Women on the Move: Moenie jouself onderskat nie, Lizanda Claassens

0
157

Lizanda Claassens van die Manshaarsalon, Bloemfontein het in die pragtige Oos-Vrystaat grootgeword waar haar ma ‘n haarsalon gehad het. Sy was van kleins af deel van dié bedryf en haar passie om diens te lewer, het daar reeds ontwikkel.

Sy glo dat almal ‘n roeping in die lewe het en is dankbaar dat sy hierdie roeping kan vervul en dit 100% kan uitleef.
Behalwe die feit dat Lizanda tans ‘n paar salonne besit, doen sy ook indiensopleiding en werk self in die salon. Sy geniet dit om heeldag met mense te werk en so ook mense te leer ken.

Die beste besluit wat sy ooit geneem het, was volgens haar die dag toe sy die geleentheid aangegryp het om ‘n salon oop te maak en met toewyding haarself 100% te verbind daartoe. Sy besit tans salonne in Curielaan, Preller Walk en Pick n Pay Southern Centre en voel dat dit dalk ‘n minder goeie besluit was om in dié besigheids- omgewing al haar eiers in een mandjie te hou. Sy beskou een van haar tekortkominge as die feit dat sy te maklik mense vertrou.

Op die vraag hoe sy haar werk en gesinslewe balanseer, sê Lizanda, “Ek bestuur my tyd goed. Ek maak van alles lysies en werk volgens dit. Ek is gebalanseerd. Ek het ‘n gevestigde roetine. Ek dink om goeie stokperdjies saam jou gesin te geniet, help om kwaliteittyd met jou gesin deur te bring.”

Haar raad aan hoe mense die pandemie kan oorleef, is om te spaar waar jy kan, dit dag vir dag te vat en om vas te hou aan jou geloof om jou sterk te hou. “Elke dag sorg vir homself.”

Haar raad aan jong sakevroue: “As jy nie ‘n kans gaan waag nie, gaan iemand anders dit doen. Moenie jouself onderskat nie. Jy het meer potensiaal as wat jy dink. Mik hoog. Jy het net een naam in besigheid, pas dit op. Staan vroeg op en werk hard vir wat jy wil hê.” Lizanda ondersoek haarself gereeld, sodat sy uitkyk vir leemtes en tekortkominge en dan aanpassings maak indien nodig. “Ek bly nederig, want ek weet alles is net genade van Bo.”

Lizanda Claassens, 071 364 4635, Die Manshaarsalon

Advertisement