HomePeoplePersonalitiesSplinternuwe treffer vir Kyle Grant

Splinternuwe treffer vir Kyle Grant

Om naam te maak as solo-kunstenaar nadat jy eers deel was van ’n bekroonde musiekgroep is beslis nie maklik nie. Maar dit is moontlik. Vra maar vir Kyle Grant van ADAM-faam.

Luister net na sy nuwe vrystelling, die kersballade “Grown-up Christmas List” wat tans op digitale platforms beskikbaar is.

Dié liedjie wat in 1990 oorsee uitgereik is, is ’n inspirerende gesprek met Kersvader, vanuit ’n volwassene se perspektief. Die liedjie, wat deur Muse Productions se Hugo Ludik opgeneem en vervaardig is, is die sanger se eerste solo-poging na die nuus dat ADAM gaan ontbind.

- Advertisement -

“Die snit bevat ’n lys van goeie wense vir die mensdom,” verduidelik Kyle.

“Ek het dit vir die eerste keer gehoor tydens ’n vakansie in die VSA toe ek ’n tiener was. Ek onthou hoe baie ek deur die boodskap geraak is, maar het dit nog nooit op plaaslike radiostasies gehoor speel nie.

Grant reken alle Suid-Afrikaners het die liedjie se boodskap nodig.

“Ek is ’n diep en sentimentele persoon, met baie empatie vir my medemens. Eerlikheid is vir my die belangrikste eienskap waaroor ’n sanger moet beskik. Ek glo dat jy selfs eers geïnspireer moet wees, voordat jy ander kan inspireer,” meen Kyle.

“Dit is vir my regtig belangrik dat plaaslike luisteraars hierdie lied moet hoor.”

“Grown-up Christmas List” is nie die kunstenaar se eerste solo-enkelsnit nie.

Hy het reeds op die ouderdom van 17 groot sukses behaal met ’n oorspronklike snit genaamd “I Want It To Be Me”. Hy het ook natuurlik ’n goue album en verskeie radio-treffers soos “Goud”, “Hoogtevrees”, “Sal Oorlog Vir Jou Maak”, “Sê My”, “Say What You Want”, “How”, “Vergifnis” en “Kalmeer” vrygestel as deel van ADAM.

Musiek is beslis in Kyle se bloed. “My ouers was albei professionele korporatiewe musikante en my ouma was ’n operasanger. Musiek is my waarheid en toevlug. Dit is al hoe ek myself werklik kan uitdruk,” sê hy.

Buiten vir die feit dat hy al vir 16 jaar in die musiekbedryf doenig is, is hy ook ’n suksesvolle verhoog- en televisieakteur. Hy het die hoofrol gespeel in die internasionale musiekproduksies, Dirty Dancing en High School Musical, asook in verskeie plaaslike verhoogstukke.

Op die kassie, het hy al rolle gehad in EgoliBackstage en Getroud Met Rugby, om maar net ’n paar te noem. Sy grootste loopbaanhoogtepunt sover, was egter toe hy ’n Suid-Afrikaanse Musiektoekenning (Sama) ontvang het.

Kyle put inspirasie uit ware verhale en alledaagse gebeurtenisse. “Mense is altyd op soek na iets wat met die siel praat om minder alleen te voel,” verduidelik hy en verklap dat hy graag ’n sielkundige of berader sou wou wees as hy nie kon sing nie.

“Ek is ’n stem-afrigter en spandeer die helfte van my lesse daaraan om na my studente te luister en hulle te ondersteun. Dis iets waarmee ek nog altyd goed was. Ek hou daarvan om ander te help en te lei waar ek kan,” vertel die sanger.

Alhoewel Kyle alle musiek-genres waardeer, en ’n gunsteling-kunstenaar op elke gebied het, meen hy dat Frank Sinatra, Boyz II Men, Sting, Ard Matthews en Chris Chameleon die grootste invloed gehad het op sy eie styl. Hy beplan ook om binnekort verskeie saamwerkprojekte aan te pak saam met van sy grootste rolmodelle.

Oor sy besluit om ’n solo-loopbaan na ADAM aan te pak, sê hy: “Deur al die hoogte- en laagtepunte van die ervaring, kon ek my ware self ontdek. Dit het my geleer wat ek wil en nie wil hê nie in die lewe.”

Laai nou Kyle se jongste treffer op Spotify en iTunes af.

Kyk hier na die musiekvideo:

- Advertisement -

Must Read