“Die uitdrukking ‘dinamiet kom in klein pakkies’ som my perfek op. Ek glo enigiemand wat net vyf minute in my geselskap deurbring, sal weet dat my man en seuntjie die absolute hoogtepunte van my lewe is – en eintlik my grootste sukses.”
Teneil Vorster is gebore en getoë in Bloemfontein en steeds trots tuis in die Rosestad. Sy is ’n gekwalifiseerde gevorderde beeldkonsultant en stilis, en het haar plek in die wêreld van styl en selfvertroue gevind deur haar eie unieke pad te volg.
Sy beskryf haarself as bevoorreg om tussen sterk, invloedryke vroue groot te word, vroue wat haar van kleins af geleer het dat selfversorging belangrik is, en dat dit wérklik saak maak hoe jy oor jouself voel. “Ek het nie met oorvloed grootgeword nie,” vertel sy eerlik. “Ek kon nie altyd in enige winkel instap en koop wat vir my mooi was nie; ek moes leer om kreatief te wees met wat ek gehad het.”
Daardie vaardigheid en aanpasbaarheid het haar geleer dat styl niks met geld te doen het nie, maar alles met visie en persoonlike waarde. Hierdie lewenslesse het ’n stewige fondament gebou vir hoe sy vandag leef, hoe sy haar onderneming bou, en hoe sy ander vroue én jong meisies inspireer.
“Ek het geweet ek wil iets doen waarop ek my naam met trots kan sit,” sê Teneil. “Ek en my man het oor verskillende besigheidsidees gesels, maar min het ek geweet dat ’n Instagram-blad wat ek dopgehou het, ’n kursus sou aanbied wat presies was waarna ek gesoek het.”
Haar belangstelling was onmiddellik geprikkel toe sy die inligting oor die kursus sien, maar sy het eers daaroor gebid. “Toe ek weer kyk, was die kursus teen ’n ongelooflike spesiale aanbod en vir my was dit ’n teken dat hierdie deur vir my oopgemaak word.”
Haar man was van die begin af net so opgewonde soos sy. Volgens haar het hy nog lank voor haar geweet dat dit ’n sukses sou wees. “En só het my pad met SA Image Academy begin,” sê sy met ’n glimlag. Vandag is sy die trotse eienaar van Re-Define Image ’n onderneming wat haar hart en roeping weerspieël.
Re-Define Image beteken vir haar drie dinge – persoonlik én professioneel: persoonlike groei, verandering in jou styl en voorkoms, en om ’n nuwe weergawe van jouself aan die wêreld te wys. Dit gaan oor positiewe hernuwing van jouself, van binne én buite.
Op haar Instagram-profiel staan “God created man in His own image”(Genesis 1:27), ’n vers wat sy as die kern van haar werk beskou.
“Hierdie Bybelvers is vir my so mooi en diep. Ek dink ons kyk dit soms mis, of vergeet daarvan. Maar watter voorreg is dit nie dat God ons hoog genoeg ag om ons na Sy eie beeld te skape? Ek voel ons moet dit vier. Ek glo as ons dit regtig verstaan, sal ons heeltemal anders na onsself kyk.”
Sy glo dat elke vrou met detail, uniek en perfek geskape is en dat dit gesien mag word. “God kyk na ons harte , dis die belangrikste – maar as die buitekant glad nie saak gemaak het nie, hoekom sou Hy ons dan skape na Sý beeld? Ek glo ons moet daardie uniekheid wys.”
Sy volg nie regtig modegier na nie. “Ek dra dit wat ek regtig mooi vind en waarin ek goed voel. Die selfvertroue wat mooi aantrek my gee, is wat my inspireer en natuurlik, noudat dit deel van my besigheid is, trek dit baie kliënte aan.”
Haar styl word selfs bemarkingsmateriaal. “Ek gebruik baie keer ’n kompliment wat ek ontvang en verander dit in bemarking. Ek sê sommer dadelik: ‘Dis deel van my werk’, en dan wil vroue onmiddellik meer weet!”
Haar drome vir die toekoms is groot. Sy sien haarself binne vyf jaar as een van die voorste image consultans in die Vrystaat, met aanvullende ondernemings wat hande vat met Re-Define. Sy werk daagliks daaraan en glo vas dat sy stap vir stap nader beweeg aan elke droom – al wil sy nog nie te veel verklap nie.
As sy een ding vir haar jonger self kon sê, sou dit wees: “Moet nooit dat iemand jou laat glo jy praat te veel nie. Daardie eienskap gaan jou nog baie help in jou toekoms en baie deure vir jou oopmaak.”
Teneil se eie styl weerspieël wie sy is: Tydloos. Romanties. Elegant. ’n Styl wat nie net haar uiterlike beklemtoon nie maar ook die hart en gees van die vrou daaragter.
BYLINE: SAZLY MOSES PHOTOGRAPHER: CLEMENT MATROOS

