te help. Daarom ag ek myself as bevoorreg om in my pos waarde te kon toevoeg tot die lewens/besighede van soveel van my kliënte. Ek het ook só baie by hulle oor entrepreneurskap geleer.”

Dit was veral die waardes en kultuur van FNB wat deur die jare heen vir Sannie by dié instelling vervulling verskaf het. “FNB is ‘n familie wat sy waardes en beginsels nastreef, sy personeel bemagtig om innoverend te kan wees en ondersteuning bied aan al sy werknemers.”

Buite die kantoor geniet Sannie en haar gesin die buitelewe, kampeer, stap, draf en tuinmaak. Hulle reis graag saam en hou veral van tropiese eilande. “My man en seun geniet motors en motorsport geweldig, en ons woon dikwels sulke geleenthede by.”

Wat lê nou vir Sannie voor? “Min mense weet dat ek gaande is oor rock-musiek. Ek luister dit graag kliphard in my motor, en wil nou in my tyd van aftrede leer om elektriese kitaar te speel.”

Loer na www.fnb.co.za.

Advertisement