‘n Hartsprojek soos min… Storie Huis

0
864

Wanneer ‘n mamma en haar dogtertjie se passie vir boeke ‘n lewe van sy eie aanneem, weet jy jy’t ‘n wenresep beet. Hier gesels Get It met Madaleen Olivier, die meesterbrein agter Storie Huis…  

Wat het julle geïnspireer om Storie Huis te open?

Storietyd is een van die spesiale dinge wat ek en my dogtertjie, Jenni, deel. Ons het nogal ‘n aptyt vir boeke en is altyd op die uitkyk vir nuwe, interessante boeke. Teen die tyd dat sy vyf jaar oud was, het ons reeds ‘n paar honderd prenteboeke in ons versameling gehad. Die boeke het van regoor die wêreld gekom, sommige was versamelstukke, sommige uit druk, sommige tweedehands. Ons wou graag die skat van stories met ander kinders deel sonder om ons boeke weg te gee. Die idee van ‘n storieklub het toe gegroei tot ‘n huis met ‘n biblioteek wat toeganklik sal wees vir ander kinders sonder om ons privaat woonruimte bloot te stel. Ons het na die huis begin verwys as die storiehuis, en dit word toe ook sommer die huis se naam. Ons grap altyd dat ander mense ‘n vakansiehuis bou, maar ons het ‘n storiehuis gebou!

Vertel ons van julle gesin. 

Storie Huis is ‘n mamma-dogter-projek. My dogtertjie is nou sewe jaar oud. Sy wil graag ‘n skrywer en ruiter wees wanneer sy eendag groot is. Behalwe mamma-wees werk ek voltyds as kliniese patoloog. Storie Huis is ‘n kreatiewe uitlaatklep as afwisseling van my dag (en nag) werk. Pappa is ‘n chirurg en is gaaf genoeg om ons vroumense te laat begaan. Hy skud net soms sy kop wanneer ons weer ‘n nuwe idee kry, soos om die voordeur pienk te verf.

Julle bied ‘n groot verskeidenheid aktiwiteite by Storie Huis aan.

Ons storieklub, wat gemik is op kinders van drie tot agt jaar, is Maandae tot Vrydae van 08:30 tot 16:30 oop. Ouers en kinders kan gedurende die tye self kom lees. Om 11:00 en 15:00 is daar ‘n storietyd waartydens daar voorgelees word. Ons poog om stories uit ons klassieke versameling, van Suid-Afrikaanse skrywers en ‘n internasionale skrywer, te lees tydens die storietye. Ons bied ook programme aan soos filosofie vir kinders, die Little Leaders–program, wat gemik is op kinders van ses tot tien jaar, rekenaar- en koderingklasse, Sesotho en openbare redevoering. Al ons programme word in Afrikaans en Engels aangebied.

Die klem by Storie Huis is op vyf fokuspunte – kreatiewe probleemoplossing, sosio-emosionele ontwikkeling, kommunikasievaardighede, filosofie en etiese denke, en leierskapsontwikkeling. Al die programme ontwikkel hierdie vaardighede op ‘n prettige en interessante manier. Ons hoop dat die stories en ander aktiwiteite nie net ‘n liefde vir lees kweek nie maar ook saadjies plant wat eendag ontwikkel in selfversekerde, dapper, outentieke jongmense wat bedagsaam teenoor ander is, weet hoe om die wêreld konstruktief te bevraagteken, en leiers is met integriteit. Sjoe, ‘n mondvol idealisme, maar stories is ‘n invloedryke medium wat deur die eeue heen gebruik is om waardes en lewenslesse aan kinders oor te dra.

Wat verpersoonlik Storie Huis?

Storie Huis verpersoonlik ‘n oop hart vir mense se diversiteit, ‘n optimistiese leergierigheid en hoop vir ons kinders vir ‘n samelewing waar ons mekaar respekteer en bemagtig. Maak nie saak van watter vasteland die kinderboeke kom nie, almal het een ding in gemeen –  in die stories is die beste van menswees en die wêreld waarin ons leef, daar is altyd ‘n silwer randjie, ‘n probleem opgelos, mooi midde in die lelik, en hoop.

Vertel ons van die span by Storie Huis.

Tella is ons gasvrou, sy ontvang ons gaste en sorg dat ouers gemaklik is met ‘n koppie koffie en die kinders by die regte klas uitkom. Bianka organiseer en bestuur die dag-tot-dag behoeftes van die huis en behartig administrasie. Lize organiseer die storieklub se aktiwiteite en bied ook die openbare redevoering aan. Simone bied filosofiegroepe, rekenaar- en koderingsklasse, Little Leaders en soms storieklub aan. Sy is tans deeltyds besig met haar meestersgraad in karakteropvoeding by die Universiteit van Birmingham. Ninké is ‘n onderwysstudent en bied ons middag-storieklub aan. Ronel, bygestaan deur Rebecca, bied ons Sesotho-klasse aan.

Vind Storie Huis by Genl Cronjéstraat 46, Dan Pienaar. E-pos [email protected], of 082 600 6546.     

Text: MARGARET LINSTRÖM. Photo: PIERCE VAN HEERDEN

Advertisement